Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Sal ek gly of (in donker) bly?

Hy wil regtig nie die land verlaat nie. Nou hoekom het hy nog nie sy naam op #ImStaying se lys geplaas nie? vra Koos Kombuis in dié rubriek wat hy te midde van beurtkrag met pen op papier geskryf het.

Koos Kombuis

Ek het vanaand (Maandag) opsy gesit om my rubriek vir Netwerk24 vir die week te tik.

Ek beplan ’n baie positiewe en optimistiese rubriek wat handel oor die #ImStaying-beweging wat in September op Facebook gestig is met die doel om Suid-Afrikaners aan te spoor om nie te emigreer nie en eerder hier te bly en saam te werk om ’n verskil te maak.

Vir diegene wat graag wil aansluit by die #ImStaying-beweging hier is die internet-adres: Oeps . . . Ek kan nie nou Google nie, want die @!?X@! krag is weer af. (Ek het vergeet, dis mos hoekom ek met die hand skryf, want daar is beurtkrag en my @X!?X computer werk nie.)

In elk geval. Wat ek eintlik wou sê, is dat daar lanklaas in Suid-Afrika so ’n vlaag van ware nasietrots en patriotisme was soos juis nou nie.

Dit het al begin nog voor die Bokke se roemryke sege in die eindstryd in Japan.

Mense is moeg daarvan om altyd net te kla en die skuld op die regering te pak. Hulle is gretig om self die moue op te rol en die land te help red.

Ek dink vanaand terug aan ’n kabaret van wat Etienne van Heerden jare gelede geskryf het getiteld “Onder ekstreme provokasie”.

Dit is destyds opgevoer in die Breughel-teater in Stellenbosch.

Op die hoogtepunt van die kabaret kyk die hoofkarakters diep in mekaar se oë en sing: “Kan ’n Boeing ons na ander seisoene dra?”

Verlede week lees ek Willie Esterhuyse se nuwe boek, Oorlog en Vrede (Naledi). Met die lees van die boek besef ’n mens dat die probleme in die wêreld geensins beperk is tot Suid-Afrika nie. Daar is eintlik nêrens om heen te vlug nie!

Kan ’n Boeing ons na ander seisoene dra?

Ja, ek stem saam met die mense van #ImStaying. Ek wil regtig nie die land verlaat nie. Besides, ek is moeg getravel. Daar is al genoeg stickers op kitaar-kys!

Daar is al genoeg stickers op my kitaar-kys. Foto: Koos Kombuis

Waarom bly ons positief?

Nou hoekom het ek nog nie my naam op #ImStaying se lys geplaas nie?

Hier’s die ding wat my pla. Die besluit om te bly of te gly berus nie net by my nie. Ek het ook ’n gesin om aan te dink. Wat doen ek oor ’n paar jaar van nou af as een van my kinders in die middel van die nag akute blindedermontsteking kry, en ek kry nêrens ’n hospitaal wat my kind effektief kan behandel nie? Ek kan nie dan my moue oprol en self die operasie uitvoer nie!

Sekere dinge is buite ’n mens se beheer. Gestel daar is wel ’n hospitaal waarheen ek my siek kind kan neem. Maar dis kort ná aandete en ek het al ’n glasie wyn gedrink.

Op pad hospitaal toe vang hulle my omdat ek meer as 0% alkohol in my bloed het. In plaas daarvan dat ek my kind by ’n dokter kan kry, spandeer ek die naweek in die selle!

Die gedagte is genoeg om my te dryf na nog ’n glas wyn!!!

As ek reg onthou, beloop Eskom se totale skuld nou al by die R400 miljard. Die regering kan dit nie betaal nie. Hulle kan skaars die werknemers by die SAL se salaris betaal. Nou vra ek jou met trane in my oë, waar op dees aarde gaan hulle die ongeveer R400 miljard in die hande kry wat die nasionale gesondheidsversekering gaan kos? Dis absurd!

’n Mens maak nie nog skuld as jy nie jou bestaande skuld kan betaal nie.

Maar nou ja. Ten spyte hiervan sal ons positief bly oor Suid-Afrika. Want ons het sulke wonderlike mense. Ons het vir Faf de Klerk. Ons het vir Trevor Noah (hy woon oorsee, maar kom gereeld kuier.) Ons het die Ndlovu-jeugkoor.

Net jammer nie een van hierdie mense kan die slaggate in ons paaie regmaak nie. Net jammer hulle kan nie seker maak ons belastinggeld word reg aangewend nie (ek is ’n bietjie bekommerd oor die Lotto-geld ook.)

Net jammer hulle keer nie dat die metropolisie mense rondpluk of wederregtelik mishandel nie. Net jammer . . . waar was ek laas?

Net ’n oomblik, daar roep my vrou my vir aandete. Ons eet vanaand baie romanties by kerslig! Ek kan nie wag nie . . .

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  #Imstaying  |  Faf De Klerk  |  Etienne Van Heerden  |  Trevor Noah  |  Koos Kombuis  |  Facebook  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.