Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Oor nuwe wette en ou vlae

Kan versoening afgedwing word deur dit verpligtend te maak? wonder Koos Kombuis in ’n tyd waarin van wette teen rassisme gepraat word.

Koos Kombuis

Moet daar ’n wet teen rassisme wees?

Gaan dit in die toekoms ’n misdaad wees om die ou Suid-Afrikaanse vlag in die openbaar te vertoon?

Hierdie is vrae wat tans uit verskillende oorde en in verskillende kontekste in ons openbare debat geopper word.

Dat daar partye is wat dit nodig vind om hulle vir sulke wette te beywer, is geen goeie getuigskrif vir ons land meer as 20 jaar ná demokrasie nie. Was ons nie veronderstel om oor die rasseding te kom nie?

Dit is inderdaad onbegryplik hoekom daar nog mense is wat hulle in hierdie tyd en dae nog aan die pleeg van hierdie en soortgelyke veragtelike dade skuldig maak.

Nogtans voel ek ongemaklik oor die beoogde nuwe wette.

Rassisme is nog ’n groot en wye en diepgewortelde issue in ons land, en ek is nie seker of die skep van nog wetgewing mense werklik minder rassisties gaan maak as wat hulle reeds is nie. Kan versoening afgedwing word deur dit verpligtend te maak?

Kan naasteliefde afgedwing word op groeperinge wat in hul wese haatdraend is? Gaan sulke wette nie nóg meer haat aanwakker nie? Gaan dit nie martelaars of selfs “helde” maak van mense wat sulke wette oortree nie? Is dit die soort martelaars wat ons nou nodig het?

Nelson Mandela was teen rassisme. Hy het rassisme beveg, nie deur dit onwettig te probeer maak nie, maar deur nie-rassisime soos ’n aantrekliker keuse te laat lyk. Hy het dit gedoen deur sy voorbeeld en sy persoonlike charisma.

Onder sy leiding, en as gevolg van sy uitreiking na alle Suid-Afrikaners, het baie mense van verskillende kulture in die laat 90’s al meer positief oor die toekoms begin voel. Ons was reg vir ’n meer geïntegreerde samelewing.

Dit het in daardie stadium werklik gelyk asof Suid-Afrika op pad is na die soort land waar mense geleidelik kan begin vergeet van rassisme; nie slegs van rassisme nie, maar selfs van rasse-klassifikasie. Die soort plek waar mense nie eens meer aan ras dink nie.

En nou ’n wet teen rassisme ook nog? Hoe definieer jy dit? Hoe pas jy dit toe?

Toe kom regstellende aksie. Dit was veronderstel om ’n tydelike reëling te wees.

Op die ou end sit ons met ’n land waar mense as gevolg van die regering se beheptheid met kwotas méér oor die kwessie van ras wroeg as ooit tevore.

En nou ’n wet teen rassisme ook nog? Hoe definieer jy dit? Hoe pas jy dit toe?

Soos regstellende aksie, lyk ’n wet teen rassisme op die oog af na die regte ding. Dit klink logies. Dit lyk goed op papier. (Daar was, terloops, ’n stadium toe apartheid ook op papier goed gelyk het.)

Om bloot ’n mening te hê en dit uit te spreek behoort tog nooit ’n misdaad op sigself te wees nie.

Neem ’n ekstreme voorbeeld: Steve Hofmeyr se gewraakte twiet: “Blacks were the architects of apartheid.”

Dis ’n kwetsende en beledigende twiet. As gevolg van daardie twiet is daar plaaslike kunstenaars wat weier om ’n verhoog met Steve te deel. En dis hul goeie reg, want jy kan assosieer met wie jy wil of nie.

Volgens die huidige wette is die twiet egter nie tegnies rassisties nie. Die k-woord is nie gebruik nie. Dis ook nie ’n direkte aanhitsing tot geweld of selfs haat nie. Dis bloot ’n ekstreme mening.

Skets: Koos Kombuis

Ek weet, party menings wat mense het, is rêrig stupid.

Is dit ’n misdaad om te sê die aarde is plat?

Natuurlik nie.

In ons moderne samelewing bestaan daar ’n breë konsensus dat die aarde nie plat is nie.

Sou daar nuwe, meer omvattende wette teen rassisme kom, kan dit dalk komediante of satiriese kunstenaars aan bande lê? Beide ek en Anton Goosen het jare gelede die k-woord gebruik in liedjies. Dit was natuurlik ironies bedoel, as ’n statement teen rassisme, nie daarvoor nie.

Dit sou ’n opperste ironie wees as ek, hy en Steve nou almal saam in ’n tronksel beland!

As jy ’n verbod op alle omstrede menings plaas, smoor jy die debat in die kiem nog voordat dit eens begin het.

In ’n ware vrye samelewing floreer debatte en meningsverskille. Mense is gewoond daaraan om sonder vrees hul sê te sê.

Dit was nog altyd een van my geheime ideale om eendag met ’n denker soos Jordan Peterson – iemand wat ek respekteer, al stem ek nie altyd met hom saam nie – in ’n debat te tree oor sy omstrede sienings van byvoorbeeld etniese intelligensie. Ek sal dit nie kan doen as sy menings nie eens in Suid-Afrika gehoor mag word nie.

As jy ’n verbod op alle omstrede menings plaas, smoor jy die debat in die kiem nog voordat dit eens begin het.

In plek van ’n samelewing waar mense met mekaar kan gesels sonder vrees vir vervolging, skep jy ’n samelewing waar slegs ’n benoude en paranoïese gefluister geduld word.

’n Strenger wet teen rassisme gaan mense meer bewus maak van ras, en nie minder nie. Dit kan die goeie werk en lewe van mense soos Madiba finaal ongedaan maak.

Daar is reeds wette teen haatspraak en crimen injuria.

Om vlae te verbied is nie noodwendig ’n oplossing nie.

Wat die ou Suid-Afrikaanse vlag betref: Ja, daar is miljoene mense wat daardie embleem assosieer met wrede onderdrukking. Net so is daar baie mense wat die vlag van die nuwe Suid-Afrika assosieer met korrupsie en misdaad.

Om vlae te verbied is nie noodwendig ’n oplossing nie.

In plaas van meer en nuwe wette te skep wat al hoe meer van ons persoonlike vryhede onderdruk, sou dit nie beter wees as die wette wat reeds bestaan, beter toegepas word nie?

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.