Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Só tem jy inperking se klein jakkalsies

Sy daaglikse rituele is dalk eksentriek, maar dit help hom om die klein jakkalsies van die inperking te tem, skryf Koos Kombuis.

Die rituele van elke dag help om die klein jakkalsies van die inperking te tem. Skets: Koos Kombuis

In sy artikel, “Geanker in rituele”, skryf Stehan Schoeman onderhoudend en op ’n intieme en persoonlike trant van die klein dingetjies wat ’n mens stabiel hou tydens jou daaglikse bestaan in hierdie moeilike tye.

“Die eerste koppie koffie wat jy in die oggend drink,” skryf hy, “kan byvoorbeeld simbolies wees – ’n ritueel wat jou voorberei op die res van die dag wat voorlê.”

Daar was ’n tyd toe ek hierdie soort gedagtes sou afgemaak het as ietwat onsinnig. Koffie is nie ’n ritueel nie, dis net koffie! Dog geen ervaring het die geldigheid van hierdie gedagtes so helder by my tuisgebring as juis die afgelope jaar se staat van inperking nie.

Toe pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar die eerste aankondiging oor inperkings maak, het hy gesê dat dit aanvanklik slegs drie weke sou duur.

Dit het nou ’n lewenswyse geword.

Koos Kombuis

Ons sien nog nie die einde daarvan nie. Veral noudat die entstowwe dalk nie so doeltreffend gaan wees soos ons gehoop het nie . . .

Baie van ons, indien nie almal van ons nie, ervaar dit: ons is as mense aan die diep kant ingegooi. Om vir sulke lang tydperke van die huis af te werk – dié van ons wat nog gelukkig genoeg is om ’n werk te hê – het sy voordele, maar die ontwrigting tas alle aspekte van ons menswees aan.

Die probleme wat ons toenemend ervaar, het nie slegs te doen met ons oorlewing nie, maar ook met ons geestelike en liggaamlike welsyn, om nie te praat van ons sosiale interaksies, of gebrek aan sosiale interaksies nie.

’n Mens het dinge nodig wat jou anker aan elke dag, wat jou help om jou balans te hou, klein gewoontes wat betreklik voorspelbaar en standhoudend is.

Dis al manier om die klein jakkalsies te tem wat gedurig daarop uit is om ons lewens chaoties te maak.

Tem ’n mens nie daardie klein jakkalsies nie, is die uiteinde van so ’n lukrake bestaan ’n sieldodende gebrek aan selfrespek, verlies aan kontak met wat om jou aangaan, en ’n tekort aan humor en die korrektiewe persepsies wat normale omgang met vriende en kollegas bring.

My daaglikse, eksentrieke, roetine

Koos Kombuis se hond, Piet. Foto: Koos Kombuis

Dit het my nogal lank geneem vat om ’n daaglikse stel rituele te beproef wat vir my werk, maar nou, ná byna ’n jaar van inperking, het ek dit soort van onder die knie, touch wood.

Ek het ook nogal baie baat gevind by ’n boek soos Atomic Habits deur James Clear.

Die punt wat Clear maak, is dat énige poging tot struktuur, hoe klein of onbenullig dit ook al mag lyk, op die langer duur wonderbaarlike resultate kan lewer.

Kan ek maar my daaglikse program met julle deel? Dis ietwat eksentriek, maar dit werk vir my.

Wanneer ek soggens wakker word, maak ek my selfoon oop en klik ek op een van die talle YouTube-video’s met natuurgeluide. Liefs iets met klanke van seemeeue of walvisse. Google dit, daar is baie daarvan.

Moet jy ’n Zoom-vergadering hou, maar jy is rêrig nie lus daarvoor nie? Want jou hare is deurmekaar, jy is nog in jou kamerjas, en jou pitch is nog nie goed genoeg voorberei nie? Maak dan ten minste die afspraak. Dit sal jou klaar laat beter voel, en dis beter as niks nie.

Dan lê ek en luister oor my oorfone daarna vir ’n paar minute met my oë toe terwyl ek my eerste koppie koffie drink. Ek probeer nie mediteer of aan niks dink nie, ek sê nie ’n mantra op of probeer vreeslik geestelik wees nie, ek hou net my oë toe en laat my gedagtes gaan waar hulle wil. Probeer dit gerus. Dis fantasties vir die gemoedstoestand.

Daarna staan ek op en doen fisieke oefening vir ten minste vyf minute. Met ander woorde, ten minste twee of drie joga-strekoefeninge. (Daar is duisende voorbeelde hiervan op Instagram). Ek glo nie in push-ups of sulke moeilike goed nie, ek is anyway te oud vir daardie lawwigheid. En ’n mens hoef nie op jou kop te staan of jouself in knope te draai nie. Die idee is nie om ’n joga-foendi te word nie.

Party oggende is ek braaf en gaan stap ’n ent of ry met my fiets om die blok voor ontbyt. Maar vyf minute se joga is my minimum.

Daarna lees ek eers die nuus, eet my ontbyt, vroetel met my hond, irriteer my vrou, borsel my tande, doen al die gewone dinge.

Die volgende groot uitdaging wat ek moet trotseer, gebeur gewoonlik wanneer ek by my kantoor instap.

In elkeen van ons se lewens is daar sekere take wat ons aanhoudend uitstel. Die groot geheim is om hierdie take heel eerste te doen. Jy hoef nie die hele taak af te handel nie, neem net die eerste stappie in die regte rigting.

Moet jy ’n Zoom-vergadering hou, maar jy is rêrig nie lus daarvoor nie? Want jou hare is deurmekaar, jy is nog in jou kamerjas, en jou pitch is nog nie goed genoeg voorberei nie?

Maak dan ten minste die afspraak. Dit sal jou klaar laat beter voel, en dis beter as niks nie. En voor jy jou kan kry, teen die einde van die week is daardie Zoom-vergadering wat jy so gevrees het, afgehandel en jy kan jou naweek met ’n skoon gewete geniet.

Wyn: O, die pyngedagte!

Daai eerste glasie wyn word nou eers met aandete geskink. Foto: Gallo Images

Gepraat van naweke en aande. Selfs dit het oor inperkingstyd vir my ’n uitdaging begin word. Ek het gewoonlik so teen sesuur my eerste glasie wyn begin drink. Dan drink ek ten minste ’n hele bottel uit in die loop van die aand en word die volgende oggend wakker met ’n ligte hoofpyn. Selfs in die week.

Not good!

Dit het my ’n hele ruk geneem om aan myself te erken ek het dalk wat bekend staan as – o, die skok, o, die pyngedagte! – ’n laegraadse alkoholprobleem!

Ek is nou so gewoond aan hierdie paar rituele, ek doen dit sonder om te dink.

Deesdae begin ek eerder sesuur my aand met ’n glas nie-alkoholiese wyn of bier. Eers so teen agtuur, wanneer ons gewoonlik aandete eet, skink ek ’n glas regte wyn. En hel, dan proe ek dit regtig, want ek waardeer dit baie meer. En siedaar. Ek drink vanself minder. En ek verveel nie meer my gesin en almal om my met ongevraagde, onsamehangende politieke tirades teen elfuur die aand nie.

Dit is maar ’n paar van die baie eenvoudige rituele wat die afgelope jaar my lewe effens lekkerder gemaak het. Ek is nou so gewoond aan hierdie paar rituele, ek doen dit sonder om te dink. Dit is my verdediging teen daardie gevaarlike klein jakkalsies.

Dankie, Stehan, vir jou lekker artikel. Jy het my die vrymoedigheid gegee om hierdie paar gedagtes met die mense te deel.

• Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.