Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korona gaan die politiek omkeer

In 1992 het die Amerikaanse politieke wetenskaplike Francis Fukuyama in sy The End of History and the Last Man die liberale demokrasie as die oorwinnaar in die stryd tussen demokrasie en die kommunisme van die ou Sowjetunie verklaar – of soos dit deur sommige vertolk is, die einde van ideologie.

Henry Jeffreys

Fukuyama was reg, maar net tot op ’n punt. Hy het nie rekening gehou met die opkoms van China as ’n supermoondheid, of Wladimir Poetin nie, ’n hervormde kommunis wat duidelik nog hunker na die gloriedae van die Sowjetunie. Poetin hou wel gereeld veelparty-verkiesings in Rusland, maar hy is g’n vriend van die demokrasie nie.

Die liberale demokrasie is oral onder druk, selfs in sy tradisionele vesting, Amerika, waar pres. Donald Trump nuwe betekenis gee aan die konsep van konserwatisme. Trump skroom nie om grondwetlik verdag op te tree nie.

As Fukuyama in die vroeë 1990’s korrek was dat ideologie dood is, dan hou ons in 2020 die begrafnis, grotendeels weens Covid-19.

In 1994 was Suid-Afrika deel van die triomf van liberale demokrasie oor kommunisme, ongebreidelde sosialisme en rasgegronde nasionalisme. Ons het liberale grondwetlikheid omarm en dit die hoeksteen van ’n nuwe regeringstelsel gemaak. Nie almal is egter oortuig van die grondwetlike demokrasie nie.

Daar is sterk stemme wat gehoor kan word in die ANC wat nog glo aan en hunker na ’n onderdrukkende vorm van demokrasie en ekonomie. Die ANC se hoofsekretaris, Ace Magashule, was een van die min stemme wat krities was oor die Covid-19-hulppakket wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het.

Verbeel jou vir ’n oomblik wat sou gebeur het as Jacob Zuma nog president was.

Hy het kwansuis gewaarsku teen hulp van instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), maar sy reaksie was eintlik gerig op Ramaphosa. Hy vrees glo inmenging in die land se onafhanklike beleidstelling, iets wat gewoonlik met IMF-hulp gepaardgaan. Dit is egter net ’n rookskerm vir diepgewortelde gevoelens jeens die president.

Oor een ding kan ons seker wees: Covid-19 gaan op die duur alles verander, insluitend die politieke en die ekonomiese kultuur, en optrede. Die werkplek en die manier van sake doen, die manier van opvoeding in skole en tersiêre instellings is besig om onherroeplik te verander en sal nie sommer maklik na die ou weë terugkeer nie.

Ons kan dankbaar wees vir die leierskap wat ons in hierdie onseker tye het. Verbeel jou vir ’n oomblik wat sou gebeur het as Jacob Zuma nog president was. Die hulppakket van R500 miljard sou ’n oop teiken vir plundering wees.

Ramaphosa moet bedag wees hierop en seker maak dat die lewensboei wat hy die land bied, nie vir duistere redes aangewend word nie. Die staatsdiens en die politieke sektor is nog lank nie van korrupte elemente gesuiwer nie.

Dit is moeilik om te sien hoe gevestigde ideologieë soos kapitalisme, sosialisme en kommunisme ná Covid-19 kan herrys. Niks is natuurlik onmoontlik nie. Niemand het ’n Tweede Wêreldoorlog verwag ná die verwoesting van die Eerste Wêreldoorlog nie. Tog het dit gebeur, op ’n wyer, groter en meer vernietigende skaal.

Een ding omtrent Covid-19 is dat dit die mensdom dwing om weer om te gee. Daar is wel lelike voorbeelde van desperate mense wat hulle aan vergrype skuldig maak deur onder meer te roof en te plunder, maar dit word oor ’n wye front oortref deur mense se kapasiteit vir omgee vir ander en hoe hulle ander te hulp snel in tye van nood.

Die verskynsels van vergrype en mededeelsaamheid sal ’n impak hê op ons politiek. Hoe blywend en negatief of positief, sal net die tyd leer. Ons kan nietemin aanvaar dat die wêreld soos ons dit geken het voor Covid-19, nooit weer dieselfde sal wees nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Koronavirus  |  Henry Jeffreys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.