Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korrupsie soek lekkerlê langs dié sewe sondes

Die jongste sarsie getuienis oor die anatomie van staatskaping laat ’n mens tegelyk lag en huil.

Hoe is dit moontlik dat ons republiek, wat soveel belofte ingehou het, op die rand van ’n afgrond beland het – ’n piesangrepubliek as jy wil? Grimlaggend verdien dit ’n limeriek:

Voor regters Nugent en Zondo

ontplooi ’n korrupte ubuntu

op ’n skinkbord te geniet

deur comrades in die republiek

van piesangs in die boendoe

Wat ’n mens hoor en lees, laat jou moedeloos uitroep: Homo corruptus! – die monstermens wat volgens die oorspronklike Latynse woord “breek en vernietig”. En wat vernietig word, is gewone mense se hoop op ’n beter lewe.

Apartheid was en is ’n misdaad teen die mensdom. So ook korrupsie, ’n agtste doodsonde om by die erkende sewe te voeg: hebsug, hoogmoed, afguns, woede, luiheid, vraatsug en wellus.

Korrupsie kom egter nooit alleen nie. Dit soek lekkerlê sy aan sy met die sewe sondes. Kyk maar hoe voed hulle mekaar oor en weer in ons kontrei: Korrupsie word aangedryf deur hebsug – die begeerte na méér en nog méér. Die identiteitspreuk: Ek dink, daarom is ek, heet nou: Ek hét, daarom is ek.

Kyk hoe blink ek, my pak klere, my ringe en my motor!

oeg hierby hoogmoed en die sondes teel aan: Dít wat ék besit, plaas my hiërargies hoër as ander. Kyk hoe blink ek, my pak klere, my ringe en my motor!

Dít laat die smeulende kooltjies van korrupsie opvlam tot ’n verterende vuur by diegene wat afguns vertroetel: Ons het (nog) nie wat hulle het nie! Vryf dan die hande en kyk grootoog rond na nóg dinge wat, blatant of skelm, gevat kan word.

Saam wek hoogmoed en afguns ook woede – by dié wat nie vinnig genoeg kan inoes nie én by dié wat ’n bietjie verder van die krip af staan en aangewese is op beloftes van miskien later . . .

Daarmee glip luiheid soos ’n dief in die nag by die agterdeur in. Daar is mos makliker maniere om glansryk te leef.

Wie kan werklik lekker leef volgens ’n werk­etiek wat praat van harde werk, geduld, spaarsaamheid, selfdissipline, vaardigheids­verwerwing, kennisverbetering en dienslewering aan ander?

Só gaan dit jollie-patrollie voort. En daarmee stap vraatsug en wellus hand om die lyf by die voordeur in.

Jan Rabie se makabere verhaal “Drie kaalkoppe eet tesame” word herskryf tot “Drie diknekke eet tesame”:

“(Hulle) swaai op en af in die woeste vaart van hul eet. En terwyl hulle al vinniger eet, kwylend van ongeduld, gebeur ’n vreemde ding: Sodra ’n nuwe bord voor hulle neergesit word, neem die inhoud daarvan menslike vorms aan . . . Die omstanders hyg van walging, maar die drie diknekke gewaar niks daarvan nie . . .”

  • Word dié patroon nie gebreek nie, hang die laaste vesels van ons samelewing se etiese weefsel aan ’n draadjie.
  • Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Korrupsie  |  Sielsgoed
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.