Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Ons het nou weer ’n FW de Klerk nodig

Net soos in 1982 voor die skeuring in die geledere van die Nasionale Party, is daar vandag een persoon wat ’n verskil kan maak in ’n land wat onder faksiegevegte in die ANC ly, skryf Koos Kombuis.

Die perfekte storm . . . Skets: Koos Kombuis

Roelf Meyer, ’n voormalige Kodesa-onderhandelaar, het onlangs in ’n onderhoud gesê dat die situasie in Suid-Afrika vandag hom aan die tyd voor 1994 herinner.

“Mense was toe net so moedeloos, maar oplossings hét gekom. Ons kan die land omdraai. Ons kan die ekonomie omdraai.”

Dit is ’n Bybelse aksioom dat daar niks nuuts onder die son is nie. En hoe uniek die toestand wat vandag in Suid-Afrika heers ook al mag lyk, ja, inderdaad, ons was al in die verlede ook op die plek waar ons nou is. Meer as een keer.

Ek dink die ANC bevind hom vandag in dieselfde posisie as die Nasionale Party (NP) net voor 1982, toe dr. Andries Treurnicht weggebreek het om die Konserwatiewe Party (KP) te stig.

In die aanloop tot die geskiedkundige gebeure van 1982 was die destydse NP, soos die ANC vandag, verskeur tussen twee opponerende faksies of denkrigtings.

Dieselfde skeuring in Afrikaner-geledere oorheers tot vandag die debatte in en om ons volk.

Soos met die ANC vandag, was die twee faksies van die NP gewortel in die geskiedenis. Dit was nie twee faksies wat oornag ontwikkel het nie. Die aanloop tot die broedertwis in Afrikanerdom was toe al so oud soos die storie van Noag se ark.

Terloops, dieselfde skeuring in Afrikaner-geledere oorheers tot vandag die debatte in en om ons volk; kyk maar na die onverbiddelike, wedersyds byna onversoenbare standpunte van die FAK en AfriForum aan die een kant en post-liberale verligtes (ekself, Bouwer Bosch en ander) aan die ander kant.

Hoe belangrik ons bekgevegte ook al mag lyk vir ons wat daarna kyk uit die perspektief van die volk, is dit egter ’n paradoks – en, bygesê, ’n paradoks wat ’n mens ietwat mismoedig stem – dat die huidige skeuring in Afrikanerdom in vergelyking met wat gebeur in die res van die politieke landskap hoogstens ’n klein stroomversnelling naby die oewer van ’n breër vloeiende rivier is.

’n Rivier wat op die punt is om sy walle te oorstroom en ’n vloedramp kan ontketen wat die ondergang van Suid-Afrika tot gevolg kan hê.

Wat onder ons eie mense gebeur, het geen invloed op die veel groter krisis wat hom afspeel in die ANC nie.

ANC se ‘perfekte storm’

Oudpres. FW de Klerk saam met Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, en oudpres. Nelson Mandela. Foto: Argief

Ná byna ’n kwarteeu aan bewind, het die regerende party sy eie “perfekte storm” teëgekom. Die onweerswolke wat al jare, nee, dekades lank saampak op die horison, het nou gegroei tot ’n kataklismiese ontploffing van ongekende aggressie.

Wat die omvang van die krisis net so uniek as in 1982 maak, is die verstommende werklikheid dat ons hier te doen het, nie met vele opponerende standpunte nie, maar slegs twee groeperinge.

Soos in 1982, lê die verdelingslyne van die heersende party tussen twee wêreldbeskouings wat eenvoudig nie langer kan saamleef onder die vaandel van een organisasie nie. (Vir ’n baie akkurate beskrywing van presies wie teen wie baklei, lees gerus die twee onlangse rubrieke deur Gert Coetzee en Pieter Mulder.)

Twee olifantbulle staan teenoor mekaar in ’n oopte in die oerwoud. Hulle maak gereed vir ’n geveg tot die dood toe. Die prys wat die wenner wil opeis? Niks minder nie as die siel van die ANC.

Hulle is basies slegs patetiese karikature van die vryheidsvegters van ouds, wat bereid was om hul lewens te gee vir dit waarin hulle geglo het.

Dit gaan hier om die dekades oue spanning tussen aan die een kant die voorstanders van nierassigheid soos omskryf in die Vryheidsmanifes en aan die ander kant die Afrikaniste van die vryheidstryd.

Nie dat die plunder-faksie onder leiding van Ace Magashule netjies pas in die paradigma van Afrikanisme nie. Dis meer asof hulle besluit het om Afrikanisme aan te trek soos ’n kunsleerbaadjie om hul eie korrupte praktyke te verbloem en die kiesers te verwar. Die eerlikheid en erns van denkers soos Steve Biko ontbreek.

Vir dié van ons wat verby die vals baadjies kan sien, staan Zuma en sy trawante nakend. Hulle is basies slegs patetiese karikature van die vryheidsvegters van ouds, wat bereid was om hul lewens te gee vir dit waarin hulle geglo het.

Dis dalk die begin van die einde van die ANC soos ons hom ken. Net soos 1982 die begin van die einde van die NP was.

Daar is iemand wat ’n verskil kan maak

Pres. Cyril Ramaphosa kan ’n verskil aan Suid-Afrika se toekoms maak. Foto: Argief

Net soos in 1982 is daar egter een persoon wat vandag ’n verskil kan maak.

En, net soos in 1982, sal dit behendige voetwerk en ’n uiters uitgeslape taktiese spel vereis.

Die ANC gaan skeur. Ons weet nie presies hoe dit gaan gebeur nie. Gaan een faksie die ander ’n uitklophou gee? Gaan ’n groep beswaardes wegbreek en hul eie party stig?

Presies hoe die bom gaan bars, en waar die skrapnel gaan val, kan niemand voorspel nie.

Maar, om Snotkop aan te haal, een ding is seker: HKGK (“Hier Kom Groot K*k”).

Dit is Cyril Ramaphosa wat vandag die verskil kan maak. Maar hy gaan Salomo se wysheid nodig hê om sy vyande te uitoorlê.

Selfs as die Konserwatiewe Party sou Treurnicht-hulle eindelik 40% van die N.P. se steun wegrokkel om die amptelike opposisie te word.

Destyds, in 1982, was dit die jong FW de Klerk, toe inderdaad nog nie staatspresident van Suid-Afrika maar die Transvaalse leier van die NP, wat die verskil gemaak het deur sekere keuses wat Suid-Afrika in ’n nuwe rigting gestuur het.

Deur vinnig sy steun te gee aan die hervormingsinisiatiewe van PW Botha – helaas nie groot hervorminge nie, want die Rubicon van magsdeling sou De Klerk self eers later oorsteek – het hy die Treurnicht-faksie geneutraliseer en gesorg dat die “verligtes” voortbestaan onder die bestaande vaandel van die “Nasionale Party”.

Treurnicht-hulle moes vir hulself ’n nuwe naam uitdink: die “Konserwatiewe Party”.

Dit het ’n groot verskil gemaak.

Selfs as die Konserwatiewe Party sou Treurnicht-hulle eindelik 40% van die N.P. se steun wegrokkel om die amptelike opposisie te word.

So hittete – as dit nie vir De Klerk was nie – het Treurnicht en sy span voortbestaan as die “Nasionale Party”, en sou die hervormingsgerigte politici soos Pik Botha moes wegbreek en ’n ander party stig met ’n nuwe naam.

Sou hulle dan nog steeds in die saal bly? Sou die kiesers nog vir hulle stem?

Koos Kombuis

Die kanse sou goed gewees dat, onder sulke omstandighede, Treurnicht die volgende staatshoof van Suid-Afrika sou word. Ons sou onsself op ’n ander trajek bevind het. Die verlede, hede en toekoms van Suid-Afrika sou radikaal anders lyk as vandag.

Net so is dit noodsaaklik dat, indien daar ’n politieke skeuring in die ANC kom – en in hierdie stadium lyk dit onafwendbaar – dat Ramaphosa, Pravin Gordhan en hul vennote daarin slaag om as die ANC voort te bestaan.

Dit is al kans wat hulle het om by die stembus te oorleef.

Breek hulle weg as ’n verligte faksie, en keer hulle hul rûe op die ANC-tradisies van soveel jaar, sal hulle gereduseer word tot net nog ’n opposisieparty.

Selfs al soek hulle ’n heenkome by die DA, sal só ’n hergroepering waarskynlik maar ’n morsige affêre wees . . . Die strydbyle is uit, die lyne is in die sand getrek. Wie gaan wen, staat of party? Pragmatiste of ideoloë?

Die uiteinde van hierdie oorlog sal bepaal of Suid-Afrika ’n geslaagde of mislukte staat sal word.

Ek hoop van harte Roelf Meyer se optimisme is nie misplaas nie.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kp  |  Anc  |  Np  |  Jacob Zuma  |  Roelf Meyer  |  Fw De Klerk  |  Cyril Ramaphosa  |  Faksiegevegte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.