Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koronaparanoia is ’n siekte wat ons wil vermy
Jana Luther

‘Oordryf, ww., het oordryf; oordrewe: ’n Abnormaal vergrote weergawe van iets gee of iets sodanig voorstel dat dit verdraai voorkom of erger klink as wat dit werklik is: ’n Oordrewe bewering, gerug, stelling, voorspelling. “Alles wat daar gesê word, kon jy natuurlik nie as waarheid aanneem nie, want die meeste mense oordryf hul saak” (Woordeboek van die Afrikaanse Taal).

Wanneer nuus en gerugte, fopnuus en pampoenspoke die kuberruim vul: Wat is kopspeld, wat is koevoet?

Die wêreld is op hete kole. Inligting en waninligting, waarheid en verdigsel is hout op die vuur. Ons staar stip na die vlamme. Vuurwarm nuus hou ons vasgenael. Ook dié met hipokonders. Die swaarmoediges. Hulle wat uit gewoonte die pap dik aanmaak, die brood dik opsmeer, op die swarigheid teer. Die goed- en kleingelowiges. Die soetkoeketers wat hulle bittermakrolle vir koekies, knolle vir sitroene, perdedrolle vir vye laat verkoop, wat eet wat ook al aan hulle opgedis word, van eersteklas spyse tot koue pampoen. Die alarmblasers, nuusdraers, selfaangestelde wagters op die mure. Die aandikkers, bylassers . . .

Elkeen giet sy/haar bietjie olie op die vuur en blaas die vlamme aan.

Elkeen giet sy/haar bietjie olie op die vuur en blaas die vlamme aan.

Dat dié yster gesmee gaan word vir solank dit warm is, daarvan kan ons seker wees – ook dat dit nog lank gaan wees.

Watter kwaad kan dit tog doen? Feite op te pof, die hoorder, leser se verbeelding beter te pak? Of so ’n bietjie te chargeer, oordryf, die banges vir die gek te hou, hul vrese belaglik te maak?

Dit kook. Dit borrel, prut. Sake staan sus, vandag so. G’n wonder ’n nuusverslaggewer laat hoor nie: “Tussen slim mense wat fake news share en Afrikaanse nuuskommentators is ek gereed om weggeraap te word.”

Vir argeloos met feite omgaan, is nou die verkeerdste tyd.

So. Sak, Sarel. Stadig oor die kole. Hou kop. Moenie dat foppers en wolfskreërs jou bedot, vir jou ’n bril opsit nie. Moenie dat vals nuus ons in die boontjies kry, ons in die bottel steek, ons in die emmer sit nie. Al die oningeligte, ondeurdagte “kômmintaar” van weetalle wat nie lees nie, papegaaibekke wat praat-praat-praat, maar nie hot van haar ken nie, heeltyd aan die kwas bly trek, die klok hoor lui, maar self nie duidelikheid het oor waar die klepel hang nie . . .

Hou verby. Was liewer jou hande, bly op ’n veilige afstand en bewaar die deur van jou lippe, soos die Bybel sê. Moenie van kopspelde koevoete maak nie. Al baar die molshoop ook ’n berg.

Covid-19 is ’n werklikheid, maar koronaparanoia is ’n siekte wat ons liewer wil vermy.

Die spreekwoord sê nie verniet nie: Die middel is soms erger as die kwaal. Hoe paniek ons dié slegte situasie laat hanteer, het dalk nadeliger nadraaie as die situasie self.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.