Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Ons kan ten minste nog hoop . . .
Koos Kombuis

Soos die meeste Suid-Afrikaners, is hy al so vuisvoos van teleurstelling en walging dat hy eenvoudig nie meer die energie oor het om te glo dat ons werklik aan die begin van ’n nuwe era staan nie, skryf Koos Kombuis.

Ek wou hierdie rubriek aanvanklik “Die Uur van die Idiote” noem, na aanleiding van die bekende kortverhaalbundel van Abraham de Vries met dieselfde titel.

Dit was my plan om ’n striemende aanval op die ANC se beleidsfoute en sotterny te doen in so ’n rubriek.

’n Vinnige Google-soektog het my laat besef dat Jo Prins my reeds verlede jaar voorgespring het met ’n rubriek met dieselfde opskrif.

In sy rubriek takel Prins ook die sotterny van politici en aktiviste. En hy doen dit beter as wat ek dit ooit kan doen.

Gelukkig het ek darem nog my illustrasie gereed wat ek wou gebruik. Vir my beeld hierdie prentjie die idiotiese geskiedenis van die ANC en hul rampspoedige gang deur die geskiedenis uit.

’n Mens kan amper nie laer daal as dit nie. ’n Amptenaar onder die wolk van korrupsie wat beloon word met ’n top-pos.

’n Mens kan amper nie laer daal as dit nie. ’n Amptenaar onder die wolk van korrupsie wat beloon word met ’n top-pos.

Sy is sedertdien uit haar pos verwyder. En pres. Cyril Ramaphosa het intussen belowe om werk te maak van die stryd teen korrupsie.

Gaan die uur van die idiote uiteindelik tot ’n einde kom? Is daar genoeg “goeie” mense in die regerende party oor om hierdie eens magtige bevrydingsbeweging tot sy sinne te bring en hom terug te ruk van die afgrond van selfvernietiging?

Miskien moet ek liewer van politiek wegbly in hierdie rubriek. Dieselfde sentimente wat ek vandag voel – dieselfde mengsel van ontnugtering, hoop en sinisme – is deur tientalle ander meningsvormers uitgespreek in vele Suid-Afrikaanse publikasies die afgelope paar weke.

Soos die meeste van hulle, is ek te bang om ’n voorspelling te waag. Soos die meeste Suid-Afrikaners, is ek teen hierdie tyd al so vuisvoos van teleurstelling en walging dat ek eenvoudig nie meer die energie oor het om te glo dat ons werklik aan die begin van ’n nuwe era staan nie.

Partykeer moet ’n mens net wegkom van al die gewroeg en die verbittering.

Skets: Koos Kombuis

Die leë nes

Verlede week het ek en my vrou vir die eerste keer in meer as vyf maande gaan uiteet. Ek het my voorgeneem om ’n hele aand lank nie aan die politiek te dink nie.

Dit was nie in ’n vreeslike swanky restaurant nie. Ons het nie baie wyn gedrink nie. Ons het nie geld gehad om ’n groot fooitjie te los nie.

Daarvoor is ons, soos al te veel van ons mede-Suid-Afrikaners, te erg uitgemergel deur die gekombineerde invloed van die pandemie, die staat van inperking en die verbrokkeling van die ekonomie.

Maar ek wou graag die beste van die aand maak. Nie alleen was dit ons eerste uiteet in ’n baie lang tyd nie, dit was ook ’n simboliese uiteet aan die begin van ’n baie unieke fase in ons huwelik.

Vanaf volgende jaar, wanneer my seun terugkeer universiteit toe en my dogter klaar is met matriek en, as alles volgens plan verloop, op haar “gap-jaar” vertrek, betree ek en my lewensmaat vir die eerste keer in ons huwelik daardie era wat bekend staan as die sogenaamde empty nest-jare.

Ons gaan vir die eerste keer sedert ons wittebrood en die eerste jaar van getroude lewe weer alleen wees bymekaar.

’n Boeing 737-400 van FlySafair. Foto: FlySafair

Die struggle van kinders grootmaak is eindelik verby.

Laat ons dit nou maar erken: Hoe lekker dit ook al was om kinders groot te maak, ja, dit was ’n struggle.

Ons was dalk nie die perfekte ouers nie – wie is? – maar ek is dankbaar dat ons kinders min of meer oukei uitgedraai het en ek is vol vertroue dat hulle emosioneel en geestelik toegerus sal wees vir die grootmenslewens wat op hulle wag.

In die proses van ouer word, gaan hulle ook voor moeilike keuses te staan kom. Hulle gaan agterkom dat die volwasse lewe vol slaggate is.

Hulle gaan ook ontdek dat die wêreld sy kwota idiote het. Dat ’n mens nie almal wat jou pad kruis, kan vertrou nie. Dat daar selfs vir jong mense met die beste bedoelings soms ’n teleurstelling of twee wag.

Die beste waarvoor ’n jongmens vandag kan hoop, is ’n lewe wat so goed as moontlik geleef word onder die omstandighede; nie ’n perfekte gelukkige einde of ’n absoluut onbevlekte toekoms nie.

Net so sou ek tevrede wees met ’n Suid-Afrika wat net min of meer werk.

’n Boeing 737-400 van FlySafair. Foto: FlySafair

Daar is nie iets soos ’n ideale staat nie

Om terug te keer na die politiek. Al slaag die stryd teen korrupsie nou, sal dit nooit ten volle slaag nie. Korrupsie sal altyd met ons wees. ’n Mens kan maar net hoop dat dit nooit weer sal terugkeer na die vlakke van die Zuma-jare nie.

’n Idilliese of utopiese toekoms vir ons land is te veel gevra. Ek sal nie my geld daarop sit nie.

Ek dink baie Amerikaners wat nou so fel teen Donald Trump protesteer – en dis nodig dat hulle dit doen, want Donald Trump is ’n hopeloos onbevoegde president – besef dat die verwydering van Trump nie sal beteken die VSA gaan skielik ’n perfekte plek wees om in te lewe nie.

Met Donald Trump uit die weg geruim, gaan hulle maar weer sit met dieselfde skynheilige liberale narratief wat nog altyd daar was. Die sistemiese rassisme gaan nie oornag verdwyn nie. Daar is dalk politici wat beter is as Donald Trump, maar politici bly maar politici.

Daar is nie iets soos ’n ideale staat nie.

Dit sal ook nooit in Mzansi gebeur nie.

Maar, om saam te vat, ek sal tevrede en heeltemal gelukkig wees met ’n paar dinge.

Ek soek ten minste die groot belhamels van die korrupsie-era in die tronk. In die besonder oudpres. Jacob Zuma.

Ek soek ten minste die groot belhamels van die korrupsie-era in die tronk. In die besonder oudpres. Jacob Zuma.

Ek wil ten minste hê dat die sotterny om ons nasionale lugredery te probeer red met nuttelose mond-tot-mond-asemhaling nou asseblief moet einde kry.

Ons het reeds ’n lugredery wat puik genoeg is om die vaandel te dra. Daar is ’n rede hoekom die Bokke eerder van FlySafair gebruik gemaak het vir plaaslike vervoer.

Hulle is verreweg ons bes bestuurde maatskappy, en een van die enigstes wat nog uitbrei.

Ek sal heeltemal oukei wees om soms nog beurtkrag te verduur, solank ek weet daar word gewerk aan ander energiebronne ook.

As die ergste deel van die nagmerrie verby is – en ons weet nog nie of dit is nie – kan ons ten minste hoop op ’n toekoms wat min of meer sin maak. ’n Regering wat nie heeltemal hopeloos is nie. Munisipaliteite wat minstens een uit elke derde slaggat regmaak so nou en dan.

Teen hierdie tyd is ons al te dikwels in die steek gelaat om op beter vooruitsigte te vertrou.

Maar ons kan darem nog hoop . . .

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Korrupsie  |  Staatskaping  |  Beurtkrag  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.