Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kosbare klein oomblikke in groot sport
Bun Booyens

Twee sportskouspelle speel in dié tyd op ons TV’s af: Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan en die IAAF Wêreldatletiekkampioenskap in Katar, wat Sondag ten einde geloop het.

Die atletiekkampioenskap het die TV-kyker verskeie klein nuwighede gebied. By die veldnommers het hulle die voorlopers se diskusgooie as ’n booggrafiek gewys en by die naellope elke atleet se plek op die wêreldranglys wanneer hulle by die wegspring aantree. By die 100 m was daar selfs ’n kamera op die wegspringstreep by elke atleet. Jy sien letterlik die wit van hul oë wanneer hulle kniel en op die skoot wag.

Ook by die rugby is die kamerategnieke stukke beter as in die verlede. Die kamera beweeg nou bo die veld saam met die spel. Op jou rusbank word jy amper deel van die beweging.

Een atleet, van Pole dink ek, het ’n pistool aan die binnekant van haar boarm getatoeëer. Loop lig vir haar by die onthaal.

Die opvallendste nuutjie op albei byeenkomste is die ultra-nabyskote in superstadige aksie. Jy sien die sweetdruppels pêrel en val. Jy kan die atlete se woorde liplees. Jy kan selfs die patroontjies op die naellopers se vingernaels sien. Een atleet, van Pole dink ek, het ’n pistool aan die binnekant van haar boarm getatoeëer. Loop lig vir haar by die onthaal. Die vrouepaalspringers is feitlik almal opvallend swaar gegrimeer, soos mense op pad na ’n matriekafskeid.

By die rugby sien jy weer die stoppelbaarde, skaafmerke en letsels. (Loshande die indrukwekkendste blomkooloor van die toernooi behoort aan Wallis se haker.)

krieket se dekking is tegnies dalk op peil, maar in toetswedstryde is die kommentaar veral maar flou.

Terloops, krieket se dekking is tegnies dalk op peil, maar in toetswedstryde is die kommentaar veral maar flou. Soms sit en klets die kommentators – gewoonlik ’n drietal versoolde spelers – ’n kwartier lank op die “Ja, Boet”, “Nee, Swaer”- trant van die ou Castrol-advertensie.

Wat gasheerskap betref, stel Japan ’n standaard wat moeilik geklop kan word – van die hoflike wyse waarop hulle die spanne verwelkom het tot die voorbeeldige manier hoe hul toeskouers ná ’n wedstryd die paviljoene skoonmaak.

Die oomblik wat die atletiek in Doha sal definieer, was dalk verlede Sondagaand by die 100 m-eindwedloop vir vroue. Moontlik die talentvolste groep finaliste in die geskiedenis het aangetree. Ahouré, Smith, Daniels, Ta Lou, Fraser-Pryce, Asher-Smith en Thompson is aan die skare voorgestel te midde van intenser flitsende ligte as in Operasie Desert Storm se openingsnag destyds in Bagdad.

Die kleurryke Shelly-Ann Fraser-Pryce het gewen en haar vierde wêreldtitel verower. Ná die tyd is haar tweejarige seuntjie na haar op die baan gebring. ’n Wonderlike oomblik . . . maar in ’n bykans verlate stadion. Daar was waarskynlik minder as 1 000 mense op die paviljoen.

Vergelyk dít nou met een van die mindere rugbywedstryde in die rugbytoernooi in Japan, soos die een tussen Uruguay en Georgië, waar die plaaslike mense die stadion stampvol gesit het – ’n gebaar van respek wat selfs Katar se oliegeld nie kan koop nie.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Sport  |  Oomblikke  |  Herinneringe  |  Wêreldbeker-Rugbytoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.