Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Op soek na die siel van Kaapstad

Hy het Kaapstad onlangs herontdek en nou voel dit vir Koos Kombuis asof hy weer gebore is: In ’n nuwe land, met ’n nuwe taal, ’n nuwe toekoms, en nuwe hoop.

Die nuwe gesig van Distrik Ses? Foto: Koos Kombuis

Onlangs het ek weer die 1951-publikasie Grow Lovely, Growing Old deur Lawrence G. Green te siene gekry.

As kind het ek dikwels hierdie boek, met sy ouwêreldse omslag, langs my ouma se leunstoel by die sonvenster gesien lê.

Hierdie selfde boek was deel van ’n kosbare vrag ou boeke wat aan my nagelaat is met die afsterwe van ’n geliefde tante. Ek het nou vir die eerste maal die geleentheid gekry om dit van hoek tot kant deur te lees.

Grow Lovely, Growing Old lees soos ’n roman, al is dit een van die eerste dokumentêre vertellings oor die geskiedenis van Kaapstad. ’n Mens is van die eerste hoofstukke geboei:

“The busy lower end of the Heerengracht certainly made an unfavourable impression on newcomers, for the odours of a beach littered with garbage mingled with the smells of the shambles.”

En nog meer:

“Not until the early last century did the main street become anything of a shopping centre. Booksellers were among the pioneer shopkeepers. By 1830 there were ten shops, and the smart people were still having their wigs made by Lodewyk, corner of Shortmarket and Heerengracht . . . ”

Goeiste!

Kaapstad was nog altyd ’n ietwat aweregse, eksentrieke plek, en daardie karakter peul nou weer uit op allerlei nuwe maniere.

Kaapstad was toe nog ’n dorp waar almal mekaar geken het. Hoe wonderlik moes dit gewees het om rond te loop in daardie strate!

Met die eeue het hierdie ou stad nie sy sjarme verloor nie. Ná die verwoesting van apartheid en die twyfelagtige skepping van die moderne Waterfront – seker ook ’n aanwins, hoewel dit ongelukkig nooit my gunsteling deel van die stad sal wees nie – is daar nou weer besig om allerhande interessante dinge te gebeur.

Kaapstad was nog altyd ’n ietwat aweregse, eksentrieke plek, en daardie karakter peul nou weer uit op allerlei nuwe maniere.

’n Mens hoef maar net te gaan snuffel op die webwerf https://secretcapetown.co.za/ om ’n idee te kry van die nuwe stadskultuur wat besig is om gestalte te kry.

Ek en my gesin het onlangs ’n paar dae geneem om eerstehands hierdie ou-nuwe Kaapstad te gaan ruik, proe en ervaar. En wat ’n ontdekkingstog was dit nie!

Land vol funky plekke

Koos Kombuis

Een van die positiewe dinge wat gebeur het onder die DA-beheerde metro – en dit sou dalk selfs nog beter gewees het as Patricia de Lille meer dikwels haar sin gekry het – was die herlewing van ’n lewendige, veilige en inklusiewe straatkultuur in die middestad, veral in die omgewing van Langstraat.

En in die onderste hoekie van Distrik Ses, waar ons al jare lank bekend was met die Fugard-teater en die Dias Tavern, het ’n swetterjoel funky nuwe plekke die afgelope paar jaar hul deure oopgemaak, van die nou reeds legendariese Charly’s Bakery – ’n bemarkingskonsep wat wêreldwyd aandag trek! – tot nuwerwetse eetplekkies soos Lekker Vegan, Belly of the Beast, Ramen Asian Restaurant, en New York Bagels.

’n Mens kan koffie drink in die Kamili- of Bootlegger-koffiekroeë en interessante drankies gaan proe in Surfarosa, Lefty’s of die Harringtons Cocktail Lounge.

Miskien die opwindendste van al hierdie kleurryke en lewendige plekkies is ’n kruidenierswarewinkel met ’n verskil, Nude Foods. In Nude Foods, wat heeltemal plastiekvry is, kan jy die mees ongelooflike produkte koop van eetbare seep tot gemaalde grondboontjiebotter uit ’n kraantjie (onthou om jou eie houers saam te neem).

Hierdie nuwe mini-besienswaardighede van die Kaap is wêrelde verwyder van die groot glasgeboue en winkelsentrums van ander stede. In gees is dit nader aan die ou Rockeystraat van Yeoville, destyds een van die eerste plekke in die ou Suid-Afrika waar wit en swart openlik gemeng het.

Om die waarheid te sê, baie Suid-Afrikaanse plattelandse dorpe het deesdae ten minste een straat vol funky winkeltjies – van Cullinan tot Dullstroom, en om nie te praat van Parys (Vrystaat) nie!

As ’n mens sulke plekkies uitsnuffel, besef jy hoe lewendig die toeristebedryf in Suid-Afrika is en kan word, en jy verstaan hoekom selfs prins Harry (is hy nog ’n prins?) amper in ons land kom bly het.

Volmaan oor die stad en Stef se boek

Om weer wakker te word in die Bo-Kaap . . . Foto: Koos Kombuis

Ek en my gesin het ure lank rondgeloop, geëet en gedrink na hartelus in die strate van ou Kaapstad. Vir die nag het ons oorgebly in ’n pragtige huis in die Bo-Kaap.

My vriend Stef Bos en sy gesin het ingeloer vir ’n koffie – dit was slegs koffie, want die huis het aan Moslems behoort het en ons is voor die tyd vriendelik versoek om nie alkohol op die perseel te gebruik nie.

Hy het vir my sy jongste boek gebring. Vanaf die voorstoep het ons daardie aand ’n volmaan sien opkom oor die stad.

Die volgende oggend het ek wakker geword met Stef se digbundel, Ruimte, langs my op die kopkussing, en die volgende gedig gelees:

Ben jij schip

Word ik anker

Ben jij verte

Word ik hier

Ben jij mij

Word ik een ander

Ben jij alles

Word ik niets . . .

En toe weet ek:

Jare gelede is ek hier in Kaapstad gebore. En nou voel dit vir my asof ek weer gebore is. In ’n nuwe land, met ’n nuwe taal, ’n nuwe toekoms, en nuwe hoop.

Dis hier waar ek wil oud word. Dis hier waar ek wil woon tot in lengte van dae. Want, wat die ANC ook al doen, solank daar plekke bestaan soos Kaapstad, plekke met ’n siel en goeie mense en lewensvatbare idees en outentieke skoonheid, sal ek voel dat Mzansi my veilige hawe is, my tuiste – die enigste streek in die hele aarde waar ek waarlik mens voel.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Distrik Ses  |  Kaapstad  |  Bo-Kaap  |  Parys  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.