Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korea staan voor ’n ramp oor kostekort

’n Hongersnood van yslike omvang dreig in Noord-Korea, een wat moontlik erger kan wees as die een van die 1990’s, toe ’n geskatte drie miljoen mense van honger omgekom het.

Dit is bitter moeilik om agter te kom wat in die hermeties geslote kluisenaar-diktatuur aan die gang is. Selfs mense wat ’n studie van die land maak, moet dikwels die gapings met gissings vul. Dié keer kan daar egter geen twyfel wees oor wat aan die gang is nie. Die diktator, Kim Jong-oen, het dit self aangekondig.

Op ’n konferensie van die enigste toegelate party, die Kommuniste, het Kim inwoners gewaarsku hulle moet hulle vir swaar tye voorberei. Sy woorde aan amptenare was “om nog ’n, selfs moeiliker, ‘Vermoeiende Mars’ uit te voer om ons mense se probleme te verlig, selfs net ’n bietjie”.

Hy het bygevoeg dat die land voor die ‘slegste situasie ooit’ staan . . .

Die “Vermoeiende Mars” waarna Kim verwys het, was ’n begrip wat geskep is om die ramp van die 1990’s te beskryf en te versluier. Hy het bygevoeg dat die land voor die “slegste situasie ooit” staan, met “verskillende uitdagings sonder presedent”.

Dat Kim reguit gepraat het, en – nog belangriker – dat hy toegelaat het dat die woorde aangehaal word, is sonder weerga in die land se geskiedenis. In ’n totalitêre diktatuur soos Noord-Korea is daar immers geen ernstige probleme nie, en dié wat wel bestaan, word dapper die hoof gebied deur miljoene glimlaggende en singende mense wat álles oorwin.

Waar kom die huidige probleem vandaan? Ook daaroor moet ’n mens gis: Die Covid-19-pandemie (waarteen die regering blykbaar nie veel gedoen het nie), swaar reën en oorstromings wat ’n beduidende deel van die oes vernietig, plus min of meer die strengste ekonomiese sanksies nog teen enige land.

Luidens sommige berigte kos ’n kilogram graan langs die grens met Suid-Korea nou al soms meer as ’n maand se inkomste.

Verskeie agentskappe van die Verenigde Nasies het ook die laaste tyd gewag gemaak van ’n toenemende gebrek aan kos in die land. Verskeie sterfgevalle weens honger is reeds aangemeld. Daarby kom natuurlik die rampspoedige kommunistiese beleid, asook die feit dat ’n beduidende deel van die land se piepklein ekonomie in kernwapens gestop is.

Dit is verder veelseggend dat Kim self die dreigende hongersnood bekend maak. Hoekom dit só is? Selfs hieroor moet gegis word.

Een moontlikheid is dat die diktatuur ’n groeiende ontevredenheid onder die bevolking aanvoel, en dat hy meen deursigtigheid kan die ergste gevoelens ontlont.

Sanksies maak dit in beginsel onmoontlik dat die buiteland Noord-Korea te hulp snel. Maar as Noord-Koreaanse vlugtelinge by die honderdduisende oor die grense na China en Suid-Korea begin stroom, sal dié lande waarskynlik gedwing word om hulp te verleen.

  • Scholtz is ’n vryskutjoernalis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.