Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: Wat ek op Mandeladag wil doen
Hy wens hy kon Sondag op Mandeladag vir 67 minute saam met sy ma langs die see gaan stap, skryf Koos Kombuis. Dan sal hy weer besef dat die chaos verby sal gaan, want dis net die liefde wat vir altyd is.

Nelson Mandela Skets: Koos Kombuis

“Ain’t talkin’ . . . just walkin’ . . . Walkin’ through the cities of the plague . . . ” – Bob Dylan

Hierdie Sondag is Nelson Mandela se verjaardag.

Hy sou 103 jaar oud geword het.

Ek is bly dat hy nie meer lewe nie. Ek dink dit sou sy hart gebreek het om te sien wat hierdie week in Suid-Afrika gebeur.

Ek kan nie ophou om aan hom te dink nie. Ek blaai weer deur sy outobiografie. Ek weet watter vooruitsigte hy vir Suid-Afrika gehad het. Van ’n land waar alle rasse in vrede saamleef, en waar die mislukkings en die haat en die polarisasie van die verlede genees is.

In ’n stadium het ek in hierdie afgelope week my televisie afgeskakel, my selfoon by die huis gelos, en net die stilte van my eie gedagtes opgesoek.

Ek dink terug aan die week toe Nelson Mandela dood is.

My ma is in daardie selfde week dood.

Sy het altyd gesê sy sal langer leef as hy. Want, het sy geskerts, vroue is sterker as mans.

Vandeesweek dink ek weer aan Mandela.

En ek dink weer aan my ma.

Ek verlang na my ma in hierdie tye van anargie.

Een van die goeie herinneringe aan my ma is ons wandelinge langs die see by Nature’s Valley.

Wanneer my pa en die ander gesinslede nie by was nie, was dit asof sy haarself met my kon wees, en dan kon sy dinge aan my erken wat sy nooit voor hulle kon erken nie. Soos hoe ongelukkig sy werklik in haar huwelik was.

Ek verlang na my ma in hierdie tye van anargie.

Daar is soveel dinge van my ma en van die ouer geslag wat ek nooit kon verstaan nie.

Ek verstaan nie die laaste brief wat my pa aan my geskryf het nie. Toe hy vir die eerste keer erken het dat hy my vir altyd wou laat toesluit het.

Ek verstaan nie hoekom my ma niks gedoen het toe my pa my by Saal Ses gaan aflaai het nie.

Ek verlang na my ma, en ek dink: Hoe vergewe ’n mens werklik?

Hoe het Madiba dit reggekry om te vergewe?

Ek weet nie.

Die verlede is ’n ideaal van demokrasie wat platgeslaan is, en weer probeer opstaan.

Al wat ek dink, is dat ek graag hierdie Sondag langs die see wil gaan stap saam met my oorlede ma. Vir minstens 67 minute.

Ons hoef nie oor die verlede te praat nie. Ons hoef glad nie te praat nie. Ek soek nie meer verduidelikings vir my pa se gedrag nie. Ek wil nie meer weet hoekom sy te bang was om sy besluite teen te staan nie.

Ek wil net hê sy moet weet ek is lief vir haar, al het sy dit gedoen.

As ek dít kan regkry, kan ek ook maar oudword soos Madiba, en eendag in vrede die ewige rus ingaan.

Die verlede is ’n geplunderde winkel. Die verlede is ’n geblokkeerde straat. Die lewe is ’n parking lot vol debris en bloed en pyn.

Die verlede is ’n mislukte staat, ’n disfunksionele munisipaliteit, ’n highway vol slaggate, haweloses wat op elke straathoek bedel.

Hoe oorkom jy die verlede? Hoe bou jy ’n toekoms, wanneer jou hande leeg is en daar is niks om mee te bou nie?

Koos Kombuis

En tog gaan die chaos weer eendag verby. Dit kan opgeruim word. Môre is nog ’n dag.

Dis net liefde wat vir altyd is. Liefde, en die vermoë om te sê: “Ek is nie meer kwaad nie.”

Ek wil Sondag vir 67 minute lank met my oorlede ma langs die see stap. In stilte.

Ons kan luister na die meeue en kyk na die branders en weer met ons tone in die nat sand patrone maak soos toe ek ’n kind was en sy saam met my by Nature’s Valley langs die see gestap het.

Ek wil saam met haar stap tot aan die einde van die strand, en dan wil ek haar laat gaan, en alleen terugstap.

Die verlede is ’n afgebrande huis.

Die verlede is ’n kind wat verkrag is.

Die verlede is ’n regering wat gefaal het.

Die verlede is ’n ideaal van demokrasie wat platgeslaan is, en weer probeer opstaan.

Soos ’n bokser.

Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Nelson Mandela  |  Suid-Afrika  |  Demokrasie  |  Mandeladag  |  Versoening  |  Anargie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.