Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korona belig die vermoë-gebreke
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Almal van ons is besig om die effek van die staat van inperking te voel. Om vir amper ’n maand vasgekeer te wees in jou huis, voel soos huisarres.

Maar die middelklas het ten minste kos om te eet, toegang tot die internet en ander vorme van vermaak.

Intussen is daar duisende mense wat besig is om te verhonger. Party het dae laas geëet. Ons het reeds in Kaapstad die vandalisering van winkels gesien, en die getal hongeres by sopkombuise raak daagliks net meer. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons grootskaalse kos-oproer gaan sien.

Suid-Afrika is die mees ongelyke land ter wêreld, met die grootste gaping tussen ryk en arm. Hierdie gaping kan toegeskryf word aan werkloosheid, ontoereikende skoolopvoeding en armoede.

Dit is deel van ’n groter globale prentjie waar lande wat voorheen kolonies was, hierdie hoë ongelykheid ervaar. Covid-19 wys duidelik hierdie gaping uit.

In ontwikkelde lande in Europa en Noord-Amerika het die meeste mense tydens inperking toegang tot kos en mediese sorg, al het mediese instellings op die oomblik ’n gebrek aan bronne en word dit oorweldig deur die getalle mense wat geïnfekteer is.

In Afrika wag ons nog vir die ergste, wat beteken dat baie groot getalle mense kan sterf omdat die nodige sorg net nie beskikbaar is nie.

In Afrika wag ons nog vir die ergste, wat beteken dat baie groot getalle mense kan sterf omdat die nodige sorg net nie beskikbaar is nie.

Amartya Sen, wat in 1998 die Nobelprys vir ekonomie gekry het, se teorie oor vermoëns (“capability approach”) behoort weer eens aandag te kry in hierdie tyd waar Covid-19 so duidelik die ongelykhede uitwys.

Volgens Sen behoort alle mense oor die vermoëns te beskik wat dit moontlik maak om ’n lewe wat die moeite werd is te lei. Watter soort vermoëns mense nodig het, sal verskil, maar vermoëns moet gesien word as ’n doel opsigself, nie ’n middel tot ’n doel nie.

Martha Nussbaum, ’n feministiese filosoof, het dié benadering verder uitgebrei en ’n lys van vermoëns opgestel wat sy dink nodig is vir mense om ’n goeie, menswaardige lewe te lei:

1. Lewe: Om in staat te wees om ’n goeie lewensverwagting te hê en nie te vrees dat jy vroeg sal doodgaan nie;

2. Gesondheid: Om gesond te kan lewe, om genoeg kos en ’n woning te hê;

3. Liggaamlike integriteit: Om vry te kan beweeg en om nie blootgestel te wees aan aanranding, seksuele aanranding of verkragting nie;

4. Sintuie, verbeelding en denke: Die vermoë om uiting aan ons kreatiwiteit te gee (self-uitdrukking), en ’n voldoende onderwysstelsel;

5. Emosies: Om in staat te wees om emosionele bande met ander te vorm, om lief te hê, om te treur en om uiting aan geregverdigde woede te gee;

6. Praktiese rede: Om in staat te wees om jou lewe te beplan en oor jou lewe te reflekteer;

7. Affiliasie: Om in staat te wees tot sosiale interaksie en ’n lid van ’n gemeenskap te wees;

8. Ander spesies: Om in ’n goeie verhouding met die natuur te kan leef;

9. Speel: Om te kan lag, speel en rekreasie-aktiwiteite te kan geniet;

10. Beheer oor ons omgewing: Om te kan deelneem aan politieke besluite, en om in staat te wees om eiendom te besit sodat jy nie blootgestel word aan wispelturige verskuiwings nie, en om te kan werk.

As ons na hierdie lys kyk, dan is dit duidelik dat die groot meerderheid Suid-Afrikaners oor baie min van hierdie vermoëns beskik – en Covid-19 plaas dit in die kollig. Menswaardigheid is dié basiese beginsel van die Grondwet – ons sal moet begin om bronne meer eweredig te versprei.

  • Martha Nussbaum: Women and Human Development (2000), Cambridge University Press
  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.