Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Korona, hy kô hystoe’: ’n Brief aan my Kaapse mense

Dit lyk of baie van ons nog nie besef dat dit in die tyd van inperking binne ons vermoëns is om ’n verskil in ons eie en in ander se lewens te maak nie, skryf Heindrich Wyngaard.

Mense staan Maandag tou voor ’n winkelsentrum in Eersterivier. Foto: Jaco Marais

Hier in Johannesburg, waar ek myself sedert 16 Maart bevind – ingeperk weens die Covid-19-pandemie, soos ook julle nou, en soos miljoene ander in Afrika, Asië, Europa, Noord- en Suid-Amerika – is die ergste van die hele besigheid vir my nie soseer dat die virus soos ’n veldbrand versprei nie of dat mense daaraan sterf nie.

Dit is erg, ja; hartseer, ja. Skokkend, bepaald. Hierdie siekte en hierdie sterftes. Dis altyd so wanneer sulke dinge met mense gebeur – selfs al gebeur dit ver van ’n mens af, selfs al is dit nie jou eie vriende of familie of mede-dorpenaars of landgenote wat regstreeks geraak word nie.

Maar dalk die ergste van als wat hierdie #lockdown betref, is die nuus wat jou deur Facebook en WhatsApp bereik, nuus wat dit duidelik maak dat baie van ons nog nie besef dat dit binne ons vermoëns is om in hierdie tye ’n verskil in ons eie en in ander se lewens te maak nie.

Ons loop op en af in die strate van die Skiereiland, Koue Bokkeveld, Overstrand, Boland, Theewaterskloof, ons kuier oor en weer, ons laat die kinders buite speel, en ons vorm lang rye by die winkels (selfs al laat die inperkingsregulasies toe dat ons daagliks kos mag gaan koop). Ons sien dit gebeur ook mos in die res van die land, so hoekom nie?

Maar waarom, moet ek vra, kan ons nie eenvoudig onsself polisieer deur die regulasies te eerbiedig nie?

Dis amper asof die owerhede uitgetart word; asof mense oortuig wil word dat hulle wél vasgevat gaan word. En hulle ís vasgevat – hoewel die polisie en die weermag op patrolliediens sulke tye liederlik uitgeskel word, aangeval word en nou weens beweerde (en wel onaanvaarbare) hardhandige optrede onder skoot kom.

Maar waarom, moet ek vra, kan ons nie eenvoudig onsself polisieer deur die regulasies te eerbiedig nie?

“Ten spyte van die regering se pogings om te verseker dat mense tuisbly, is talle mense in hegtenis geneem en beboet omdat hulle nie die Covid-19-inperkingsregulasies nakom nie,” lui ’n mediaverklaring van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. En asof dit nie al by herhaling gesê is nie, beklemtoon hy nogmaals: “Hierdie regulasies is ingestel om die verspreiding van die koronavirus te vertraag sodat ons gesondheidstelsel nie deur ’n skielike styging in getalle oorweldig word nie.”

Ons skep egter steeds die indruk dat ons nie bewus is daarvan dat elkeen van ons se optrede sal bepaal of ons help om die verspreiding van die virus te voorkom óf ten minste die spoed van verspreiding te vertraag nie.

Ons lewe skynbaar in ontkenning dat ons optrede kan bydra tot die vermenigvuldiging van infeksie-gevalle en tot die opstapeling van lyke kan lei.

Polisiemanne by ’n padversperring in Elsiesrivier. Foto: Jaco Marais

Wát is dit wat ons só laat reageer, só laat optree? Nie ’n duit laat omgee nie? Wat veroorsaak dat ons voortgaan asof daar niks fout is nie, asof dit mos hoeka min met ons uit te waai het? Hoekom lyk dit uit ons houding asof ons dink dat ons gevra word om ander mense se gemors skoon te maak? Die virus kom mos uit China – ver van hier af, sê ons seker nog vir mekaar.

Maar, o wee, as China in Desember nog ver was toe die virus sy kop uitgesteek het, is dit lankal nie meer so ver soos wat die wêreldkaart of Google Maps wys nie. Jy kan slim wees en terugkap dat dit steeds so ver is as jy dit in kilometer of lugmyle meet en jy is natuurlik in die kol. Solank jy terselfdertyd erken dat daar ander maniere ook is om afstand te meet, juis in hierdie krisistye, en dit is naamlik hoeveel Covid-19- of korona-gevalle tans in ons land en in die res van die wêreld voorkom.

Sien, die virus kom soek jóú.

En ek weet, toe die eerste gevalle hier rugbaar word – eers in KwaZulu-Natal – toe doen dit nog altyd niks aan ons nie. Weet jy ooit waar’s KwaZulu-Natal? het sommige seker leedvermakerig aan ’n vriend of gesinslid gevra. En gelag, uitbundig, en miskien ook agterna gehoes. Ons bly mos hier, sou die vraagsteller sê. Dis vér van ons af. Niemand van hier reis in elk geval tot daar in KwaZulu-Natal (of die Noord-Kaap of Gauteng) of na die buiteland nie.

Behalwe dat, soos ons weet, jyself nêrens hoef te gaan soek na die virus nie. Jy hoef net die huis te verlaat, oor die straat te stap, winkel toe te gaan, inloer by vriende of in ’n onwettige kuierplek te gaan keel natmaak. En, o ja, ook nalaat om jou hande gereeld te was – en dan, ta-dáá! Sien, die virus kom soek jóú – en die virus vínd jou as jy in aanraking gekom het met iemand wat met iemand anders in aanraking was, wat ook met iemand in aanraking gekom het nadat daai iemand met nog iemand in aanraking gekom het . . .

Waar lyding is, is ook hoop

Soldate praat met ’n inwoner van Joe Slovo-park naby Milnerton. Foto: Jaco Marais

’n Mens kan nou net hoop dat dit beter gaan daar by julle noudat die gevalle in die Wes-Kaap reeds teen ’n stewige pas groei. Noudat jy nie jou nie meer kan verontskuldig en uitroep dat die virus van ver af kom nie! Korona, hy het hystoe gekô. En “hys” beteken oral: In die Kaapstad, in die Kaapse Wynlande, die Tuinroete en die Overberg; dis in die metro-substreke, Mitchells Plain en Khayelitsha; en dis ook (toe ek laas gekyk het) in Bitou, Stellenbosch, Drakenstein, George, Overstrand, Theewaterskloof, Breedevallei, Hessequa, Mosselbaai en Swellendam.

Dié verspreiding was die groot vrees. Dit is waarom daar deurentyd ’n beroep op almal van ons gedoen word om ag te slaan op die inperkingsmaatreëls: Bly by die huis; was jou hande; hou jou afstand van ander mense.

Maar hóór is verloor.

Winde stel dit duidelik in sy verklaring dat indien mense nie hou by die voorgeskrewe regulasies nie, plaas hulle hul eie lewe én ander s’n in gevaar. Maar ten spyte van dié waarskuwing is daar steeds “heeltemal te veel” mense wat nie die inperking ernstig opneem nie – en “dit is hierdie gemeenskappe wat in die komende weke die hardste deur die stygende infeksies getref sal word”.

Watter regdenke mens sal nie ag slaan hierop nie?

’n Weermag-patrollie in Milnerton. Foto: Jaco Marais

Of is daar ’n probleem met die wyse waarop die boodskappe van regeringskant af deurgegee word? Is die platforms waarop die bewusmaking geskied – meestal aanlyn en op radio en televisie en ook in die koerante – ontoereikend? Indien wel, hoe moet dit dan gedoen word?

Sou ons verkies dat daar met ’n bakkie in jou buurt rondgery word of op die straathoek en op die veldjie geparkeer staan met ’n aankondigingstelsel, soos die Apostolies wat kerk hou of die oom wat sy gospel-CD’s verkoop of die vrugte- en groente- of visbakkie wat naweke omkom?

Of is dit die taal wat die probleem is? Té hoog, bó ons vuurmaakplek? Moet ons daai vrou kry wat in een van die (Engelse) stemnotas praat wat die ronde doen, die vrou wat voorstel, erg gefrustreerd, dat die virusrisiko op dié wyse aan mense verduidelik moet word: “Jy sien, dít is virus, reg? Beweeg jy, beweeg virus; staan jy stil, dan staan virus stil. So jy moet stilstaan binne die huis en jou wegsteek sodat virus jou nie sien nie, sien jy? En as virus jou nie sien nie, dan sterf virus.”

Maar waar daar lyding is, is daar altyd ook hoop. Dit doen daarom die gemoed goed, hier ver van die huis af, om te verneem dat die polisie en private sekerheidsmaatskappye in Robertson saamspan om te verseker dat mense hou by die inperkingsvoorskrifte.

In Wellington se PnP blaas die fluitjie uurliks dat personeel alles net so los vir ’n reinigingsoefening; in Kuilsrivier hang my vriend Danie van Wyk die landsvlag by sy voordeur om ander Suid-Afrikaners aan te moedig om ook húl patriotisme in hierdie dae te vertoon; (en as jy nie ’n landsvlag byderhand het nie, stel ek voor, gebruik enigiets wat jy reken die simboliek sal uitbeeld: ’n vuvuzela, ’n braaitang, jou gunsteling-rugbyspan se trui).

En dan is dit veral ook verblydend om die goedhartigheid raak te lees van mense wat kos aan die behoeftiges uitdeel en versoeke vir materiaal om inkleurboeke vir kinders in informele nedersettings te maak. Om die inperkingsperiode ook vir hulle meer draaglik te maak.

Ons kom al van ver met siekte, geweld en die dood

Heindrich Wyngaard

Siekte en die dood is in geen land ter wêreld iets nuuts nie; siekte en die dood is ook aan ons mense, dié wat hulself bruin mense noem, bekend, óórbekend.

Dít en geweld.

Ons kom van ver af met siekte en geweld en die dood aan – van selfs vóór die kolonialiste hier in 1652 voet aan wal gesit het, hier kom penne inslaan het, kastele en slawelosies gebou het, en siektes uit Europa gebring het.

Groot getalle van ons mense is ook in die Groot Griep-pandemie van 1918 uitgewis. En ons leef al lank saam met MIV en tuberkulose, laasgenoemde ’n geneesbare siekte wat veral onder ons mense maai.

In die onlangse verlede was dit spesifiek ook geweld waaraan ons ontkom het, staatsgesanksioneerde geweld onder die ou bedeling, asook die geweld onderling waarmee ons mekaar steeds naweek ná naweek afmaai.

“Die polisie sê die oorledene is tydens ’n stryery met ’n skerp voorwerp gesteek,” lui die nuusberigte gewoonlik. “Die slagoffer en die aanvaller is bekend aan mekaar.” Of: “Die oorledene het in ’n skietery tussen strydende bendefaksies gesterf.”

Het dit ons afgestomp vir die dood gemaak? Het dit die waarde, die kosbaarheid van die lewe in ons bestaan uitgewis? Of gee ons nie om vir die nuwe swerwende siek- en doodmaker in ons midde nie omdat ons hoop dat die regering ook voortaan vir korona-slagoffers maatskaplike toelaes sal aanbied?

God weet alleen.

Ons is die Vincent van Goghs van ons tyd. Ons sny ons eie ore af.

* Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Alan Winde  |  Boland  |  Overstrand  |  Polisie  |  Pandemie  |  Weermag  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Groot Griep  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.