Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Red die ANC van sy skisofrenie

Vandag se ANC, so lyk dit vir ons as objektiewe buitestanders, is nóg die regering nóg die heersende politieke party. Wat is hy dan? vra Koos Kombuis.

Dis skisofreniese ANC. Foto-manipulasie: Koos Kombuis

Wie of wat is die ANC vandag?

Hulle is nie meer ’n bevrydingsorganisasie nie. In die middel van die 1990’s het hulle verander van ’n bevrydingsbeweging na ’n politieke party.

Maar hulle is ook nie meer ’n politieke party nie. Sedert die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika is hulle in die saal en aan die stuur van sake.

Die ANC is, in effek, en vir alle praktiese doeleindes, die regering.

Of is hulle?

Die afgelope 15 jaar tree ’n beduidende groep van die ANC al hoe minder op soos ’n regering en al hoe meer soos ’n misdaadsindikaat.

Teoreties, en ook in praktiese terme, is dit onmoontlik om ’n bevrydingsbeweging en ’n misdaadsindikaat tegelyk te wees.

Hier is ’n groot verwarring van konsepte en definisies.

Al is hulle die regering van ons land, staan hulle nog steeds in diens van ’n reeks idees en doelwitte wat hulle steeds sien as dieselfde idees en doelwitte wat hulle gehad het toe hulle nog ’n bevrydingsbeweging was.

Hier lê die knoop. Vandag se ANC, so lyk dit vir ons as objektiewe buitestanders, is nóg die regering nóg die heersende politieke party.

Wat is hulle?

Is hulle ’n misdaadsindikaat wat voorgee om ’n bevrydingsorganisasie te wees?

In ’n onlangse rubriek verwys Tim du Plessis ietwat sinies na wat hy noem “die skisofreniese binnewerke van die ANC”.

Dit blyk ’n eufemisme te wees. Teoreties, en ook in praktiese terme, is dit onmoontlik om ’n bevrydingsbeweging en ’n misdaadsindikaat tegelyk te wees. Enige organisasie wat sou probeer om tegelykertyd op hierdie twee stoele te sit, sou steier onder ’n aantal onversoenbare paradokse.

Robin Hood en sy ‘Jolige Kêrels’

Robin Hood (met die rooi hoofbedeksel en mantel) en twee van sy ‘Jolige Kêrels’ tart ’n priester in dié afbeelding. Foto: Getty Images

So ver ek kan onthou was daar, in die geskiedenis – en ek is nie doodseker of dit ware geskiedenis of ’n mite is nie – slegs een suksesvolle voorbeeld van ’n misdaadsindikaat wat tegelyk ook ’n bevrydingsbeweging was: Robin Hood en sy jolige kêrels, wat, as ek nou die details reg onthou, in die woude van Nottingham rondgehardloop het in die tyd van koning Richard die Leeuehart van Engeland.

Robin Hood en sy “Jolige Kêrels (“Merry Men”; ook soms na verwys as “the men in tights”) was, volgens oorlewering, ’n klein klompie dapper vegters wat in ’n reeks strooptogte geld en voorrade gesteel het van die rykes en dit dan uitgedeel het aan die armes.

Die meriete hiervan is ietwat wasig. ’n Mens kan seker sê hulle was die eerste voorbeeld van ’n soort van sosialistiese aktivisme.

Daar is natuurlik minstens twee verskille tussen die Jolige Kêrels van destyds en die ANC vandag.

Verskil nommer een: Die ANC steel nie net van die rykes nie, maar van almal.

Verskil nommer twee: Die ANC deel nie die rykdom wat hulle buit met die armes nie, maar hou dit vir hulself.

As hulle iets uitdeel, is dit hoogstens aalmoese in die vorm van bitterlike klein en onvoldoende maandelikse toelae.

Die ANC word gekenmerk deur gebrek aan deursigtigheid, venyn, broedertwis, faksievorming en patologiese verdeeldheid.

Daar is ook ’n derde verskil: die Jolige Kêrels was jolig. Die ANC is allesbehalwe jolig.

In die ANC werk dit anders: daar is ’n geweldige komplekse hiërargie.

Waar Robin Hood en sy manne in die tyd van koning Richard klaarblyklik goed met mekaar oor die weg gekom het, word die ANC gekenmerk deur gebrek aan deursigtigheid, venyn, broedertwis, faksievorming en patologiese verdeeldheid.

In kort: ons weet nie presies wat die ANC is nie, hetsy die regering, ’n politieke party, ’n koalisie, ’n bevrydingsbeweging, ’n kultus, ’n reeks misdaadsindikate, wat nog, wat nog . . .

Ons weet slegs een ding: die ANC is skisofrenies.

Jy het die spyker op sy kop geslaan, Tim.

Verward, onvanpas en bisar

Koos Kombuis

Die ANC se skisofrenie is baie slegte nuus vir Suid-Afrika.

Dis nie ’n skisofrenie wat genees kan word deur goeie voornemens of hervorminge of deur herhaalde pleidooie vir “eenheid” nie. Dis ’n skisofrenie wat in wese sistemies is. Dis die skisofrenie van ’n groep mense wat tegelykertyd verskillende onversoenbare ideale nastreef.

’n Mens kan amper sê dat die ANC soos iemand is wat meer as een persoonlikheid het, hoewel skisofrenie natuurlik nie dieselfde as multi-persoonlikheid-sindroom is nie.

Daar is wel by die tipiese skisofreen sprake van ’n “afsplitsing” van die basiese persoonlikheid in fasette wat nie met mekaar in vrede kan saamleef nie.

Om skisofrenies te wees, is om in jou diepste wese vervreemd te wees, nie net van ander nie, maar ook van jouself. Dis ’n psigose wat sy slagoffer dwing om ’n masker te dra en dikwels weet die skisofreen self nie watter faset van homself die masker is en watter faset sy ware persoonlikheid is nie.

Skisofrenie is ’n bitter ernstige vorm van sosiale wanaangepastheid. Dit is byna so erg – en soms erger – as die wanaangepastheid van ’n sosiopaat. Sosiopate ervaar relatief min angs. ’n Sosiopaat weet min of meer wat hy wil hê en hy gee nie om hoe hy dit kry nie.

Die emosies en besluitnemingsprosesse van ’n tipiese skisofreen is uiters verward, onvanpas en bisar.

As die ANC eenvoudig net nog ’n misdaadsindikaat was, finish en klaar, was dinge dalk makliker vir hulle – en ook vir ons. Ons sou presies geweet het waar ons met hulle staan. Dan was die ANC soos ’n sosiopaat.

Omdat die ANC egter ’n misdaadsindikaat probeer wees onder die mantel van ’n bevrydingsbeweging, terwyl hulle eintlik ’n regering is wat vergeet het dat hulle ooit ’n politieke party was (of koalisie van party en vakbonde, wat ook al) – is hulle totaal chaoties en onpeilbaar, nie net vir ons aan die buitekant nie, maar ook vir hulself.

Daar word dikwels van skisofrene gesê dat hulle op hul eie planeet leef.

Dis net ’n kwessie van tyd voor die innerlike verdeeldheid gaan realiseer tot ’n uiterlike verdeeldheid. Die ANC gaan uitmekaar skeur.

As ’n mens kyk na die ANC van vandag, kry jy die indruk van ’n groep mense wat bestaan in ’n borrel, in ’n aparte heelal, ’n afgeslote werklikheid met sy eie reëls (of gebrek aan reëls) wat absoluut geen sin maak vir die res van ons nie.

Dit is eenvoudig onmoontlik vir die mense binne-in hierdie borrel om veel langer voor te gee dat hulle funksioneer as ’n eenheid. Die verbrokkeling is te diep. Dis net ’n kwessie van tyd voor die innerlike verdeeldheid gaan realiseer tot ’n uiterlike verdeeldheid.

Die ANC gaan uitmekaar skeur.

Hulle het reeds.

Mag die proses gouer voltrek word as later.

Amper enigiets is beter vir ons land as onderdanigheid aan die ANC se verwarde en onrealistiese selfdelusies en kollektiewe waansin.

Ons as Suid-Afrikaanse burgers verdien iets beter as so ’n konkoksie.

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Koos Kombuis  |  Cyril Ramaphosa  |  Robin Hood  |  Anc  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.