Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korrupsie: Dagvaar regering vir kontrakbreuk

Die jongste bewerings oor korrupsie laat hom dink dat Suid-Afrikaners pres. Cyril Ramaphosa, sy kabinet en ANC-parlementslede in ’n klasaksie vir kontrakbreuk moet dagvaar, skryf Pieter Labuschagne.

Pieter Labuschagne

Die sosiale kontrak tussen die burgerlike samelewing en die ANC-regering om ’n beter Suid-Afrika vir almal te verseker, is feitlik onherstelbaar geskend.

Die Ramaphosa-regime het klaaglik misluk in sy rol as beskermheer van die land se mense en hul belange. Die onderliggende beginsel van ’n sosiale kontrak om in die belang van die mense te regeer, het skandalig tot die voordeel van die regerende elite verbrokkel.

Daar kan met reg gevra word tot watter dieptes van korrupsie die regering se binnekring nog kan daal?

Die mees onlangse voorbeeld is die beweerde tenderbedrog met Covid-19-fondse.

Dié beweerde selfverryking binne regeringskringe met tenders wat glo aan familielede en vriende toegeken is, het die land diep geskok. Daar kan met reg gevra word tot watter dieptes van korrupsie die regering se binnekring nog kan daal?

Die misbruik van geld wat vir die bekamping van Covid-19 bedoel was, kan amper vergelyk word met paramedici wat op ’n ongelukstoneel aangeval word.

Die morele verval is onderstreep deur die mediaverklaring van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, waarin hy sê daar sal opgetree word teen nepotisme en korrupsie – en dit terwyl bewerings dit wil hê dat van sy kinders daarby betrokke is.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se naam het weer opgeduik met onlangse bewerings van korrupsie. Foto: Argief

Baie mense vra na aanleiding van die nuutste bewerings van korrupsie of die regering nog sy doel dien en of Suid-Afrika nie in werklikheid ’n mislukte staat is nie.

Dié vraag kan eenvoudig beantwoord word deur te kyk na die primêre rede waarom mense hulle in ’n staat bevind.

Waarom bevind mense hulle in ’n staat?

Die staat kan vele verswarende verpligtinge op sy burgery plaas, wat die lewe soms moeilik kan maak.

Die staat kan sy burgers byvoorbeeld belas, sekere regte deur wetgewing beperk en hulle oproep om die land te help verdedig.

Die rede waarom mense hulself vrywillig tot ’n staat verbind ondanks sulke verpligtinge, is omdat die lewe binne staatsverband ook sekere beduidende voordele inhou.

Voor die era van die moderne staat het die meer komplekse samelewingsverbande dit binne die basiese strukture moeilik gevind om in die belang van die burgery op te tree.

’n Man in Diepsloot naby Johannesburg word vir die koronavirus getoets. Bewerings van korrupsie met geld wat bestem is om die Covid-19-pandemie te beveg, het Suid-Afrikaners vandeesweek geskok. Foto: Reuters

Die moderne staat het daarom geleidelik ontwikkel om in die meer komplekse behoeftes van individue te voldoen.

Thomas Hobbes het reeds eeue gelede die fundamentele beginsel uitgelig dat mense se oorheersende drang die vervulling van hul eie begeertes is.

Die begeerte om jou eie behoeftes in ’n groter gemeenskap te bevredig, beteken onvermydelik dat mense in konflik met mekaar sal kom, veral wanneer dieselfde materiële en ander stoflike middele begeer word.

Om sulke konflik te vermy moet almal hulself aan ’n wederkerige sosiale kontrak onderwerp. Dit beteken dat die individu onderhewig is aan ’n soewereine mag wat oor hom aangestel is.

Daarom kan ’n mens tereg vra of Ramaphosa se regering nog die legitimiteit van ’n sosiale kontrak het om oor sy burgers te regeer ...?

Elke individu gee in die proses van sy natuurlike vryheid prys sodat die soewereine mag hom op ’n neutrale en objektiewe wyse beskerm teen die begeertes en optredes van ander.

Die belangrike aspek wat Hobbes beklemtoon het, is dat so ’n sosiale kontrak die gesag van die staat legitimeer en dat dit gegrond is op die beginsel dat die regering objektief en regverdig tot die voordeel van almal (die samelewing as geheel) sal optree.

John Locke was ook ’n invloedryke filosoof wat die sosiale kontrak betref. Locke het in sy vernaamste werke beklemtoon die mens sluit ’n sosiale kontrak met regeerders sodat die samelewing as ’n geheel voordeel daaruit kan trek.

Locke het ’n verdere belangrike punt beklemtoon: dat dit die onvervreembare reg van die burgery is om te rebelleer wanneer die regering sy pligte versaak en dan sonder die toestemming van die sosiale kontrak regeer.

Daarom kan ’n mens tereg vra of Ramaphosa se regering nog die legitimiteit van ’n sosiale kontrak het om oor sy burgers te regeer – of het hy dit verbeur?

Die opheffing van die Suid-Afrikaanse sosiale kontrak

Enige standaard kontrak bestaan uit wedersydse verantwoordelikhede en verpligtinge – as die een party nie sy verantwoordelikhede en verpligtinge nakom nie, hef dit die kontrak op en kan die teenparty daaruit tree.

Die verantwoordelikheid en verpligtinge van Ramaphosa, sy kabinet en ANC-parlementslede was om in die belang van land te regeer en nie in hul eie belang nie.

Dit is tog hoogs onwaarskynlik dat mense hul vryhede sal prysgee om binne staatsverband te lewe net sodat ’n klein regerende elite daaruit voordeel kan trek.

Tog kom die ANC-regering se optrede neer op wat die Middeleeuse filosoof Augustinus ’n morele euwel genoem het.

Ramaphosa as hoofbeskermheer en die kabinet as mede-beskermhere van die land se mense, behoort dus so op te tree en te regeer dat die samelewing as ’n geheel voordeel trek.

Tog kom die ANC-regering se optrede neer op wat die Middeleeuse filosoof Augustinus ’n morele euwel genoem het. Volgens hom is morele euwels gepleeg wanneer swaarkry veroorsaak is deur menslike plundering, hebsug en die vernietiging van die natuurlike omgewing.

In Suid-Afrika is sistematiese korrupsie tot nuwe vlakke, ’n mens wil eintlik sê nuwe morele dieptes en laagtepunte, gevoer.

Dit is waarop die selfverryking van ’n elite neerkom wat direk voordeel uit die swaarkry van ander trek.

Daar is ook ander vrae oor die regering se bona fides. Hardnekkige gerugte doen steeds die ronde dat die irrasionele verbod op tabak en alkohol direk tot die finansiële voordeel van die elite is.

Die onsimpatieke, outoritêre en irrasionele bevele van die nasionale Covid-19-bevelsraad dui volgens baie eerder op magsbeheptheid as iets wat in belang van die samelewing gedoen word.

Boonop is baie bekommerd dat die president hom deur die bevelsraad en vakbonde laat voorskryf.

Mense het dít alles aanvanklik gelate aanvaar, maar is dit nie tyd dat die samelewing sy kontraktuele regte opeis of uit die kontrak tree nie?

Die regering het in elk geval reeds kontrakbreuk gepleeg . . .

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Pieter Labuschagne  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.