Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Waar is al die goeie mense?

Hoekom is daar deesdae so min gawe of goeie mense? So min regtige goeie goed? wil Koos Kombuis weet.

Koos Kombuis

Een van die ouens van Agri SA – ek dink dit was Dan Kriek – het onlangs in ’n TV-onderhoud ’n frase gebruik wat my bygebly het.

Hy het gesê: “Ons het meer goeie mense nodig.”

Let wel, hy het nie gesê “ons het Afrikaners nodig” nie. Of “ons het wit mense nodig” nie. Of selfs nie eens “ons het Christene nodig” nie.

Hy het die speelveld gelyk gevee. Die handskoen neergegooi. Dit was dalk nie op die oog af ’n omstrede ding om te sê nie.

En tog.

Dit laat my dink aan hoe ek destyds in my twintigerjare so naarstiglik op soek was na die absolute waarheid. Ek het soveel kerke uitgetoets, soveel geloofsgroepies, soveel ideologieë.

Tot ek op die ou end by Robert Pirsig se boek Zen and the Art of Motorcycle Maintenance uitgekom het. En by sy antwoord.

Die eenvoudige woord “quality”.

Kwaliteit.

Wat is ’n goeie mens? Wat is goed?

Wat is ’n goeie kunswerk, of ’n goeie liedjie?

Ware kwaliteit is nie iets wat jy kan definieer nie. Dit is net iets wat ’n mens instinktief herken as jy dit teëkom.

Deesdae het ons min songs soos Jak s’n

Nou die dag ry ek in my kar toe ek vir die eerste keer Jak de Priester se song oor Toks van der Linde hoor.

Nou kyk, laat ons nou maar eerlik wees met onsself, daar is min Afrikaanse liedjies wat so oorborrel van pure kwaliteit, pure “goedgeid”, soos Jak de Priester se lied “Stuur liefde aan ou Toks”.

As die reën saggies val

Oor Senekal

En die Springbokke speel weer

Soos ’n vyftiental

As dit goed gaan met die mense

Van hier tot die Karoo

Dan sit Toks van der Linde

Met ’n glimlag in sy oë

Ek het al self probeer songs skryf, maar ek dink nie ek kon nog ooit so ’n song skryf soos “Stuur liefde aan ou Toks” nie.

Ek kon nog nooit só ’n song skryf nie. Foto: Koos Kombuis

Ek ken Jak de Priester al jare. Ons het ’n aantal jare gelede saam die land platgetoer.

Vir Toks van der Linde ken ek nie baie goed nie. Ons het al een of twee keer hand geskud. En dan was daar die keer toe hy een van my gedigte voorgedra het.

Dit was dalk nie so ’n goeie gedig nie, maar aan sy voordrag kan ’n mens sommer sien Toks is ’n baie gawe ou.

Mense wat goeie dinge gedoen het in moeilike tye

Hoekom is daar deesdae so min gawe of goeie mense? So min regtige goeie goed?

Met alle respek gesê, daar is wel nog steeds goeie Afrikaanse liedjies, maar die meeste tunes wat jy op die radio hoor, klink maar alles bra dieselfde. En dis nie net Afrikaanse musiek wat die probleem het nie. My jongste dogter het in ’n stadium opgehou om na moderne popmusiek luister, want sy het rock ’n roll uit die 60’s ontdek.

“Daar is nie vandag meer goeie musiek soos die Beatles nie,” is haar oorwoë mening.

En sy weet waarvan sy praat, want sy is op die alwyse ouderdom van 16.

Ai, om terug te keer na Jak se liedjie.

Daai liedjie is so lekker, dit vat my so ver terug, terug na die musiek voor my tyd, voor ek en my vriende begin vloek en suip en protesteer het op die verhoog.

Goed, die protes en alles was seker ook nodig, maar ek besef nou eers ek is al die jare al heimlik ’n bietjie jaloers op die liedjieskrywers van die geslag voor ons, die briljante klompie komponiste en digters van die Musiek-en-Liriek-era.

Daar was minder issues gewees in hul tyd. Hulle het nog die luukse daarvan gehad om suiwer op die kwaliteit van elke liedjie te fokus. Dit het al hulle aandag geverg; niemand het nog tyd oor gehad om te probeer cool of weird wees nie.

Niemand onthou vandag of Wolraad Woltemade ’n wit man, ’n bruin man of dalk selfs ’n swart man was nie.

Jak se liedjie gryp terug na daardie era. Dit vul ’n mens met emosies wat ek al amper vergeet het. Dit vat jou terug na ons vroeë idealisme, toe ons almal nog soveel geloof gehad het in ons land en in ons kultuur, vir alles wat Suid-Afrika puik gemaak het in die ou tyd, vir alles wat ons nog kan puik maak in die toekoms as ons net kan onthou hoe ons dit destyds reggekry het.

Ek dink aan die Wêreldbeker-oorwinning van 1995.

Ek dink aan die dag toe Mandela hand aan hand met Winnie uit die tronk gestap het. Ek onthou sy toespraak, kort daarna, by die sokkerstadion in Soweto. Almal van ons wat daar was daardie dag, was so trots op wie ons was, en ons het so vas geglo in wat ons kan word.

Ek wil so graag glo in hierdie land. Dat ons saam ’n beter toekoms kan skep.

Ek dink aan allerhande dinge wat vir my die idee van “kwaliteit” versinnebeeld. Dinge en mense en gebeure wat ons land opgehef het uit die doldrums van visieloosheid en ons laat glo het ons kan ons stempel op hierdie planeet afdruk.

Chris Barnard se eerste hartoorplanting.

Ladysmith Black Mambazo se oomblik van glorie met die album “Graceland”.

Die openbare loopbane van mense wat ek bewonder, mense wat goeie dinge gedoen het in moeilike tye, mense wat ’n verskil gemaak het. Mense soos Thuli Madonsela, Desmond Tutu, Breyton Paulse, Adam Small . . .

Ag, hel, jy kan teruggaan tot by Wolraad Woltemade as jy wil.

Niemand onthou vandag of Wolraad Woltemade ’n wit man, ’n bruin man of dalk selfs ’n swart man was nie. Dit word nêrens genoem nie. Dis nie nodig nie. Hy was net ’n Suid-Afrikaner. En hy het sy lewe gegee vir ander Suid-Afrikaners. Soos Racheltjie de Beer en Klara Majola was hy eenvoudig ’n dapper en onselfsugtige mens, ’n kwaliteit-Suid-Afrikaner in murg en been.

Ons het helde nou bitter nodig

Ek wil so graag glo in hierdie land. Dat ons saam ’n beter toekoms kan skep. Dat daar nog helde sal opstaan soos die helde van die verlede.

Ons het hulle nou bitter nodig.

En as ek na Jak se liedjie luister, word dit skielik weer vir my moontlik om te glo.

Want nog feitlik elke keer in die geskiedenis wanneer ons spesie op aarde sy grootste duisternis beleef het, het daar, op presies die regte oomblik, die regte mense verskyn, mense wat die rigting aangedui het na ’n beter toekoms.

As die reën saggies val

Oor Senekal

En die Springbokke speel weer

Soos ’n vyftiental

As dit goed gaan met die mense

Van hier tot die Karoo

Dan sit Toks van der Linde

Met ’n glimlag in sy oë . . . ”

Mag die hoop nie beskaam nie!

* Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.