SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis se geskenk aan alle tannies

Koos Kombuis het besluit om een van sy ou seksistiese liedjies te verander omdat hy iets moes doen om ’n voorbeeld te stel in ’n tyd waarin seksuele teistering al hoe meer aan die groot klok gehang word.

Koos en sy gunstelingtannie, Melanie van der Linde.

Waarvoor sal die jaar 2017 onthou word?

Wel, vir baie dinge.

2017 sal onthou word vir Donald Trump. 2017 sal onthou word vir Kim Jong-oen. 2017 sal onthou word vir die onttroning van Jacob Zuma as president van die ANC. 2017 sal onthou word vir die val van die Springbok-rugbyspan . . .

O, daar was baie dinge waarvoor 2017 onthou sal word.

Sekerlik een van die grootste gebeurtenisse van 2017 was die ongeëwenaarde hoeveelheid vroue oor die hele wêreld wat vir die eerste keer die moed gehad het om na vore te kom en alles te vertel oor hulle ervarings met seksuele teistering.

Is daar iewers ’n man wat nié skuldig is aan die een of ander wandaad teen vroue nie? Selfs die beste van ons het iewers ’n geraamte in die kas.

Ek het in die loop van 2017, nog voor die #MeToo-veldtog begin het, besluit ek moet iets doen om ’n voorbeeld te stel.

Om te sing “ek haat sommige ou tannies” is nie net seksisties nie. Dis ook aanmatigend.

Baie van my ou liedjies is geweldig seksisties.

Ek kan nie al die albums met platvloerse nuanses van die mark onttrek nie. Daar sou niks oorbly nie! Maar ek het besluit om my heel ergste liedjie – “Sommige ou tannie-blues” – nooit weer op die verhoog te sing nie.

Om te sing “ek haat sommige ou tannies” is nie net seksisties nie. Dis ook aanmatigend. Ek is, after all, deesdae ’n “ou omie”, soos Dowwe Dolla my in een van haar bytende satires herinner het!

Daarom het ek ’n nuwe liedjie geskryf. Ek wil graag die lirieke hier plaas.

“Die alle ou tannies-blues” is nog steeds sardonies en hier en daar bevat dit kritiek teen irriterende dinge wat party “ou tannies” doen – maar die kritiek is nie meer so brutaal en absoluut vulgêr soos die vorige weergawe van hierdie tune nie. (Hoe sê die skrywer van die Trompie-boeke? “Stout, maar nie lelik stout nie.”)

Dit is, onder meer, geïnspireer deur ’n rubriek van Marida Fitzpatrick

Illustrasie deur Koos Kombuis.

DIE “ALLE OU TANNIES-BLUES”

Deur Koos Kombuis

Ek love alle ou tannies

Want ou tannies hang rond vir kwaadgeld

In onderdorpse keffies

Al kraaiend en kekkelend

Soos free range-hoenders

Wat jumbo-eiers vir die Kwikspar lê

Terwyl hulle kaaskoek met room verorber

(Kaaskoek lite

Want hulle is mos almal op dieselfde dieet

Wie sou dit ooit kon raai het?)

Want die anties hou mos van antioksidante

Dit pas so mooi by hulle fake diamante

Mens lees daarvan in al die koerante

Daarom jaag hulle orals rond teen 20 km per uur

Om betyds te wees

Vir die lesing oor die nuutste wonderkuur

Dis gesonder as Tim Noakes

Dis beter as Botox

Hulle kry hulle kicks

Met appeltert vir die detox

Terwyl hulle mans by die huis

Rondlê in sweetpakbroeke met sokkies en Crocs

Ek love alle ou tannies!

Ek love alle ou tannies

In die ou tyd was tannies

Geklee in groot shapeless rokke

Met hare getooi met haarnaalde en gare

Nou gaan hulle mos gym toe

In hoëhakskoene en leotards!

Hulle Twitter op Facebook!

Hulle ken al die popliedjies!

En as hulle oorsee toer

Post hulle Instagram-kiekies

En status updates en video clips

En sound bites van quickies

By die Eiffel-toring

Of wherever hulle kan pose vir nog selfies!

Maar dis oukei

Want ek love alle ou tannies

Ek love alle ou tannies

Maar partykeer is ek hartseer

Want mens kry nie meer REGTE ou tannies nie

Ou tannies wat stink na laventel

Wat hekel en brei en deeg knie en drentel

Langs die leiwatersloot tussen pers Krismisrose

Ja, ou tannies met flesse vol ingelegde appelkose

En rakke vol blikke met kerkbasaarkoekies

Ek mis OUTYDSE ou tannies Met hulle soen-soen-mondjies

En voorskote met prente van harte en goedjies

Ek mis regte ou tannies

Ek mis OUTYDSE ou tannies

Met hulle soen-soen-mondjies

En hulle useless klein hondjies

En hulle potte vol skaapvleis en geelrys

En soetpatats en skorsies

En hulle beloofde erfporsies

Maar f*k dit!

Ek love ALLE ou tannies!

Hierdie liedjie is my Nuwejaarsgeskenk aan die vroue van Suid-Afrika.

N.S: Hoewel die liedjie nie opgeneem is nie, gaan ek dit van nou af by elke konsert sing. Enigiemand wat daarvan ’n video clip wil neem, is welkom om dit te plaas op die internet, kosteloos. (Ek sal nie tantième vra nie.)

* Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe is op ander planete.

Meer oor:  Marida Fitzpatrick  |  Koos Kombuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.