Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: ‘Skielik bid ek weer’

Die wêreld was nie noodwendig ’n beter plek voor die pandemie nie. Eintlik was 2020 ’n goeie jaar, skryf Koos Kombuis.

Was die Sweedse aktivis Greta Thunberg wraggies reg toe sy gewaarsku het die wêreld gaan eindig? Foto: Getty Images

Nog nooit in my lewe het ek soveel boodskappe gekry met doemprofesieë en samesweringsteorieë oor die einde van die wêreld soos nou nie.

Ek kry hulle per WhatsApp (ja, party van my vriende het nog WhatsApp), ek kry hulle per e-pos, ek kry hulle in die in-mandjies van my sosiale media-bladsye.

En selfs al ignoreer ek die gekke idees wat mense vir my aanstuur, kan ek dit nie miskyk nie, want dis óral. Dis al waaroor mense op Facebook praat. Dis in die nuus. Dit trend op Twitter.

“Hulle hou ons dop!”; “Bill Gates het jou selfoonnommer!”; “Die engel met die trompet gaan nou die Derde Seël oopmaak!”; “Die Simpsons het alles voorspel wat nou gebeur!”; “Dis die uur van die 666!” “Donald Trump het eintlik die verkiesing gewen!”; “Die entstof gaan ons DNS verander!”. Jy lees ook: “ ’n Groot asteroïde is op pad om ons te tref!”; “Ons is magteloos, uitgelewer aan die Illuminati se agenda!”; “Dra jou masker!”; “Moenie jou masker dra nie!”.

Skielik hou ek ’n Bybel langs my bed. Skielik bid ek weer.

Dis asof die hele wêreld oornag mal geword het. Almal soek sekerhede. In die afwesigheid van vertroude waardes wat nog altyd gewerk het, gryp hulle na die strooihalms van waansinnige voorspellings en samesweringsteorieë. Enigiets wat net die paradokse van hierdie tyd kan vereenvoudig of verduidelik.

Ek sien dit in myself ook. Skielik hou ek ’n Bybel langs my bed. Skielik bid ek weer. Want ek sien elke dag meer en meer hopelose werkloses op straat en ek hoor van mense wat in hul hordes sterf in oorvol hospitale, en ek is bang . . .

Hel! Wie is nié deesdae bang nie?

Die mensdom het paranoïes geraak

Koos Kombuis
Koos Kombuis

Wel, om heeltemal eerlik wees, ek hou ek nie van alles in die Bybel nie. Ek hou nie van die ou wette wat sê mense wat sondig, moet gestenig word nie. Ek hou nie van die idee dat die nuwe hemel en aarde nie ’n see sal hê nie, want ek is ’n beach bum in my hart.

Eintlik sou ek graag my eie Bybel wou saamstel van die stukkies waarvan ek hou. My ideale Bybel sou bestaan uit (in hierdie volgorde): Die boek van Spreuke, Hooglied, die Evangelie van Johannes, The Power of Now deur Eckhart Tolle, Zen and the Art of Motorcycle Maintenance deur Robert Pirsig en, reg aan die einde, iets soos daai Flippen Lekker Braai Resepte wat hulle op Facebook verkoop.

Maar nou ja, ’n mens mag seker nie gaan staan en verander aan die heilige boek nie, dit sal waarskynlik ’n sonde of iets wees.

Dalk ly ons almal deesdae aan ’n soort cabin fever. Mense is nou al veels te lank in hul eie huise vasgekeer. Vriende kan nie meer oor en weer kuier en skerts tot ná middernag nie. Ons neem alles nou ernstig op. Om net ’n vinnige draai by die plaaslike kruidenierswinkeltjie te maak word meteens ’n lewensgevaarlike pelgrimstog waarvoor jy jouself moet voorberei met jou masker en jou botteltjie handontsmettingsmiddel byderhand.

Die mensdom het paranoïes geword.

Ek probeer onthou. Hoe was dinge voorheen? Wanneer het almal so van hul trollie af geraak?

Greta was toe reg

Die Huisgenoot van Januarie 2020 wat Koos Kombuis laat besef het die wêreld was nog altyd mal. Foto: Verskaf

Ek dwaal verwese deur my huis.

In die tydskrif-rakkie langs die rusbank in ons sonkamer sien ek ’n ou Huisgenoot lê. Ek tel dit op.

“DIT kom in 2020,” lees ek op die voorblad. “Die gebeure in die nuus wat ons gaan laat gons.”

Nee!

Wat ’n vonds! Wat ’n versamelaarsitem! Hoeveel mense het nog hierdie Huisgenoot?

Ek wil teruggevoer word, in die gees, na ’n era in ons nasie se geskiedenis toe ons nog kon opgewonde raak oor ander dinge as Bill Gates en die Antichris.

Dis my kosbaarste besitting! Dit kan my ’n clue gee van hoe die wêreld was in die ou tyd! Dit kan my terugvat na die goeie ou dae toe die Springbokke nog gewen het en ek en my pelle nog op ’n Saterdagaand in die local pub kon kuier!

Ek gaan maak vir my ’n koppie koffie in die kombuis en sit die Huisgenoot neer op die tafel. Nou gaan ek hierdie Huisgenoot lees. Ek gaan my verbeel dis Januarie 2020, nie Januarie 2021 nie.

Ek wil teruggevoer word, in die gees, na ’n era in ons nasie se geskiedenis toe ons nog kon opgewonde raak oor ander dinge as Bill Gates en die Antichris.

Daar was ’n tyd, glo my, toe almal in ’n flat spin was omdat Steve met sy kar se wiele oor sy DStv-skottel gery het. Daar was ’n tyd toe prins Harry se exit uit die Royal Family die enigste wêreldnuus was. O ja, en die onluste in Hongkong. En baie mense was hoogs geamuseerd toe Greta Thunberg ons gewaarsku het dat die wêreld gaan eindig. Dis minder as twee jaar later, en sy was wraggies reg.

Die wêreld was nog altyd mal

Ek blaai deur die Huisgenoot van ’n jaar gelede. Ek lees:

“Donald Trump het ’n billike kans op ’n tweede termyn.”

Ek dink: Ha!

“Boris Johnson kan nou sy Brexit-planne deurdruk.”

Ek dink: Dit was toe nie so maklik nie, nè?

“Die ANC is steeds verdeeld.”

Ek dink: Ja, sekere dinge verander nooit nie.

En ek is nie meer so seker of ek wil teruggaan na Januarie 2020 nie. Die wêreld was nog altyd mal.

“Kenners waarsku beurtkrag is nog lank nie verby nie.”

Ek dink: Beurtkrag! Was dit regtig ons grootste bekommernis?

“Die ondersoek na staatskaping voor regter Raymond Zondo sal na verwagting teen Augustus afgehandel word . . .”

Ja, sure!

Ek sit my koppie koffie neer.

Dis toe dat ek met ’n skok besef: Die wêreld was nié noodwendig ’n beter plek voor die pandemie nie.

En ek is nie meer so seker of ek wil teruggaan na Januarie 2020 nie. Die wêreld was nog altyd mal.

Stadig dring die begrip tot my deur: Eintlik was 2020 ’n goeie jaar.

Ten spyte van die aaklige dinge wat gebeur het en steeds gebeur.

Die maskers van ons harte

Samesweringsteorieë was nog nooit so gewild soos tydens die pandemie nie. Foto: Getty Images

Bestek-opname: In 2020 het ek baie meer tyd met my gesin spandeer as ooit tevore.

Ek het die klein dingetjies wat die lewe die moeite werd maak, opnuut ontdek.

Nog nooit tevore het ek so dikwels met my hond gaan stap nie.

En daardie vroegoggend-wandelinge deur die buurt wat ons almal saamgedoen het tydens vlak 4, sal altyd een van die beste herinneringe van my lewe wees.

Mense het mekaar leer waardeer. Mense het hul vermoë tot omgee weer ontdek.

Soos die maskers oor ons gesigte vermeerder het, het ons die maskers van ons harte vir mekaar afgehaal.

Daar is niks wat my jaag nie. Daar is nie vliegtuie om te haal nie.

In 2020 het ek tyd gehad om alles deur te dink. Ek kon al my ou wrokke, al die interpersoonlike intrigetjies wat my so besig gehou het, finaal laat gaan.

Dis asof ek nou eers waarlik mens is.

Want daar is niks wat my jaag nie.

Daar is nie vliegtuie om te haal nie.

En die Bybel langs my bed?

Seker nie so ’n slegte ding nie . . .

Dankie, 2020. Wie weet, dalk is ek tog op die ou end ’n effens beter mens as gevolg van jou?

*Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.