Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Ode aan ’n skoonma op Moedersdag

Hoekom, as daar reeds ’n Moedersdag en ’n Vadersdag is, is daar nie ’n dag vir skoonouers of ’n dag spesifiek vir enkelouers nie? vra Koos Kombuis.

Koos Kombuis

Sondag is Moedersdag, soos almal weet.

En dis ’n goeie ding dat ons ’n spesiale dag vir moeders opsy sit. Moeders moet ’n beskermde spesie wees. Ons moet moeders eer. Hulle is spesiaal.

Dis egter vir my moeilik om Moedersdag behoorlik te gedenk. Ek kan nie meer ’n kaartjie aan my eie ma stuur of haar bel nie, want sy is reeds in die hiernamaals.

En die ander vrou – Kytie – wat my grootgemaak het, het ek reeds met ’n liedjie vereer.

So wat doen ek dan vir Moedersdag 2021? Ek is moederloos.

Daar is niemand vir wie ek ’n ruiker of ’n WhatsApp-boodskap kan stuur of op wie se Facebook-muur ek mooi woordjies kan skryf nie.

Ek weet vir wie ek op hierdie Moedersdag ’n huldeblyk wil stuur.

Dit laat my wonder: Hoekom, as daar reeds ’n Moedersdag en ’n Vadersdag is, is daar nie ’n dag vir skoonouers, of ’n dag spesifiek vir enkelouers nie? Of wat van selfde-geslag-ouers?

Of raak dit nou te ingewikkeld?

Maar al hierdie gedagtes gee my ’n plan. Ek weet vir wie ek op hierdie Moedersdag ’n huldeblyk wil stuur. En ek wil dit deur hierdie rubriek doen.

Ek wil graag hulde aan my skoonma bring.

Vir my is Moedersdag 2021 nie Moedersdag nie, maar Skoonma-dag.

Ek het die coolste skoonma ter wêreld. So lyk sy:

Skets: Koos Kombuis

Dalk moet ek myself gelukkig ag dat ek so ’n wonderlike verhouding met my skoonouers het. My skoonpa het my geleer om goeie brandewyn te drink en hoe om meningsverskille op ’n goedgemanierde wyse te hanteer, veral oor goeters soos politiek.

Soos Paulus tereg gesê het (was dit Paulus?), “brandewyn bedek alles”. Of so iets . . .

En my skoonma? Hel, my skoonma is off the charts.

Ek onthou dat ek haar ontmoet het voordat ek my vrou ontmoet het, by ’n Skrywersgilde-vergadering jare gelede in Windhoek. Sy was ’n joviale dog statige dame met kort geknipte swart hare en ’n glasie wyn in die hand.

Dit is die wonderwerk van my skoonma: Ek kan nie onthou dat ek haar al ooit sonder ’n glasie wyn gesien het nie (altyd sauvignon blanc). Maar ek het haar ook nog nooit dronk of laf gesien nie. Sy bly altyd grasieus, in beheer van haarself, elegant soos ’n engel, ragfyn soos ’n gedig, sag soos ’n seepbel.

‘Jy is mos juffrou Verster se skoonseun?’

Moedersdag in die dae voor die Covid-19-pandemie: ’n Blommeverkoper in Japan maak in 2017 reg vir dié groot dag. Foto: Getty Images

My skoonma is famous ook. Voordat sy afgetree het, was sy ’n famous Afrikaanse onderwyseres in Namibië. Sy was ’n deskundige op die gebied van N.P. Van Wyk Louw en sy sal lank onthou word vir die “dans van Raka” wat sy sommerso in die klaskamer – met byna katastrofiese gevolge – gedoen het.

Wanneer mense my in Suid-Afrika herken, vra hulle my gewoonlik: “Is jy nie Koos Kombuis nie?”

Wanneer mense my in Namibië herken, sê hulle gewoonlik sonder aarseling: “Jy is mos juffrou Verster se skoonseun!”

So famous is sy.

Sy is legendaries. Iemand behoort ’n standbeeld van haar te maak. Of ’n skildery. My ou sketsie laat nie werklik reg aan haar geskied nie. Ek het gesukkel om haar grasie vas te vang.

Ek kan nie in een pensketsie aandui met watter rustige ritme sy beweeg wanneer sy die tafel vir ons dek nie. Ek kan nie met my pen die innerlike vrede vasvang wat sy uitstraal nie.

Want, inderdaad: Marlene Verster straal ’n innerlike vrede uit.

Sy het ook ’n sagte en deernisvolle humorsin, en sien dikwels die snaakse in ’n situasie raak op ’n manier waarop ander mense dit nie kan doen nie.

Tog: Ek het haar nog nooit iets venynigs van iemand hoor sê nie. As daar iemand is wat eendag reguit hemel toe sal gaan, is dit sy. Dit sal nie vir Petrus nodig wees om haar sondes te weeg nie. Sy het soveel goeie eienskappe dat dit onnodig is om haar sondes ook nog te weeg.

Dis amper ’n outomatiese gegewe dat getroudes nooit goed met hul skoonouers oor die weg kom nie. Maar in ons familie bestaan hierdie strydpunt nie.

En sy kan avontuurlustig wees.

Ek onthou dat sy jare lank bang was vir vliegtuie. En toe, op ’n dag, oorwin sy haar vrees en klim op ’n vliegtuig. Dit was vir haar so lekker dat sy nie wou ophou vlieg nie. Skielik het sy die wêreld vol gerits. Ek onthou nou nog die dag toe my vrou spesiaal gevra het om vir haar te google hoe ’n mens “ ’n glas droë witwyn” in Turks sê sodat sy darem in ’n restaurant op Istanbul se lughawe geholpe kon raak.

Ek is bly en bevoorreg dat ek, in my lewe, en ná al die onbesonne dinge wat ek in my jeug aangevang het, die genade ontvang het om nie net met ’n vrou te trou wat my waarlik ondersteun en gelukkig maak nie, maar dat ek ook dubbeld geseën met my skoonouers is.

Ek weet van baie huwelike waar mense nie hierdie voorreg ervaar nie. Hoekom is daar dan so baie “skoonma-grappies”?

Dis amper ’n outomatiese gegewe dat getroudes nooit goed met hul skoonouers oor die weg kom nie. Maar in ons familie bestaan hierdie strydpunt nie.

Toe ek my vrou ontmoet het, was daar baie mense wat nie ons verhouding ’n kans wou gee nie. Want ek was so duidelik nie goeie “trou-materiaal” nie. Laat ek dit maar erken: Ek was ’n hooligan

Maar mev. Verster het ons so gekyk, en aan die hele wêreld verklaar, sommer in Engels: “This is a match made in heaven!”

Ek sê mos: Ek het beslis die coolste skoonma in die hele wêreld!

Daarom, Marlene Verster, eer ek jou hierdie naweek op Moedersdag 2021.

Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Vadersdag  |  Moedersdag  |  Skoonma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.