Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Stil, daar gaan ’n man verby

Hoeveel leiers het soos FW de Klerk die vermoë om te erken hulle was verkeerd? wonder Koos Kombuis.

Skets: Koos Kombuis

Vir die eerste keer in 30 jaar was FW de Klerk vandeesmaand weer konstant in die nuus.

Eers was dit die herdenking van sy beroemde toespraak by die parlementsopening op 2 Februarie 1990.

Toe was dit die drama met die EFF by vanjaar se staatsrede en die daaropvolgende mediaverklarings wat heen en weer gevlieg het.

Kom ons staan eers vir ’n oomblik stil by wat in 1990 gebeur het.

Op daardie dag is die nuwe Suid-Afrika gebore, warts and all.

Op daardie dag is die Rubicon eindelik oorgesteek; die einste Rubicon waarvoor nie een van die ander Afrikaanse volksleiers kans gesien het nie.

Pik Botha wou dit doen, maar het nooit die kans gekry nie. PW Botha het gesê hy gaan dit doen, maar het op die oewer vasgesteek, en kon skaars die onderkant van die swembroekie nat kry.

Die water was te diep. Te swart. Te koud. En wat het gewag aan die oorkantste oewer?

Wat De Klerk daardie dag gedoen het, toe hy die noodtoestand opgehef het en die ANC wettig verklaar het, sal altyd soos ’n paal bo water uitstaan as een van die moeilikste en dapperste dinge wat enige Suid-Afrikaanse leier nog ooit gedoen het.

Ons weet almal hoe FW de Klerk dit bedoel het. Hy wou sê 'apartheid was verkeerd, maar . . . '

Nie almal stem saam met wat De Klerk daardie dag vermag het nie. Baie wit Afrikaanse mense voel hy het boedel oorgegee. Die EFF glo nou nog hy het nie genoeg gedoen nie, dat daar bloed aan sy hande was.

Terug na verlede week. Die FW de Klerk-stigting se aanvanklike ontkenning, by herhaling, dat apartheid ooit ’n “sonde teen die mensdom” was.

Ons weet almal hoe hy dit bedoel het.

Hy wou sê “apartheid was verkeerd, maar . . . ”

Die mediaverklaring het nie die uitwerking gehad wat De Klerk verwag het nie. Dit het in sy gesig ontplof.

Daar was ook skrikwekkende newe-effekte; soos die skokgolwe uitgekring het, en al groter geword het, het dit duidelik geword dat De Klerk, met sy stelling, ’n fatale blaps gemaak het.

Die Ramaphosa-faksie in die ANC se hand is verswak. Die EFF is versterk. Dit het gelyk en gevoel asof De Klerk met daardie enkele taktiese flater, Suid-Afrika met ’n hele paar jaar teruggesit het.

Vir ’n oomblik het dit gevoel asof ons weer terug was, 30 jaar gelede, daardie benoude oomblik voor 2 Februarie 1990.

Nog erger: dit het gelyk asof De Klerk sy eie nalatenskap onbedoeld besoedel het.

Helen Zille het die DA gesink met een twiet. So erg is dit.

Ons lewe in gevaarlike tye, tye waarin een ondeurdagte sinsnede enorme en skrikwekkende gevolge kan hê. En omdat dit so uiters moeilik is om woorde presies reg te kies, omdat dit so moeilik is om iets te “ontsê” nadat dit gesê is, sit ons met die situasie dat selfs groot leiers, hoogs intelligente mense, mense met integriteit, onvermydelik soms die verkeerde voet voor die ander sit.

Helen Zille het die DA gesink met een twiet. So erg is dit. So uiters gevaarlik en onvergeeflik kan sosiale media wees in die huidige klimaat van blitskommunikasie, wedersydse nydigheid, en kollektiewe massamedia-“mob rule”.

Steve Hofmeyr se loopbaan het geduik as gevolg van ’n twiet.

Dit kan met jou gebeur. Dit kan met my gebeur. En die hoogste bome word eerste afgesaag.

Ek kan my voorstel hoe moeilik dit vir De Klerk gewees het om daardie laaste mediaverklaring terug te trek.

Maar, immer, die pragmatis, het hy dit gedoen.

Dit laat my wonder.

Selfs moeiliker as daardie toespraak?

Koos Kombuis

Ek wonder of dit dalk moontlik was dat dit vir hom die moeilikste ding was wat hy ooit gedoen het in sy lang loopbaan. Dalk selfs moeiliker as daardie toespraak van 2 Februarie 1990?

Maar hy het dit gedoen. Hy het weer die Rubicon oorgesteek. Dieselfde Rubicon wat hy in 1990 oorgesteek het.

En hierdie keer was die water donkerder, dieper, swarter.

Die uitsig na die ander oewer was ook nie meer versper nie.

Ons weet almal wat intussen in die nuwe Suid-Afrika gebeur het.

Daardie Rubicon lyk nou selfs dieper as die donker rivier waarvan Eugéne Marais dig:

O, Diep Rivier, O Donker Stroom,

Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,

Die lem van liefde wroegend in my hart?

In jou omhelsing eindig al my smart;

Blus uit, O Diep Rivier, die vlam van haat,

Die groot verlange wat my nooit verlaat . . .

As gevolg van De Klerk se tweede ommekeer, het ons nou weer hoop. Die hoop is inderdaad baie skraal. Maar sonder De Klerk sou daar geen hoop gewees het nie.

As apartheid ’n misdaad teen die mensdom was – en dit was – is daar intussen ’n swetterjoel ander misdade teen die mensdom gepleeg, groot en klein, wat Suid-Afrika gelei het vanaf ’n daeraad vol van die belofte van versoening tot by ’n nagmerrie van ekonomiese verval, weghol-korrupsie, moorde, vrouemishandeling, armoede en wanhoop.

Om onder hierdie omstandighede eindelik weer op te staan, en terwyl hy goed weet hoe diep en hoe onverbiddelik hierdie Rubicon werklik is, hoe skraal die kanse van ’n suksesvolle uitkoms, ruiterlik te erken: “Ja, apartheid was ’n absolute onding, dit was regtig ’n sonde, wat ook al die alternatief”, grens vir my aan die heldemoed waartoe slegs die grootste leiers in staat is.

Hoeveel leiers het die vermoë om te erken hulle was verkeerd? Sou Jacob Zuma dit kon doen? Sal Julius Malema dit ooit kan doen?

As gevolg van De Klerk se tweede ommekeer, het ons nou weer hoop.

Die hoop is inderdaad baie skraal.

Maar sonder De Klerk sou daar geen hoop gewees het nie.

Sy hele loopbaan – vanaf 1990 tot by daardie tweede mediaverklaring vandeesweek – wys vir my ’n man vir wie die doel en die roeping van Suid-Afrika nog altyd swaarder geweeg het as sy eie ego.

’n Man wat bereid was, om soos Mikhail Gorbatsjof, terug te staan en toe te laat dat ander die verhoog betree.

’n Jintelman.

Dit is hoe ek De Klerk wil onthou.

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Eff  |  Steve Hofmeyr  |  Pw Botha  |  Helen Zille  |  Fw De Klerk  |  Pik Botha  |  Sosiale Media  |  Apartheid  |  Misdaad Teen Die Mensdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.