Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Ons gaan nog terugverlang na vlak 4!

Hy vermoed daar gaan dae kom, moeilike dae, wanneer ons sal verlang na die tye toe sommige van ons nog onder die illusie verkeer het dat drank en sigarette ons enigste dilemma is, skryf Koos Kombuis.

Koos Kombuis

Ek was, soos seker alle Suid-Afrikaners, geweldig verlig toe pres. Cyril Ramaphosa verlede Sondag aankondig dat die hele land op 1 Junie na vlak 3 van die inperking beweeg.

Hoe hard baie van ons ook al probeer het om alles te verstaan en onsself te motiveer, was die vlak 4-inperking besig om sy tol te eis.

Dit was nie net die uitsiglose dae en die eensaamheid nie. O, en dit was nie slegs die geslote drankwinkels nie (hoewel laasgenoemde feit vir my persoonlik, met my reeds feitlik leë drankkabinet, ’n voortdurende bron van angs was).

Terloops: Ek weet nie hoeveel keer ek al in die afgelope paar weke my sterre gedank het dat ek jare gelede reeds opgehou rook het nie. En, hoe onregverdig die verbod op sigarette ook al mag wees, is daar iets ironies daaraan om ewe skielik in ’n land te woon waar tabak ’n swakker reputasie as marijuana en kannabis-verwante produkte het!

Goeiste, hoe het die tye verander.

Maar laat ons ’n oomblik ernstig wees. Die fokus gaan nou begin verskuif. Waar die meeste van ons tot nou toe net oor die wrede feit van die inperking en die invloed daarvan op ons persoonlike vryhede gepla was, gaan mense, soos die winter voortsleep en die infeksiesyfer styg, al meer bewus word van die vordering van die siekte self.

Ek vermoed daar gaan dae kom, moeilike dae, wanneer ons gaan verlang na die tye toe sommige van ons nog onder die illusie verkeer het dat drank en sigarette ons enigste dilemma is.

Covid-19, die plaag van 2020, was tot nou toe ’n statistiek waarvan ons elke dag op ons fone van die aantal infeksies gelees het. Dit het slegs ’n klein persentasie van ons direk geraak. Ons was so bewus van die irritasies van die inperking dat ons soms vergeet het hóékom ons ingeperk word.

Ek vermoed daar gaan dae kom, moeilike dae, wanneer ons gaan verlang na die tye toe sommige van ons nog onder die illusie verkeer het dat drank en sigarette ons enigste dilemma is. Ons gaan hunker na ’n eenvoudiger lewe voordat ons bewus geword het van die ware omvang van ons gesondheidskrisis; ’n fase in ons lewens toe ons, juis as gevolg van die sukses van sosiale distansiëring, nog in ’n groot mate teen die skrikwekkende enormiteit en die skaal van die pandemie beskerm was.

Al meer mense se vriende of familielede sal positief toets en selfs sterf. Die werklike skade wat die koronavirus aanrig, sal ’n meer dringende deel van ons alledaagse ervaring word, iets wat ons toenemend eerstehands gaan sien en hoor en voel.

Ek hoop dat almal dan sal besef hoe nodig die aanvanklike streng inperking tog was. So in die middel van Maart, as julle kan onthou, het die aantal nuwe infeksies elke twee en ’n halwe dae verdubbel. As die pandemie nie toe tot ’n ramp verklaar was nie, sou daar nou al baie meer as 100 000 bevestigde gevalle gewees het wat ons mediese fasiliteite heeltemal sou oorrompel het.

Wat het van al die ‘yuppies’ geword?

Maar ja, ons sit wel met die brokstukke van ’n sukkelende en verpletterde ekonomie. Vir vele mense het vlak 3 te laat aangebreek. Die skade is reeds gedoen. Talle ondernemings is reeds gesluit, nie net tydelik nie, maar vir altyd.

En so ontstaan daar meteens ’n verrassende nuwe ekonomiese konsep, ’n gonswoord wat selde voorheen gehoor is: Die bestaan van ’n groeiende klas mense wat as die nouveau poor bekend staan.

The Onion het reeds in 2009 ’n satire hieroor geplaas, ’n skertsery wat werklik snaaks sou gewees het as dit nie so hartseer was nie.


Toe die ekonomie nog op koers was – wanneer laas was ons ekonomie werklik op koers? – is gereeld, dikwels smalenderwys, van die sogenaamde nouveau rich gepraat.

Deesdae het daardie klas feitlik uitgesterf. (“Where have all the yuppies gone?” sou dalk ’n gepaste liriek vir ’n opstuur-liedjie kon wees. Hou hierdie ruimte dop!)

Die armes was natuurlik nog altyd met ons. Maar nou is daar vir die eerste keer groot getalle mense vir wie armoede ’n nuwe ervaring is. Ek self ervaar dit, soos baie ander mense, in ’n mindere mate.

In plaas daarvan om pakkies vuuraanstekers te koop, maak ek deesdae ou gebruikte droë teesakkies bymekaar in ’n fles en gooi ’n paar druppels paraffien oor. Ek tel hoeveel koppies koffie ek per dag drink, want koffie is ewe skielik ’n luukse.

’n Mens kan jouself troos deur te sê dat sulke ervarings deel van karakterbou is. Maar wie wil dit hoor?

Dit klink alles onbenullig, maar dis deel van hierdie nuwe fenomeen, die feit dat ons as Suid-Afrikaners, ryk en arm, almal deur die bank skielik met minder as voorheen moet probeer klaarkom.

’n Mens kan jouself troos deur te sê dat sulke ervarings deel van karakterbou is. Maar wie wil dit hoor?

Ek kon nog skerts oor karakterbou toe ek nog bekommerd oor my uitgedunde drankkabinet was.

Maar “karakterbou” is die laaste ding waaraan ’n mens wil dink wanneer jy dalk binnekort langs die graf moet staan van ’n geliefde wat aan die virus gesterf het.

Tog. Daar is ten minste ’n deel van vlak 4 waaraan ek altyd met vreugde sal terugdink: Daardie vroegoggend-wandelinge tussen ses en nege was een van die beste dinge wat nog met my gebeur het. Dit was verstommend hoeveel spangees daardie oefensessies oral oor ons land gebou het.

Die tyd tussen 06:00 en 09:00 bedags het tydens vlak 4 van die inperking nuwe betekenis gekry. Foto: Koos Kombuis

O, ek weet, ek weet, dit was ’n vertrapping van kinders en fietse en honde en mense, en ek weet sosiale distansiëring is nie altyd gehandhaaf nie, maar dit was ’n deel van elke dag waarna ek regtig uitgesien het. Dit was die een aktiwiteit wat my krag gegee het om daardie vervelige, alkohol-lose feitlik bankrot bestaan in die oë te kyk en weer hoop vir die lewe te kry.

Dit gaan nou afskaal, want binnekort sal mense kan oefen soos voorheen, en die feit dat ons tussen ses en nege op straat kan wees, gaan nie meer soos ’n wonderlike voorreg voel nie.

Maar, gewis: hierdie vroeg opstaan en gaan stap, is ’n gewoonte waarmee ek tydens vlak 3 wil voortgaan. Al is dit net vir myself. En natuurlik my hond.

Ryk of arm, siek of gesond, ons gaan hierdie goeie herinneringe en positiewe gedagtes nodig hê om ons te dra deur die grootste deel van die krisis wat nog voorlê.

* Koos Kombuis se jongste boek, Sushi with Hitler, het pas by Naledi verskyn. SMS “Sushi” na 48423 om jou eksemplaar te bestel. (’n SMS kos R1,50.)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.