Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Skep ons ons eie diktatuur?

Leef ons vandag werklik in die eeu van die individu en ongekende verdraagsaamheid? wil Koos Kombuis weet.

Koos Kombuis

Ons lewe in ’n merkwaardige eeu.

Daar is deesdae ’n ongekende konsensus van verdraagsaamheid. Jy kan wees wie jy wil, jy kan byna enige mening oor enigiets hê, jy kan jou seksuele voorkeur uitkies uit ’n ongekende spektrum van moontlikhede. Dinge waaroor mense voorheen gefrons het, is meteens sosiaal aanvaarbaar. Dis die eeu van die individu.

Of is dit?

Hoekom, as daar deesdae soveel verdraagsaamheid is, is daar terselfdertyd soveel aggressie in vandag se samelewing?

Die internet het ons op vele maniere bevry. Ons is vry om met mekaar te kommunikeer na hartelus, sonder die beslommernis en die stadige pas van briewe en posseëls. Inligting was nog nooit so gerieflik bekombaar nie.

Nou waarom voel dit al hoe meer asof hierdie selfde internet wat as’t ware die simbool moet wees van ’n mensdom wat eindelik tot wasdom gekom het, van grootmense wat veronderstel is om mekaar te respekteer in die virtuele ruimte, toenemend soos ’n besmette poel geword het?

Dit is die internet vandag: ’n gevaarlike swemplek wat wemel van krokodille en monsters en allerlei vorms van predatore.

Sedert Twitter aanvanklik begin het om twiets tot 140 letters te beperk, voel dit asof niemand meer in-diepte ingaan op enige onderwerp nie. Asof ’n saak nie meer vele fasette het nie. Subtiliteit het by die venster uitgevlieg om plek te maak vir kitsfrases en maklik verteerbare idees.

Inligting word verskaf en ingeneem soos gemorskos-wegneemetes. Alles word kort en bondig opgesom en vereenvoudig deur hashtags.

G’n wonder almal lei aan kollektiewe emosionele sooibrand nie.

Insameling van private inligting ’n magtige besigheid

Onlangs tel ek ’n boek in ’n lughaweboekewinkel op. Dit is deur Ben Elton, een van my gunstelingsatireskrywers, geskryf en heet Identity Crisis (Bantam Press, 2019).

Hoewel Identity Crisis ’n werk van fiksie is, lees dit soos ’n byna doelbewus vervelige dokumentêre relaas. Die situasies wat beskryf word, is uiters snaaks, maar ek het nie een keer hardop gelag terwyl ek die boek gelees het nie.

Om die waarheid te sê, die boek het my so depressief gemaak dat ek halfpad amper ophou lees het.

Dis is presies wat Ben Elton wou doen. Hy skep, deur oordrywing en toekomsprojeksie, ’n denkbeeldige wêreld wat heeltemal oorheers word deur verskillende sienings van wat polities korrek is. Dis ’n samelewing wat oorheers word deur konflikterende fanatiese drukgroepe met dikwels verskuilde agendas.

Een van die hoofkarakters in Elton se roman, Malika Rajput, maak haar bestaan deur die skryf van algoritmes vir ’n trendy dog moreel ambivalente inligtingsmaatskappy, Communication Sandwich, wat nie slegs navors wat mense dink nie, maar ook na hartelus onmin saai en vyandige faksies help skep in ’n toenemend gefragmenteerde Engeland.

Die fiksie van Elton is alte naby aan die werklikheid, want daar is deesdae geen groter en magtiger besigheid as die insameling en verwerking van massas private inligting wat maatskappye kwansuis moet help om voornemende kliënte meer effektief te teiken nie.

Is daar meer sinistere motiewe agter hierdie bemarkingsmetodes?

Feitlik onmoontlik om ‘Big Brother’ se blik te vermy

Elton se boek het my nogal laat dink aan ’n onrusbarende artikel deur een van my medebloggers op die Thought-Leader-webruimte, Bert Olivier.

In sy stuk getiteld “So you think that Orwell’s ‘1984’ could only happen under a political dictatorship? Think again!”, vertel Olivier ons meer van twee boeke wat hy onlangs gelees het, Automatic Society deur Bernard Stiegler (Polity Press, 2016) en The Age of Surveillance Capitalism – The Fight for a Human Future at the New Frontier of Power deur Shoshana Zuboff (PublicAffairs. Hachette, 2019).

Hy sê onder meer: “ . . . there are (as yet) no laws that govern, and can hence preclude this stealthy, surreptitious control of people’s behaviour, which is far more insidious than overt political totalitarian rule, which one can resist.”

Ons is vrywillige deelnemers aan ’n wêreldwye eksperiment in manipulasie. Ons is ons eie diktators.

Met ander woorde, dit is feitlik onmoontlik om in hierdie tyd en dae nié deur Big Brother dopgehou te word nie. Ons is self aandadig daaraan elke keer wanneer ons Facebook, Twitter of Instagram gebruik. Ons verskaf self die inligting aan die magte wat die moderne wêreld beheer.

En wanneer daardie selfde magte daarin slaag om deur middel van fopnuus, herhaalde verspreiding van sekere narratiewe of met watter metodes ook al, ons gedrag in sekere rigtings te stuur, is dit ons wat hulle toelaat om presies dit te doen.

Ons is nie, soos die slagoffer in Orwell se boek Nineteen Eighty-Four, onderwerp aan ’n verpligte politieke diktatorskap nie. Ons is vrywillige deelnemers aan ’n wêreldwye eksperiment in manipulasie. Ons is ons eie diktators.

Lyk Mark Zuckerberg soos ’n waansinnige, wrede of magsugtige heerser?

Mark Zuckerberg Skets: Koos Kombuis

Nee, glad nie. Daar is geen ooreenkoms tussen hom en Idi Amin of Hitler nie! Hy lyk soos die nice ou in die woonstel langsaan. Hy lyk soos ek en jy. Hy lyk onskuldig.

En dalk is hy. Dalk is dit nie hy self, of selfs Facebook, wat die ware skurke is nie, maar iemand of iets groter, iemand wat ons nie kan sien nie.

Hoe individueel is ons werklik?

In ’n ander betreklik onlangse roman, The Store (Arrow Books, 2017), wat hy saam met Richard DiLallo geskryf het, skets die skrywer James Patterson ’n alte waarskynlike toekomstige scenario, deur die hipotetiese vraag te stel: Wat as een winkel in die vryemarkstelsel so groot groei dat hulle ’n onoorwinbare monopolie skep?

Die flapteks som dit op: “Imagine a future of unparalleled convenience. A powerful retailer, The Store, can deliver anything to your door, anticipating the needs and desires you didn’t even know you had.”

Die resultaat? Ongekende vryheid. Niemand is arm nie, niemand lei honger nie. Jy kan doen net wat jy wil, solank jy die feit miskyk dat jou elke beweging dopgehou en gemonitor word.

Daar is geen reëls nie, behalwe die ongeskrewe reël van lojaliteit aan The Store. Daggarook is oukei. Enige eksentrieke gewoonte of gedrag word nie slegs aanvaar nie, dit word vir jou makliker gemaak om uit te voer.

Maar dit alles geskied ten koste van jou siel.

Is dit waarheen die 21ste eeuse mens op pad is? Na ’n wêreld waar almal so vry is dat vryheid self ons grootste vyand word?

Ons lewe in die eeu van individualisme. Maar hoe individueel is ons werklik? Is dit nie soos die skare dissipels wat in Life of Brian soos een man uitroep nie . . .

“We are all individuals!”

Dis inderdaad so – iets is nie pluis in die hedendaagse inligtinggedrewe samelewing nie, maar dis baie moeilik om te sien presies wat fout is, of wie daarvoor verantwoordelik is.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ben Elton  |  Bert Olivier  |  James Patterson  |  Mark Zuckerberg  |  George Orwell  |  Individualisme  |  Vryheid  |  Twitter  |  Facebook  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.