Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kopanong hoop vir die toekoms
Gert Coetzee

As jy hoop wil vind in Suid-Afrika in hierdie dae van die Zuma-aanslag op die staatskas, moet op prinse, vorste en Ramaphosas nie vertrou nie. Of die land se realiteite abrakadabra wil wegwens nie. Fokus eerder op die reaksie – persoonlik en kollektief – en op die realiteite, sodat die toekoms daardeur gerig word.

Vir ’n praktiese voorbeeld van dié pragmatiese benadering, volg Fortstraat uit Bloemfontein se middestad en ry dan verder met Dr. Belcherweg, verby die Pelonomi-hospitaal, tot waar dit Dewetsdorpweg word. Draai regs in Sangirostraat en hou aan tot waar Freedom Square, Chris Hani en Turflaagte mekaar ontmoet – tuiste van Bloemfontein se armste armes.

Werkloosheid ontketen ’n kringloop van negatiewe effekte, maar die mense probeer staande bly deur daagliks pendelwerk in die “stad” te gaan doen.

Die sinkhuisies in die stofstrate het songebakte erwe met klipharde grond van al die skoonvee. In die middel van die uitsigloosheid is ’n baksteengebou met ’n groen grasperk waar ’n John Deere-grassnytrekkertjie staan.

Kopanong Secondary School staan op die groot embleem bo die ingang. Die leuse: “Together we can”. Verlede jaar is berig oor dié townshipskool wat nou ’n “simbool van hoop” is. Dit was ná ingryping onder dr. Henk Boshoff, staatsdienskommissaris in die Vrystaat, toe die skoolterrein in Januarie verlede jaar vol vullishope aangetref is en die toilette só verstop het dat dit onbruik-baar vir 1 600 leerlinge was.

Naas opknapping van die terrein, het in 2016 se eindeksamen net een van Kopanong se 157 matrieks gedruip, wat aan die skool ’n slaagsyfer van 99,4% besorg het.

Lang storie kort: Naas opknapping van die terrein, het in 2016 se eindeksamen net een van Kopanong se 157 matrieks gedruip, wat aan die skool ’n slaagsyfer van 99,4% besorg het. Van hulle het 48,4% vir toelating tot tersiêre onderrig gekwalifiseer. Op die Motheo-distrik se lys matriekskole vir verlede jaar is Kopanong sestiende, beter as meer bekende stadskole.

Selfs vóór die ommekeer het die skool sedert 2012 jaarliks ’n slaagsyfer van sowat 90% of meer behaal, wat die belangstelling in sy potensiaal staaf.

Met die onlangse besoek aan Kopanong vir insae oor die vordering, is dit kort voor 14:00 op ’n weeksdag. Die klasse is vol en onderwysers gee oral les aan die leerlinge in hul grys-en-maroen skooldrag. Johannes Melesi, skoolhoof, is te vinde in ’n klaskamer. Hy is verbaas oor die besoekers.

Eers wys hy die groot omheinde tuin langs die skoolgebou uit waar leerlinge tydens pouses kuier en in LO-periodes oefen.

Volgens Melesi was die vestiging van die “groen strook” – uitsonderlik in die township – die sneller wat leerlinge en personeel spontaan laat meehelp het om as “eienaars” hul skool met die aanplant van gras en bome te omskep.

Melesi vertel baie leerlinge kom uit “kinderhuishoudings” met geen ouers nie of albei ouers wat elders werk. Die voedingsprogram by die skool is noodsaaklik. Vir twee matriekmeisies is ’n permanente blyplek by die skool ingerig. Hulle studeer tot laatnag. Die druipeling van 2016 is ’n “Christen-meisie” wat haar nie laat onderkry het nie, maar nou weer eksamen in haar druipvak gaan skryf. Talle oudleerlinge is beroepslui, insluitend drie dokters. Omgee, saamwerk en dissipline is sleutelelemente, vertel Melesi, vir wie onderwys ’n “roeping” is. Die druk is hoog vanweë die stroom hoopvolles wat by die aansteeklike gees wil inskakel. Die leerlingtal vanjaar is 1 700 (plek vir 900) met meer as 60 leerlinge per klas in laer grade en meer as 40 in matriek.

Die skool sien kans, maar dit gaan bars met die bestuur van sy reaksie, naamlik funksionaliteit.

Die uitdaging is om honderde ander Suid-Afrikaanse skole in ongunstige toestande op dié peil te kry. Sodat hulle ook toekomsmodelle word.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.