Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kosmaak gee jou soveel nuwe perspektiewe

Laat ek dit nou maar bely: Ek is gewikkel in ’n innige verhouding met ’n mevrou De Villiers. En dis nie ’n skelmpie nie – dis oop en bloot. My vrou weet dit. Soms neem ek mevrou De Villiers laatnag bed toe. Vir wenke!

Net weer Sondag (op Moedersdag) kon ek, ten aanhore van my vrou en gesinslede, nie uitgepraat raak oor mevrou De Villiers nie. Hoe sy my deur dik en dun bystaan.

Die saak staan so: Moedersdag se hoofdis is deur my gemaak – stap vir stap soos mevrou (S.J.A.) De Villiers dit uiteensit in haar befaamde Kook en geniet, aangevul deur my vrou se lank versamelde betroubare wenke.

Op die spyskaart had ons pampoenkoekies, geroosterde lamsboud met baba-aartappels, asook ’n verglansde gerookte varkboud. Saam met ’n mosterdsousie, slaai en ’n nagereg wat die twee dogters gebring het.

Applous asseblief! Want sien, ek is ’n groentjie wat weens ons omstandighede eers onlangs begin kook en bak het ná jare se onhandige (en onwillige) handlangerskap in die kombuis.

Moenie jou kop in die oond druk om te kyk nie. Agterna het jy nie eintlik wenkbroue nie.

Wat nou met my as dapper bakker en ontluikende kok gebeur, is dat ek Marthinus Versfeld se filosofie oor die geestelike kern van kos-maak prakties beoefen. Saam met sy insig dat selfvoorbereide kos ons met menslikheid én goddelikheid beklee. Dit is die hart van convivium; die samesyn van mense wat vir mekaar omgee.

Hou vir eers net by die menslikheid! Soos dat ek in my leerkromme dosyne brand- en snywonde en ander letsels kan aanteken, tesame met kardinale kookwenke wat mevrou De Villiers nie eens noem nie. Byvoorbeeld: Moenie dink ’n afgerolde hempsmou is ’n vatlappie nie; moenie ’n boek lees as daar kaasskons in die oond is nie; moenie van jou broeksakke vadoeke maak nie; en moenie jou kop in die oond druk om te kyk nie. Agterna het jy nie eintlik wenkbroue nie.

Dan tel sy ’n aspersie op en was dit met lopende water terwyl sy liggies met haar vingers die sagte puntjie streel.

Kook gee jou ook nuwe perspektief op wat en hoe jy eet. Hoe aarbeie, pruime en kersies perfek vir die mond gevorm is, en appels, lemoene en pere perfek vir die hand. Vir pluk en proe. Daarom is daar letterkunde met boorde vol liefdesbeelde uit die natuur – soos vrugte, blomme, bokkies en voëls. Selfs ’n groentetjie is gelade.

Soos Elvira Pearson se “Vegetable Love” dit vertel: ’n Vrou wag dat haar man tuiskom. Versigtig kies sy twee hoenderborsies, smeer dit met olyfolie en kruie. Skink wyn en steek ’n kers aan. Met die hoender in die oond kom hy tuis en begin met die bykos help.

Vanaand speel ons groente by kerslig, kondig sy aan. Jy vat die tamaties en ek doen die aspersies. Dan tel sy ’n aspersie op en was dit met lopende water terwyl sy liggies met haar vingers die sagte puntjie streel. Sy kyk hoe hy ’n tamatie optel, en die groen stingel uit die naweltjie loswikkel; hoe hy dit in sy hand in die koue water rondrol. Dan neem sy dit by hom en steek dit in sy verbaasde mond. En hy hou dit daar soos ’n ronde rooi soen wat hy nie wil laat gaan nie . . .

Nou ja toe: Kook en geniet.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Groente  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.