Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Skielik is ons almal ‘Binnelanders’

Agter die glas van sy TV-skerm en ligjare van ons huidige werklikheid, leef en streef al die ou bekende sepiekarakters in ’n parallelle heelal waar die koronavirus nie bestaan nie, skryf Koos Kombuis.

Ons gesin lewe op die oomblik in twee wêrelde.

Die lewe hier binne en die lewe daar buite.

Ons waag dit soms na buite, een vir een, en dra ons maskers oor ons mond en neuse. Ons klim in ’n motor met ’n botteltjie alkohol-geurige vloeistof op die passasier-sitplek.

Soms vaar ek alleen die strate in met my winkelsakkie om proviand op te tel. Ek sien min mense of voertuie, maar die paniek is orals. By die ingang na ons plaaslike Spar staan ek in ’n ry voor ek kan ingaan. Hulle spuit my hande voor ek aan ’n trollie vat, al het ek pas ’n oomblik gelede my hande gespuit voor ek uit die kar geklim het.

Almal is beleefd, maar ons beweeg ver van mekaar af.

Dis ’n stille paniek, soos ’n klanklose gil.

’n Samelewing waar almal gelyk in volkome stilte gil.

As ek in die deuropening van my voordeur staan en uitstaar na die straat daarbuite, vorm die tralies van die hek die illusie van ’n tronk.

Terwyl ons binne is, voel ons relatief veilig. Om die waarheid te sê, dit voel soms soos ’n vakansie.

Onbetaalde verlof, maar nogtans verlof.

Hoewel ons dit soms vlugtig waag om ons huise te verlaat, voel dit meesal asof die wêreld daar buite baie ver en onbereikbaar is.

Ons neem dit waar op TV. Ons scroll deur dinge wat elders gebeur op ons fone. Ons kan nie meer met die hond gaan stap nie, nou stap ons vingers oor die sleutels van ons rekenaars.

As dit warm is, los ek my huis se voordeur oop en sluit net die traliehek op die voorstoep. As ek in die deuropening van my voordeur staan en uitstaar na die straat daarbuite, vorm die tralies van die hek die illusie van ’n tronk.

Ons het darem nog TV . . .

Koos Kombuis

Ek werk hard. Ek verrig take op die rekenaar wat ek al jare uitstel. Ek ontdek halfgeskrewe manuskripte in verafgeleë hoekies op my hardeskryf wat hier en daar belofte toon.

Ook maar goed, want al die ander ambisieuse projekte en Afrikaanse romans waarmee ek my tyd verwyl het, is skielik obsoleet.

Dis net die Engelse wetenskapfiksie-stories vir die oorsese mark waaraan ek besig was om te skryf, wat hier en daar ’n bietjie sin maak.

Dit laat my glimlag.

Ek wou my lewe lank wetenskapfiksie skryf en aanlyn publiseer, fantastiese toekomsstories wat afspeel in die ruimte of in die verlate strate van verwoeste stede.

En nou werk en leef ek self in die middel van so ’n storie. Ek voel of ek laat in die nag op TV ’n karakter in ’n derderangse futuristiese fliek is.

Ek voel toegesluit in my huis soos daai Joodse meisie agter die geheime deur in Jojo Rabbit . . .

Gepraat van flieks: Wanneer gaan ons weer fliek?

Wanneer gaan ons weer uiteet? Wanneer gaan ons weer musiek-konserte hou?

Genade, ek sou hierdie naweek met al my pêlle bo-op Gifberg gewees het!

Ons het darem nog TV.

Elke keer wanneer daar ’n Afrikaanse sepie op die kassie is, staar ek daarna met ongeloof en verwarring.

En ons het darem nog al ons gunsteling- Afrikaanse sepies.

Binnelanders. Getroud met rugby. Suidooster. 7de Laan. Ensovoorts.

Daar, binne-in my TV-skerm, verwyder agter die glas van die skerm, en ligjare van ons huidige werklikheid, leef en streef al die ou bekende sepiekarakters in ’n parallelle heelal waar die koronavirus nie bestaan nie.

Hulle raak aan mekaar. Hulle soen. Hulle loop oop en bloot in die straat sonder maskers. Hulle gaan saans uit en drink in kroeë.

Elke keer wanneer daar ’n Afrikaanse sepie op die kassie is, staar ek daarna met ongeloof en verwarring.

Dit is baie vreemd om die akteurs waar te neem – akteurs van wie die meeste vir my soos huisvriende voel – wat eenvoudig voortgaan met hul lewens asof niks gebeur het nie.

Sepiekarakters leef in ’n ander wêreld

Die koranavirus wat ons almal se lewens verander het. Skets: Koos Kombuis

Ek begryp natuurlik dat daardie sepies weke of maande gelede opgeneem is, maar dit voel asof ’n mens, wanneer jy deesdae na Afrikaanse sepies kyk, ’n blik kry op ’n prehistoriese kultuur, geskiedkundige figure wat in die ou tyd geleef het. Dit kon netsowel dokumentêre flieks gewees het wat die alledaagse doen en late uitbeeld van ’n ander werklikheid, ’n vreemdsoortige samelewing wat geheel en al verwyderd is van die wêreld wat ons nou ken.

Gewoonlik, wanneer sepie-stories tred verloor met onlangse nuusgebeure van groot belang, probeer die vervaardigers soms agterna ’n paar sinnetjies of ’n ekstra toneeltjie inwerk om die illusie te skep dat die karakters bewus is van die nuus van die dag. So byvoorbeeld was daar verlede jaar kort toneeltjies van mense wat mekaar gelukwens ná die Bokke se oorwinning in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

En wanneer dit Kersfees is by ons, is dit Kersfees in Binnelanders. Wanneer ons Nuwejaarspartytjies hou, doen hulle dieselfde.

Maar deesdae is die twee wêrelde – ons wêreld en hul wêreld – totaal en geheel en al uit synch uit.

Dit is soos om in ’n tydmasjien terug te gaan na die Suid-Afrika van ’n paar weke gelede.

Die karakters in ons sepies kan netsowel op ’n ander planeet wees.

Hulle praat Afrikaans, hulle lyk heel gewoon, hulle gedra hulself soos doodnormale mense, hulle skep nog steeds die illusie dat hulle hul lewens binne-in ons woonkamers lei, maar die gegewe is onmoontlik, hulle beweeg en gesels en lag en stry in ’n ander dimensie van werklikheid, ’n werklikheid wat drasties verskil van die realiteit aan hierdie kant van die TV-skerm. Binne en buite is nie dieselfde nie.

Hulle is inderdaad die “Binne-Landers”. En ons is die “Buite-Landers”. Al is ons eintlik binne, en hulle buite iewers, akteurs wat die rolle speel van mense in ’n ander tyd, ’n ander plek.

Dit is soos om in ’n tydmasjien terug te gaan na die Suid-Afrika van ’n paar weke gelede.

’n Paar weke wat so ver en diep en wyd in die verlede in-strek dat dit soos ’n ewigheid voel.

Die waansin van die verlede

’n Wêreld van maskers . . . Skets: Koos Kombuis

Niks anders versinnebeeld vir my die unieke waansin van ons tyd – en die andersoortige dog ewe unieke waansin van die verlede – soos Afrikaanse sepies nie.

Waansin van die verlede?

Inderdaad.

Want hoewel ons sonder twyfel op hierdie moment in waansinnige omstandighede leef, voel dit soms asof die waansin van die verlede erger was, veel erger, as ons huidige waansin.

’n Mens kan jouself skaars indink wat in daardie sepie-karakters se klein koppies aangaan. Hoekom hulle so oor hul niksseggende ou krisissies en sinlose intrigetjies tekere gaan. Liefdesdriehoeke. Erfporsies. Verhoudingsprobleme. Jaloesie. Familie-twiste.

Wat de hel?

Dit lyk, op die veilige afstand tussen ons en die TV-stel – ’n afstand van, sê, twee of drie meter – asof ons ’n rare blik gegun word op onsself, die soort mense wat ons was.

Tot so onlangs soos Februarie 2020.

Gaan hulle dan na ons kyk deur die glas van die TV-skerms, asof hulle wil vra: Is daar ’n einde aan die nagmerrie? Gaan ons ook eendag vry wees soos julle daar buite?

Dis inderdaad ’n skisofreniese ervaring om tydens lockdown na Afrikaanse sepies te kyk.

Ek wonder hoe lank dit die mense in daardie stories gaan vat om wakker te skrik en te besef hul wêreld het geëindig. Dit sal vir hulle voel soos dit voel om uit ’n koma wakker te word.

En eendag, enige oomblik nou – teen die tyd dat hierdie rubriek gepubliseer word, het dit dalk al begin gebeur – gaan elkeen van daardie sepie-reekse skielik ophou, in die middel van ’n komplot, en tydelik van die lug afgehaal word? Want die reeds verfilmde tonele gaan opraak, en intussen kon die akteurs en die aktrises nie ateljee toe gaan om aan te gaan met die lewensbelangrike stories van hul lewens nie.

Of dalk keer hulle terug, eendag in maskers, wanneer lockdown vir ons al verby is, en dan . . .

Wie gaan dan binne wees, en wie buite?

Gaan hulle dan na ons kyk deur die glas van die TV-skerms, asof hulle wil vra: Is daar ’n einde aan die nagmerrie? Gaan ons ook eendag vry wees soos julle daar buite?

Maar ons sal hulle nie kan antwoord nie. Ons sal net die TV’s kan afskakel en met ons honde gaan stap.

Asof niks ooit gebeur het nie.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Binnelanders  |  7De Laan  |  Koos Kombuis  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Sepies  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.