Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Korrupte politici se dag kom wel

Oudpres. Jacob Zuma sal na verwagting vandag terugkeer om sy belaglike verskyning voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping af te sluit.

Dit is duidelik dat hy die kommissie beskou het as ’n verhoog waarop hy sy politieke vyande in die verleentheid kan stel. Hy het nooit gemeen sy rol is om die kommissie by te staan om by die kern van staatskaping uit te kom nie.

Selfs in die opbou tot sy verskyning het ’n vertroueling van Zuma ’n Zoeloe-sêding getwiet wat basies daarop neerkom dat planne kan boemerang. Sonder om spesifiek te wees, het Zuma sy vyande gewaarsku dat ’n verrassing op hulle wag as hulle gedink het hulle gaan met hom afreken.

Hy het in sy getuienis gesê hy is lank uitgelok en het altyd ter wille van die regering en die ANC teruggehou, maar gaan dit nie langer doen nie.

Dit verduidelik waarom hy Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister, as ’n spioen uitgewys het, en Siphiwe Nyanda, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en bevelvoerder van MK, as ’n apartheid-meeloper.

Hy het doelbewus inligting weerhou wat sy getuienis weerspreek of vrae sou laat ontstaan het. Dit sluit in om te swyg daaroor dat Nyanda se broer, Zwelakhi, inderwaarheid vermoor is in Swaziland, die plek waar Zuma sê hy die apartheidspolisie gehelp het.

Hy het ook nie genoem dat Rama­tlhodi een van dié was wat hom teruggehelp het in die regering en die ANC nadat oudpres. Thabo Mbeki hom afgedank het nie. Hy het ook gerieflikheidshalwe vergeet om te noem dat hy Ramatlhodi twee keer as minister aangestel het. Dieselfde Ramatlhodi wat hy as ’n spioen uitmaak.

Die uitdrukking op die oudpresident gesig toe hy gesê het: “Ramatlhodi het vir die apartheidsregering gewerk,” was dié van iemand wat pas ’n bom laat val het. Dit was ’n selfvoldane glimlag van: “Ek begin met dié een, en een vir een sal hulle val.”

In die openbare arena glo bittermin hom. Hy moes geskok gewees het om te ontdek dat die groot invloed wat hy as president gehad het, gekwyn het.

Hy het verwag dat mense sy spioen-aantygings sou opvolg, maar die kollig het stewig op hom gebly.

Nadat hy die grootste deel van die eerste dag voor die kommissie toegelaat is om vryelik te praat, is na die wesenlike sake van die kommissie geskuif. Dit is waar alles ineengestort het.

Zuma was nie daarop voorberei om vrae te beantwoord oor twyfelagtige besluite wat hy as president geneem het nie. Maar, soos ander uitgewys het, hy kon wel onthou na aan wie Siphiwe Nyanda in die laat 1970’s was.

Op die ou end het sy prokureurs beswaar aangeteken en gesê hy word gekruisondervra. Verrigtinge is toe gestop om te besluit of dit vandag voortgaan.

Ek hoop die lesse hierin gaan nie net oor Zuma nie, maar oor ’n kultuur van verantwoordbaarheid en aanspreekbaarheid. Met al die voortslepende hofsake en die Zondo-kommissie wat druk uitoefen, is dit byna neusie verby met Zuma (al is dit duidelik dat hy nie sommer sal gaan lê nie.)

Die lesse vir ampsdraers moet wees dat hul dag van afrekening ook kom. Geen mate van verdoeseling of samesweringsteorieë sal afbreuk doen aan die soeke na waarheid nie. Die korrupte politici het nie saam met Zuma verdwyn nie. Hulle is steeds met ons – in plaaslike, provinsiale en nasionale regering – en ons moet hulle ontbloot.

* Tabane is City Press se politieke redakteur.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.