Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Só kan NG Kerk weer 'n rol speel

Dit is te laat vir hom, en vir baie ander soos hy, om nou na die NG Kerk terug te keer. Maar dalk is dié kerk stadig besig om die soort organisasie te word vir wie hy hom as Afrikaanssprekende nie meer hoef te skaam nie, skryf Koos Kombuis.

Die Moederkerk in Stellenbosch. Foto: Koos Kombuis

Die onlangse besluit van die NG Kerk om op ’n meer demokratiese wyse om te gaan met gay-lidmate het gemengde reaksie ontlok.

Soos ’n mens kon voorspel, was nie alle faksies van die kerk gelukkig hiermee nie. (Party van die omies dra nou swart armbande om hul beswaarde harte op die mou uit te stal.) 

Vir my persoonlik was die kennisname van die NG Kerk se nuwe houding ’n oorwinning in die kleine. Dit, ten spyte van die feit dat ek (1) nie gay is nie, en (2) nie ’n aktiewe lidmaat van die NG Kerk is of ooit weer sal wees nie.

’n Mens kan dalk sinies wees en sê dat die hele debat oor gays in die kerk ’n storm in ’n Nagmaal-bekertjie was. In my lewe het ek nog net een maal, jare gelede, ’n gay persoon ontmoet vir wie die kerk se standpunt belangrik was. Die rede hiervoor is tweeledig; gay mense voel dalk al so lank verwaarloos deur die kerk dat hulle waarskynlik nie nou gaan tou staan om hul lidmaatskap te hernu nie. Tweedens is dit ’n feit dat belangstelling in die doen en late van tradisionele kerke reeds geruime tyd aan die taan is. Dit is ’n wêreldwye verskynsel.

Reeds in 2015 het dr. Danie Malan op ’n beraad in Kempton Park en Secunda gepraat oor die toenemende sekularisasie van geloof: “Sekularisasie beteken nie mense glo nie. Dit beteken net hulle glo enigiets.”

Deesdae se ‘kerke’

Wat Malan destyds kwytgeraak het, blyk profeties te wees. Toe ek jonger was, is daar soms voorspel dat mense met verloop van tyd die geloof heeltemal sou ontgroei en dat die wêreld toenemend ateïsties sou word. Dit is egter glad nie wat nou besig is om te gebeur nie. Mense is nog steeds gelowig, soms selfs meer as in die ou tyd.

Hulle vind slegs meer diverse maniere om hul geloof uit te leef. Die tyd is verby dat die NG Kerk, of inderwaarheid die drie susterskerke, die alfa en omega van Afrikaanse spiritualiteit verteenwoordig het.

Of is dit?

Al hoe meer mense vind vandag aanklank by die standpunte van John Lennon, wie se gedagtes oor godsdiens in die 1960’s revolusionêr geklink het.

Lidmate verdwyn uit die kerk om verskeie redes. Party gaan dood en hul kinders stel nie noodwendig belang om die tradisie voort te sit nie. Party sluit aan by charismatiese groepe, wat steeds baie sterk staan. Ander vind hul heil in selfhelpboeke, meditasie, joga, en allerhande minder ortodokse metodes as voorheen; die internet is vol plekke waar sulke mense virtueel byeenkom

Die gewildheid van 2018 se publikasie Die Braambos Bly Brand, waaraan talle Afrikaanse bekendes deelgeneem het dui op ’n lewende geestelike oplewing onder groot groepe Afrikaanse mense in wie se lewe die kerk nie meer noodwendig ’n groot rol speel nie.

In hierdie bloemlesing, uitgegee deur Naledi en saamgestel deur Chris Jones en Pieter Malan, is daar “ . . . skrywers, ekonome, musikante, akademici en joernaliste . . . wat nie meer kerklik betrokke en/of ’n dominee of teoloog is nie.”

Onder hulle tel Jurie van den Heever, Annelie Botes, Dana Snyman, Pik Botha, Heinz Modler, Lizette Rabe, Dawie Roodt, Rachelle Greeff, Piet Croucamp, Joan Hambidge, Koos Kombuis, Jean Oosthuizen, Christine Barkhuizen Le Roux, Lina Spies, Valda Jansen, Valiant Swart, Nathan Trantraal, Churchil Naudé, Riku Lätti en Luke Alfred.

Al hoe meer mense vind vandag aanklank by die standpunte van John Lennon, wie se gedagtes oor godsdiens in die 1960’s revolusionêr geklink het, maar vandag skaars onderskei kan word van soortgelyke uitsprake deur moderne sekulêre geestelike denkers soos Abel Pienaar: “I like the Bible, but not the way the Church presents it.”

Die nuwe NG Kerk

Nou sal ek verstaan as iemand my die vraag wil stel: “As die kerk se invloedsfeer besig is om al kleiner te word, hoekom het die besluit van die NG Kerk vir jou gevoel soos ’n persoonlike oorwinning? Wat traak dit jou?”

Ek het die “live stream” van die Benoni-besprekings met belangstelling gevolg. En daaruit verskeie afleidings gemaak.

Een. Die NG Kerk is nie meer dieselfde groep mense as wat hulle was toe ek as tienderjarige my rug in weersin op hulle gedraai het en geweier het om as katkisant aangeneem te word nie.

Twee. NG Kerk-dominees klink nie meer almal soos wat dominees in die ou tyd geklink het nie. Die meeste van hulle is, dankie tog, effens minder hoogdrawend.

Drie. Nie net gee die NG Kerk vandag groter ruimte aan vroue in leiersposte nie – vroue-dominees was in die ou tyd iets ondenkbaar! – hulle is meer verbruikersvriendelik en toeganklik, en meer in tred met dinge wat vandag in die wêreld gebeur (die blote feit dat daar ’n “live stream:” beskikbaar was, spreek al boekdele).

Koos Kombuis

In kort: Dalk is die NG Kerk deesdae, gestroop van sy politieke mag en grootliks genees van sy hebsug, eindelik vry van die dweepsug van vanmelewe. Lees gerus André van Niekerk se insiggewende rubriek “NGK se sinode word vryer deur te laat gaan”.

Wie weet? Dalk is hulle stadig besig om die soort organisasie te word vir wie ek my as Afrikaanssprekende nie meer hoef te skaam nie.

En, wie weet? Dalk is hierdie juis die punt van ommekeer. Daar is ’n moontlikheid dat hierdie selfde kerk, indien hy voortgaan op die trajek van groter deernis en meer oopkop denke, tog weer in die toekoms ’n rol sal speel in die geestelike lewe van Afrikaanse mense.

Hulle sal nooit weer die groot en magtige rol kan speel wat hulle in die ou tyd gespeel het nie, maar ten minste sal hulle meer outentiek wees. En as die omies met die swart armbande wil afskei en hul eie paadjie loop, wel, dis seker hulle reg ook.

Dit is te laat vir my, en vir baie ander soos ek, om nou terug te keer. Maar iewers het daar ’n versoening gebeur. Dis klein, maar is enige vorm van versoening, hoe klein ook al, nie ’n wonderwerk nie?

Dit is dalk juis een van die grootste weggesteekte waarhede van versoening: Versoening beteken nie noodwendig ’n nuwe verhouding of selfs interaksies met die ander party nie. Ek het versoen met my familie, maar ek woon nog steeds nie familiebyeenkomste by nie.

Versoening beteken die afwesigheid van bitterheid en pynlike herinneringe.

Ek het versoen met verskeie mede-musikante, maar dis nie noodwendig nodig om elke dag saam te kuier nie. Dit beteken net ons is deesdae ’n bietjie nicer met mekaar as ons mekaar backstage raakloop en ons tree almal ’n bietjie minder soos Taylor Swift op.

Versoening beteken die afwesigheid van bitterheid en pynlike herinneringe.

O, ek weet, die kerklidmate sal graag sê: “Jy kan nie jou sekulêre geloof in isolasie uitleef nie. Wat van die gemeenskap van die heiliges? Met wie deel jy jou ervaring van verlossing as jy nie meer eredienste bywoon nie?”

Die antwoord is eenvoudig. Ek is nie alleen nie. Ek mag dalk nie my geloof aan my baadjiepant dra soos ’n lapelwapentjie nie – ek weet nie eens of ek myself ’n “Christen” wil noem nie, want eintlik is ek maar net ’n gelowige heiden! – maar ek is gelukkig om baie vriende te hê wat voel soos ek.

* Waarskuwing: hierdie video-insetsel bevat kru taal.

* Koos Kombuis is 'n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Abel Pienaar  |  John Lennon  |  Suid-Afrika  |  Geloof  |  Godsdiens  |  Kerke  |  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.