Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korona: Tyd vir noodtoestand

Hier kom sakke vol verdriet op hoëhakskoene na Suid-Afrikaners aangestap oor hul hardkoppigheid en verbysterende dwaasheid oor die nuwe koronavirussiekte Covid-19.

As iemand wat aan die ontvangkant was van die drakoniese noodtoestand wat in die 1980’s deur die PW Botha-regime afgekondig is, moet ek bely dat ek nooit kon dink dat ek ’n voorstander daarvan sou word dat ’n noodtoestand afgekondig word nie. Net iemand wat ’n noodtoestand eerstehands beleef het en wat sy skoolgeld betaal het in die stryd om vryheid vir ’n nierassige Suid-Afrika, sal weet hoe miserabel en kompleks dit is om onder ’n noodtoestand te leef. Jy is soos ’n voël in ’n voëlvanger se wip.

Maar met die Covid-19-pandemie wat nou wêreldwyd losgebars het en Suid-Afrikaners wat nie ’n bloue duit omgee of hulle ander mense se gesondheid en lewe in die gedrang bring nie, behoort die regering ’n landwye noodtoestand te verklaar.

Die nasionale ramptoestand wat verlede week deur pres. Cyril Ramaphosa afgekondig is, is duidelik nie voldoende nie, want ons mense is horende doof en maak asof dit ’n grap is.

Dus: ’n algehele inperking behoort die volgende stap te wees – al klink dit ook hoe wreed en despoties. Ons het vorige noodtoestande oorleef, ons sal nog een kan oorleef, want óf die regering bring die land tot stilstand óf die koronavirus gaan dit in ieder geval vir ons doen.

Mense steur hul eenvoudig nie aan die streng ramp-regulasies nie en gaan ongestoord voort met hul daaglikse lewe.

Mense steur hul eenvoudig nie aan die streng ramp-regulasies nie en gaan ongestoord voort met hul daaglikse lewe. Hulle stroom nog in hordes na winkelsentrums, strande, bioskope, dobbelhuise, swemgalas en huispartytjies, en daar is selfs biskoppe van kerke wat eenvoudig viervoet vassteek en weier om hul kerkbyeenkomste af te stel.

Hulle wil die spreekwoordelike Gods water oor Gods akker laat loop.

Dat 629 mense op een dag in Italië weens die koronavirus gesterf het, roer of beweeg hulle nie. Diesulkes is ook nog versonke in die oeroue denkpatrone dat hulle immuun is teen siektes omdat dit net ’n sekere ras tref – nieteenstaande die feit dat Covid-19 (net soos ander siektes) nie ras, geloof, ouderdom of geslag ken nie. Dit raak álmal.

Suid-Afrika is nog nie eens naastenby by die piek van die koronavirus nie. Die spreekwoordelike reis van ’n duisend myl het dus pas vir ons begin. Dis vreesaanjaend om te dink dat 240 Suid-Afrikaners in week twee reeds positief vir die koronavirus getoets is. As ’n mens ontleed, het die syfer binne ’n week meer as verdubbel. Ons volg dus min of meer dieselfde patroon as Wuhan in China.

Ons hospitale gaan onder enorme druk kom en hoe ons ook al daarna kyk, beskik ons gesondheidstelsel nie oor die nodige kapasiteit om elke potensiële Covid-19-pasiënt te akkommodeer nie. Dit is ook te betwyfel of ons genoeg asemhalingstoestelle het.

Dis heeltemal verstaanbaar dat mense bekommerd is oor hul werk, salaris, kerk en sosiale lewe, maar dooie mense trek nie ’n salaris nie, dooie mense kan nie werk nie, dooie mense kan nie na godsdienstige byeenkomste gaan nie en dooie mense kan nie sosiaal verkeer of deelneem aan sportgebeure nie.

Richard Nixon, ’n voormalige Amerikaanse president, het gesê nasies slaag net as hulle op ’n uitdaging kan reageer en as hulle kan verander wanneer die omstandighede en die geleenthede verandering noodsaak.

Om te slaag in hierdie uitdagende tye, is ’n noodtoestand dus die regte ding om te doen.

Dit het tyd geword dat die regering die satynhandskoene bêre en die ystervuis bal.

* Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Gesondheidsplanne  |  Covid-19  |  Beskermingsplanne  |  Planne  |  Virus  |  Minister  |  Besmettings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.