Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korona se harde en nodige lesse
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Ek voel die afgelope paar dae al nie myself nie. Die gewone roetines bestaan nie meer nie. Ek mis die sosiale omgang met vriende en kollegas, die mense op straat en die joligheid van studente. En dit is net die begin.

Vir my is dit haas ondenkbaar dat my wêreld van ’n week gelede totaal verander het. Ewe skielik is ons wêreld so groot soos die vloeroppervlak van ons huis. Ons harte behoort dus uit te gaan na mense wat in informele nedersettings woon.

Nog nooit in die moderne geskiedenis van die mens het ons so ’n situasie beleef nie. In ’n globale wêreld met oop grense versprei ’n virus teen die spoed van lig – en Covid-19 maak seker dat dit élke voordeel daaruit trek.

Ek glo dat wat ons hier sien, die natuur se manier is om te sê genoeg is genoeg! Dit is ’n direkte aanklag teen ons misbruik van die natuur, ons gebrek aan omgee vir diere, en ons algemene gebrek aan ’n etiek van versorging teenoor ons medemens.

Hierdie virus gaan die mens dwing om te kyk na ons hebsug en gulsigheid wat aangevuur word deur neoliberale kapitalisme, na ons misbruik van diere, en die ongelooflike oneweredige verspreiding van rykdom in die wêreld.

Nie een van ons het gereken dat ’n “gelyke-geleentheid-virus” ons só tot stilstand sou dwing nie.

Nie een van ons het gereken dat ’n “gelyke-geleentheid-virus” ons só tot stilstand sou dwing nie.

Vir te lank het ons gedink dat die vrye mark alles kan beheer. Die rykes kan hul mediese fondse bekostig, en dis baie jammer vir diegene wat nie kan nie. Nou sien ons wat gebeur as hospitale onderbefonds word en openbare mediese sorg afgeskeep word. Dit is nou in die belang van almal dat almal gehelp kan word.

Ons sien ook wat gebeur as wetenskap nie ernstig opgeneem word nie. Daar is wetenskaplikes wat al jare waarsku dat so iets kan gebeur, maar hulle is gesien as doemprofete.

Dieselfde wanbegrip bestaan oor mense wat waarsku oor aardverwarming en klimaatsverandering. Vandag het ons ’n stryd teen ’n virus, môre is dit dalk ’n gebrek aan water.

Die prys wat ons betaal, is baie hoog. By die 15 000 mense wêreldwyd is al dood en meer as 330 000 is siek. Vir elkeen van hulle is daar ’n menigte ander wat in rou gedompel is. Dit alles het verreikende ekonomiese gevolge.

Wat behoort ons hieruit te leer?

Wat behoort ons hieruit te leer? Dat regerings in staat is om met goeie leierskap verreikende besluite te neem wat ons bewegings beperk, maar ook dat hulle in staat is om mense wat nou sonder werk sit, se salarisse te betaal (soos in Engeland).

Dit beteken ook dat ons demokrasieë oornag polisiestate kan word om die irrasionele optrede van mense te beperk. Die staat is selfs in staat om mense te beboet vir fopnuus – hoekom het dit ’n virus geverg? Die gebruik en misbruik van drank in kroeë en kuierplekke is op ’n einde – miskien gaan ons nou besin oor hoekom ons so baie drink.

Van nou af gaan ons baie meer werk aanlyn moet doen, en ons sal uitvind dat ons koolstofvoetspoor onnodig groot is. Het ons werklik nodig om so baie te reis as ons vergaderings oor Skype of ander soortgelyke sagteware kan hou? Ons gaan op die harde manier uitvind wat ons prioriteite is.

Ons leer ook dat ons tot veel meer medemenslikheid in staat is as wat ons gedink het – oral sien ek klein gebare daarvan. Ons sal ook leer om sonder luukshede oor die weg te kom – en dan behoort ons te wonder of ons dit werklik nodig het.

Vir die volgende paar maande gaan ons hare op ons tande nodig hê. Alles is vreemd en ons gaan leer om anders te lewe. As alles verby is, het ons miskien meer volhoubare lewenswyses ontdek.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Menswees  |  Covid  |  Korona  |  Lesse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.