Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korrupsie skend ons regte

Net toe ons gedink het die wurggreep van die Guptas op die regering is verby, dat pres. Cyril Ramaphosa se winde van verandering ons land op ’n stewiger grondslag gaan plaas en dat hy sy steunbasis in die ANC moet verbreed om ruimte te kry vir sy hervormings, daag Angelo Agrizzi by die Zondo-kommissie op.

Dié voormalige bedryfshoof van Bosasa sit dag vir dag uiteen hoe hulle regeringsamptenare en politici diep in hul sakke het.

’n Mens kry eintlik die gevoel dat jy afgestomp raak – daardie gevoel waarvan mishandelde mense praat vir wie mishandeling deel van hul lewe geword het.

Só is dit al met die byna daaglikse onthullings van korrupsie. Wanneer gaan dit ophou? Hoe gaan ons dit in vadersnaam omdraai? Ons kyk na ons wetstoepassers en kan maar net die hande in die lug gooi. Dit is juis húlle wat op die betaalstaat van die Bosasas en die korrupteerders sit.

Die politici skud hul vere reg om straat toe te gaan met hul basuine: “Stem vir my, daai ander ouens is net ’n klomp robbiese!

Die politici skud hul vere reg om straat toe te gaan met hul basuine: “Stem vir my, daai ander ouens is net ’n klomp robbiese!” Enige erkennings oor korrupsie of hoe om dit op te los? Bloedweinig. Enige verwysings na korrupsie en die impak daarvan op doodgewone mense, die kiesers? Vergeet maar daarvan.

Ek lees onlangs ’n verslag van die Verenigde Nasies (VN) oor die negatiewe impak van korrupsie op mense se basiese regte. Dit is verpligte leesstof vir die verkiesing.

Korrupsie is ’n skending van menseregte, ’n skending van ons Grondwet.

Korrupsie is ’n skending van menseregte, ’n skending van ons Grondwet. Die reg op voedsel, huisvesting, gesondheidsorg, die reg op lewe – dít word daagliks geskend deur munisipaliteite, provinsiale en nasionale regerings. Nie deur onbevoegdheid nie. Die skendings vind daagliks plaas deur die korrupsie wat ons land soos dryfsand ingesuig het. Deur volksverteenwoordigers wat willens en wetens hul kiesers belieg en bedrieg. “Poorest of the poor; inequality; poverty and unemployment” – dié rympie hoor ons nou al jare.

En dan sê die VN-verslag “ons gevolgtrekking is dat kwesbare groepe soos vroue, kinders, mense met gestremdhede, bejaardes, armes, inheemse mense en mense van bepaalde minderhede in die besonder deur korrupsie geraak word”.

Kontrasteer daarmee die vetgesmeerde katte van die politiek en die bedryfslewe, luister na die verkiesingspraatjies en dan sien ons die daaglikse leuens waarin in die vrye en demokratiese Suid-Afrika gelewe word.

Daar is wel bewuste en waardige pogings om ’n ommekeer te maak. Die kommissies wat so knaend besig is, help baie om die probleem oop te vlek.

Ek wil pleit dat ons teruggaan na ons Grondwet, dat ons duidelik besef watter skendings daarvan plaasvind. Dis ’n lang pad terug, maar ons was daar en ons kan weer terugkeer soontoe.

Ek dink aan wyle Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die VN, wat in Afrika gebore is, wat hom baie duidelik oor korrupsie uitgespreek het.

Nagenoeg 870 miljoen mense gaan saans honger slaap. Talle is kinders.

“Korrupsie is ’n diepgesetelde plaag wat wydlopende, bytende invloede op samelewings het. Dit ondermyn die demokrasie en die regstaat, dit lei tot die skending van menseregte, die verwarring van markte. Dit ondergrawe die gehalte van menselewens en dit laat toe dat georganiseerde misdaad, terrorisme en ander bedreigings vir mense se veiligheid gedy.”

Oudregter Navi Pillay het haar as volg uitgelaat toe sy die VN se hoë kommissaris vir menseregte was: “Geld wat elke jaar deur korrupsie gesteel word, is genoeg om die wêreld se hongeres 80 maal te kan voed. Nagenoeg 870 miljoen mense gaan saans honger slaap. Talle is kinders. Korrupsie ontneem hulle van hul reg op voedsel en, in sommige gevalle, hul reg op lewe.

“Omkoopgeld en diefstal verhoog die koste van skoon drinkwater en sanitasie wêreldwyd met tot 40%. Geld wat van die openbare tesourie wegsyfer, kon aangewend word vir ontwikkelingsbehoeftes, om mense uit armoede te lig, om onderwys (en medisyne) aan kinders te verskaf. Dit kan elke dag honderde voorkombare sterftes en beserings gedurende swangerskap en geboortes stuit.”

Ons moet korrupsie op dié manier duideliker aan ons kiesers en hopelik ook aan ons politici maak. Korrupsie is ’n skending van ons fundamentele menseregte.

Meer oor:  Danny Titus  |  Korrupsie  |  Regte  |  Armoede  |  Menseregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.