Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Ons verlore dekade

Politici het die land in ’n gemors laat beland die afgelope dekade. Is dit te laat vir Suid-Afrikaners om weer op te staan? vra Koos Kombuis.

Koos Kombuis

’n Aantal jare gelede het daar ’n jong werklose man aan ons voordeur geklop om te vra vir hulp.

Daar was iets aan hierdie mens wat my medelye aangewakker het.

Hy was sterk op sy voete, het fier gestaan en my reguit in die oë gekyk. Sy naam is Wellington, het hy gesê, en hy sal enigiets doen as iemand net vir hom die geleentheid gee om te wys wat in hom steek.

Ons het nie iemand nodig gehad om in die tuin of in ons huis te werk nie, maar ek en my vrou het uit ons pad uit gegaan om Wellington gevestig te kry in ’n klein maatskappytjie wat hier en daar los werkies in en om mense se huise gedoen het.

Wellington het van die begin af met sy werkgewer en die ander werkers vasgesit en ná die eerste dag heeltemal weggebly.

Wanneer gaan jy verantwoordelikheid aanvaar vir jouself, Wellington? Wanneer gaan jy ophou jok en leeglê?

Toe Wellington weke later weer by my voordeur aanklop vir bedelgeld, het ek hom betig en hom herinner daaraan dat hy nie die hand van hulp wat ek hom aangebied het, wou vat nie. Dat hy, omdat hy gedros het uit ’n belowende posisie, nou terug op straat was waar hy van voordeur tot voordeur geloop het met dieselfde sêd storie.

Daarna was hy ’n hele paar keer by ons om te vra vir geldjies. Ek het hom nie weer probeer help nie.

Wellington kon skaars onthou dat ek ooit vir hom werk georganiseer het. Sy aand- en môrepraatjies het nooit ooreengestem nie. Geleidelik het dit tot my deurgedring dat hy ’n gewoonteleuenaar is.

Ek onthou my laaste gesprek met hom nou nog.

“Wanneer gaan jy verantwoordelikheid aanvaar vir jouself, Wellington? Wanneer gaan jy ophou jok en leeglê? Waarom beplan jy nie vir die toekoms nie? Hoe sien jy jouself oor tien jaar?”

Dit was die laaste sien van Wellington.

Tot verlede week.

Wankelend op die afgrond van anargie

Tien jaar later. Skets: Koos Kombuis

Ek het hom skaars herken toe hy weer by ons voordeur opdaag.

Hy was ’n skaduwee van die man wat ek laas gesien het. Gehawend, met ingesonke oë, maer en uitgeteerde gelaatstrekke en verslonsde stukkende ou klere wat soos sakke aan hom hang.

(Wellington, tien jaar later.)

Ek het na hom gekyk. Toe het ek die voordeur toegemaak. Ek kon niks voel nie. Nie hartseer nie. Nie eens woede nie. Die sinneloosheid, die onnodigheid van hierdie hele situasie was te enorm om te verwerk.

Daar is deesdae baie praatjies in die Suid-Afrikaanse politiek oor die sogenaamde “nege verlore jare” van die Zuma-bewind. Waarom mense nie hieroor kan saamstem nie, is natuurlik ’n raaisel, want die feit dat Zuma ons land agteruit bestuur het, behoort tog vir alle Suid-Afrikaners duidelik en voor die hand liggend te wees.

In die nege jaar – byna ’n dekade – dat Jacob Zuma ons verkose leier was, het Suid-Afrika afgesak in ’n donker put van werkloosheid, diensleweringsprobleme, verwaarloosde infrastruktuur, geweld en polarisasie. Soveel so dat ons nou wankel op die onherroeplike afgrond van totale anargie.

Daar is sprake daarvan dat Cyril Ramaphosa ons wil regruk. En tekens van lewe is daar inderdaad. Die konsensus is egter dat dit ’n lang en moeilike paadjie gaan wees na herstel. Die geweldige skade wat gedoen is vanaf meer as tien jaar gelede tot vandag toe sal nie maklik ongedaan gemaak kan word nie.

Dit laat my ’n bietjie dink aan die “Facebook Ten Years’ Challenge” wat die afgelope paar weke so gewild was op sosiale media.

Natuurlik is daar samesweringsteorieë oor wat Facebook beoog het met hierdie foefie, maar hoe dit ook al sy, dit was nogal verslawend om te kyk na al die kiekies wat mense plaas van hulself tien jaar gelede en van hoe hulle nou lyk. Baie min mense lyk nou beter as tien jaar gelede. Die meeste het hare verloor, plooie bygekry, gewig aangesit en lyk minder optimisties en lewenskragtig as hul ou selwe van ’n dekade gelede.

Dis natuurlik onwaarskynlik dat my eksvriend Wellington ooit aan die “Ten Years’ Challenge” sal deelneem. Hy het in die eerste plek nie ’n rekenaar of ’n slimfoon nie. En al het hy gehad, sal hy self sekerlik ook nie gelukkig voel met hoe hy nou daar uitsien in vergelyking met 2009 nie.

Op ’n manier is Wellington se ingesonke gesig vir my ’n beeld van Suid-Afrika vandag: die armoede, die hopeloosheid, die ellende van ’n nasie wat sy rigting verloor het en teen ’n stink spoed onderweg is na ’n toekoms wat te erg is om eens oor te dink.

Maar sy gesig laat my ook dink aan al die verkeerde keuses en besluite wat geneem is deur die leiers van ons land. Die korrupsie, die leuens, die kortpaaie, die totale gebrek aan verantwoordelikheidsin, moraliteit en doodgewone “kommin sense”.

Hierdie werklikheid van totale verval kon verhoed gewees het as politici tien jaar gelede bereid was om hul moue op te rol en iets positiefs te doen.

Ek kan Wellington nie help nie, want hy het sy eie bed opgemaak, of verloor, en hy moet slaap waar hy ook al slaap. Hy leef in ’n toekoms wat verhoed kon word. Deur homself.

Want tien jaar gelede het hy gedink dis makliker om rond te loop en om gunste te vra as om die bul by die horings te pak en die eerlike werk dag tot dag te verrig wat hom aangebied is.

Net so is dit nie nodig dat Suid-Afrika vandag so daar uitsien soos wat nou wel die geval is nie. Hierdie werklikheid van totale verval kon verhoed gewees het as politici tien jaar gelede bereid was om hul moue op te rol en iets positiefs te doen.

Is dit nou te laat om op te staan uit die gemors?

Vir Wellington dalk, ja.

Maar het ons nog ’n kans?

Dit hang op die ou end van onsself af – en van die leiers wat ons kollektief gaan aanstel om vir ons te werk.

Dit is immers verkiesingsjaar . . .

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Rubriekskrywers se menings is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Oos-Kaap Naweek  |  Verkiesing  |  Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.