Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Oros-mannetjies van die onderwêreld

Koos Kombuis bespiegel oor die misteries en paradokse van die berugte Gupta-broers.

Dié betoger by die ambassade van die Verenigde Arabiese Emirate in Pretoria het van die min foto’s van die Guptas gebruik om dié plakkaat te maak. Foto: Deaan Vivier

Wie is die Guptas?

Wat weet ons werklik van hulle af?

Ons weet wie Jacob Zuma is. Hy is vir eers weggebêre in die tronk, Goddank, en daardie nare hoofstuk is afgesluit.

Daardie Groot Bedrieër is agter tralies.

Vir ’n dekade lank was Zuma ons Grootste Vrees, Ons Gehate Vyand, ons Nemesis.

Hulle praat nou van die Nege Vermorste Jare.

Maar soos ons teen dié tyd almal weet, is Die Nagmerrie nog nie verby nie. Nie terwyl die Guptas nog sit en sjampanje drink in Dubai nie.

Dis dalk hoekom dit so moeilik is om die Guptas te laat uitlewer. Hulle het diep sakke. Hulle het waarskynlik meer geld as almal in die hele Dubai saam.

Toe ek nou die dag aan hulle dink, toe is ek skielik lus om ’n prentjie van hulle te teken. Maar eers moes ek hulle Google om te kyk hoe lyk hulle nou weer, want ek het hulle lanklaas gesien.

Toe ek nou eers begin dink oor wie en wat die Guptas is, was ek verstom oor hoe min inligting ek oor hulle het.

Ek het geweet hulle is broers, al is ek nie seker of daar twee van hulle is of meer nie.

Ek weet hulle het in Saxonwold gewoon, is dit in ’n huis of ’n sjebien? Het iemand al ooit daar binne gaan loer wat daar aangaan behalwe die ANC-politici?

Ek weet hulle kom van Indië af.

Ek het niks teen Indiërs nie.

Al kom die Delta-virus ook van Indië af.

Dis moeilik om te besluit wie’s die ergste.

In die Daily Maverick kry ek ’n tabel wat aandui presies hoeveel geld die Gupta-broers glo deur die jare van Suid-Afrika gesteel het en deur hoeveel geldwassery-skemas en fronte hulle dit na bewering uitgesmokkel het tot in hul geheime bankrekeninge iewers in Switserland of waar ook al. Dit is miljarde.

Met al daardie geld sou hulle Eskom se skuld kon delg met een enkele betaling in ’n bruin koevert (’n moerse groot koevert, natuurlik), al die stukkende malls herbou wat vernietig is in die onlangse onluste, die SAL uit-bail, die nuwe gesondheidsversekering sponsor al is dit gedoem om anyway te misluk, nog ’n paar miljoen dosisse entstof koop, Malusi Gigaba se hele klerekas vervang, die useless poskantore almal oorbou en omskep in luukse gastehuise, al ons stukkende rioolstelsels regmaak, en dan sal daar nog sommer baie geld oorbly.

Dis dalk hoekom dit so moeilik is om die Guptas te laat uitlewer. Hulle het diep sakke. Hulle het waarskynlik meer geld as almal in die hele Dubai saam.

F*k! Hulle kan die hele Dubai koop as hulle wil!

Baie klein visuele voetspoor

Koos Kombuis

Maar anyway. Terug na die prentjie wat ek van die Guptas wou teken.

Toe ek hulle nou eers Google, was ek in vir nog ’n moerse surprise.

Dit is absoluut verstommend hoe min kiekies ons al geneem het van die Guptas.

Omtrent net ses of sewe.

Vir mense wat so helse famous is, wat soveel jare lank die hoofopskrifte gehaal het in al wat koerant was, is hulle visuele footprint ongelooflik klein.

Van daardie ses of sewe foto’s van die Guptas wat nou al jare lank die ronde doen, is die meeste by dieselfde geleentheid geneem.

Daar is gewoonlik slegs twee van die broers op elke foto. Dis moeilik om te sê, want hulle lyk almal dieselfde. Hulle het sulke vriendelike, ronde gesiggies. Op die tafel voor hulle lê daar soms ’n botteltjie mineraalwater op sy kant. Hulle dra oopgeknoopte sportbaadjies, pastelgekleurde ligblou kraaghemde soos gholfspelers wat gaan uiteet, en hulle lag altyd baie selftevrede.

“Lag” is nie heeltemal die regte woord nie.

Hulle grinnik. (By the way, ek sou ook so gegrinnik het as ek miljarde in die bank gehad het.)

Ek kan my voorstel hoe daardie gegrinnik klink.

As die foto’s ’n soundtrack gehad het, sou hulle geklink het soos Beavis en Butthead. Stout, ondeund, ietwat infantiel, en bo alles, selfvoldaan.

Om eerlik te wees, en ek kan dit nie genoeg benadruk nie, hulle lyk nie soos die Groot Kroeks wat almal sê hulle is nie.

Twee van die Gupta-broers. Skets: Koos Kombuis

Hulle lyk meer soos Oros-mannetjies.

Die Oros-mannetjies van die onderwêreld.

Die een ding wat ek nie verstaan nie, is dat soveel mense hulle so goed geken het en aanhoudend vir hulle gaan kuier het – omtrent die hele kabinet – en tog het amper niemand ooit gepose vir ’n photo shoot saam met die broers nie?

Daar is foto’s van die Guptas saam met ander mense – onder andere Jacob Zuma self – maar dis meestal effens uit fokus uit.

En wat van daai moerse troue in Sun City? Bestaan daar nie iets soos ’n amptelike (of selfs nie-amptelike) troualbum nie? Het niemand foto’s geneem van die seremoniemeester wat jokes vertel en van die gaste wat “Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se Hoenderhaan” sing (in Indies, natuurlik) terwyl al die Gupta-gesinslede breed en gestoeld by die lang tafel langs die bruidspaar sit nie?

Of het hulle weggekruip agter die blommerangskikkings?

Ek moet erken, dit is alles een groot misterie.

Hulle lyk totaal skadeloos. Hulle is pure onskuld.

Kyk, soos ek reeds gesê het, Jacob Zuma was ’n bekende faktor. Met sy wrede laggie en sy onpeilbare, emosielose oë het hy altyd gelyk na iemand wat jou opweeg sodat hy jou beursie kan pickpocket.

Tog: mense wat Zuma persoonlik ken, sê almal hy loop oor van die sjarme.

Selfs Helen Zille het gedink hy kom oor as ’n “warm, menslike” persoon!

I don’t get it, but I suppose you had to be there.

Nie al hierdie ouens kom oor as “warm en menslik” nie, daarvan is ek darem seker.

Beslis nie Ace Magashule nie. Nie met daai geheimsinnige shades nie.

Een ding is seker, as Ace nooit in die politiek ingegaan het nie, sou hy maklik ’n rol in Hollywood kon losslaan as een van Al Capone se handlangers in ’n Mafia-movie.

Om die waarheid te sê, die meeste ANC-ministers kom nie eintlik oor as die soort mense by wie jy ’n tweedehandse kar sou wou koop nie.

Sluit hulle toe!

Betogers by die ambassade van die Verenigde Arabiese Emirate in Pretoria het nie hul gevoelens oor die Gupta-broers weggesteek nie. Foto: Deaan Vivier

Maar die Gupta-broers?

No way. Hulle lyk totaal skadeloos. Hulle is pure onskuld.

Hulle is hoogstens ’n bietjie ondeund. Amper soos Trompie en die Boksombende.

’n Mens wil na hulle kyk en sê “stout, maar nie lelik stout nie”.

Maar hel. Die feite weerspreek dit.

As wat die media beweer waar is, het hierdie twee (of drie, of vier) broers Suid-Afrika so rot en kaal geplunder dat ons nou op die afgrond sit sonder ’n enkele munisipaliteit of staatsinstansie wat nog werk, met ’n lugredery wat nooit weer sal vlieg nie, met hospitale waar mense lê en doodgaan in beddens of in wagkamers terwyl rotte om hul voete skarrel!

Trap hulle tjank af. Genoeg is genoeg. Finish en klaar.

As die aantygings waar is, het hulle ons land gesteel! Ons hele land! En toe weggehardloop met die tjek in hul gatsak! En kyk waar sit ons nou met die gemors!

Hel! Ons moet hierdie outjies vang!

Ons moet hulle terugbring!

Ons moet hulle van naderby beskou . . . Sien hoe lyk hulle rêrig! Ons moet ons geld terugvat!

En dan, wanneer ons hulle verhoor het en hulle gevonnis het en hulle eindelik in oranje oorpakke en met kortgeknipte hare sit, moet ons hulle toesluit! Vir altyd! Sonder parool!

Trap hulle tjank af. Genoeg is genoeg. Finish en klaar.

Dis tyd om daai skalkse glimlaggies van hulle gesiggies af te vee.

Of wat praat ek alles?

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Helen Zille  |  Jacob Zuma  |  Gupta-Broers  |  Saxonwold  |  Dubai  |  Indië  |  Korrupsie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.