Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#Kouekoffiema: Pienk puisies en pienk tee . . . regtig?!

Carla Lang het besef sy sal haar maar moet regmaak vir ’n lewe van pienk toe Pops aandring op pienk tee en twee pienk puisies. Volg hierdie jongste aflewering van #Kouekoffiema.

Carla
Carla Lang. Foto: Me & May Photography

My ore tuit soos Pops skree.

“Pops, seblief, jy raas.”

“Puisie hêêêêê!!” huil sy histeries terwyl sy op en af spring en met haar pof vingertjie wys presies waar op haar gesig sy die puisie soek.

Ek het die fout gemaak om voor haar te noem dat ek ’n puisie het. Nou is dit al wat haar hart begeer. ’n Puisie op haar gesig . . .

“Puisieeeeeeee!!” Sy gooi haarself op die grond neer en huil oopbekkie terwyl die trane oor haar rooi wange stroom.

“Ai, my liefie, jy het nie puisies nie, jy’s nog te jonk daarvoor. Jou vel is mooi. Jy moet bly wees.”

“Mý puisie!!”

“Dis my puisie. Dis op my gesig.”

“MY puisie!!”

“Oukei, ek sê jou wat, kom ek teken vir jou ’n puisie. Wat dink jy daarvan?”

Pops sluk haar trane en spring op. “Pienk!”

“Moet dit ’n pienk puisie wees?”

“Ja, pienk!”

Kyk, Pops, nou het jy ook ’n puisie.

Ek’s nie verbaas nie. Pops het so ’n week of twee gelede pienk ontdek en nou moet alles pienk wees.

Ek krap rond vir ’n pienk pen, en maak ’n kolletjie op haar wang. “Kyk, Pops, nou het jy ook ’n puisie.”

Sy bekyk die pienk “puisie” in die spieël, draai links en regs. “Twee!”

“Twee puisies?”

“Ja, twee!”

“Goed dan, kom hier.”

Ek teken nog ’n puisie vir haar.

‘Piepie!’

Weer terug spieël toe; bewonder haar puisies van alle kante af – gesiggie straal. Nooit het ek gedink iemand sal so bly oor ’n puisie wees nie, en dit nogal ’n pienke.

“Ek’s bly jy hou daarvan. Kom ons gaan trek nou aan.”

Pops hardloop vooruit en begin klere uit haar kas pluk – alles natuurlik pienk.

In die middel van Operasie Aantrek, roep Pops meteens: “Piepie!” En net daar hardloop sy badkamer toe.

Ek help haar tot op die toilet.

“Afval!”

“Nee, jy sal nie afval nie, ek het jou.” As sy net sou instem om in die potjie te piepie of minstens die kleuter-toiletsitplek te gebruik, dan sou dit ook makliker gaan. Maar sy weier, want “issie pienk nie!”

Dis blou, want dit was Boeta s’n.

“Kom uit!” roep Pops super-opgewonde en wys agter haar in die toiletbak. Maar soos gewoonlik kom daar eintlik niks uit nie.

Ons is in die beginstadium van potty training en Pops is mal daaroor om op die toilet te sit – en niks doen nie – vir wat vir my voel soos ure aaneen.

Ná die sewende “kom uit!” verklaar sy uiteindelik trots: “Klaar!”

Pienk tee

’n Hele rukkie later (want Operasie Aantrek is ’n helse taak en laat my gewoonlik in sweet uitslaan), ten volle in pienk geklee, stap Pops agter my aan kombuis toe, met pienk puisies op die gesig en ’n pienk beer in die hand.

“Melkie!”

“Melk? Maar jy gaan nou pap eet?”

“Nie pap nie, melkie!”

Ek is halfpad klaar met die melk, toe soek sy “dummy!”.

“Maar jy’t dan vir melk gevra?”

“Nie melk nie, dummy! Bietjie suig!”

“Wil jy nou bietjie dummy suig?”

Sy knik geesdriftig.

Toe ek die fopspeen vir haar aangee – terwyl sy soos ’n madam op haar groot pienk beer voor die televisie lê, bene uitgestrek, stoot sy my hand weg met: “Nie dummy nie, pap!”

“Nou pap? Ag nee, Pops, besluit wat jy wil hê,” sug ek moedeloos.

“Uhmmmm,” dink sy kamtig hardop. “Melkie, twee,” wys sy drie vingers in die lug. “Dummy bietjie suig, pap!”

Ek draai om en gaan maak effens geïrriteerd melk warm en kry haar pap gereed.

“Hierso, Koningin,” sit ek alles voor haar neer – sy lê nog bene uitgestrek en kyk die regte Mr. Bean. (Deesdae haar en Boeta se gunstelingstorie; hulle lag hulle net nie lam vir Mr. Bean se kaskenades nie.)

Pienk tee? Daar bestaan nie so iets nie. Vat nou net hierdie.

“Nie hê nie,” skud sy haar kop.

“Wat?!”

“Tee. Bietjie tee.”

“Wil jy nou tee hê?”

“Ja. Pienk tee.”

“Pienk tee? Daar bestaan nie so iets nie. Vat nou net hierdie,” sê ek ongeduldig en sit die lou tee ook voor haar neer op die tafeltjie.

Ek sien hoe haar gesig trek – en weet wat kom.

Eers net die trek in die gesiggie, dan die blou oë wat vol trane skiet, die mondjie wat wyd oopgaan – en dan die S K R E E U!!

Ek gee nog ’n sug – en dink: Ek sal my maar moet regmaak vir ’n lewe van pienk . . .

* Lang is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. *Volg haar #kouekoffiemarubrieke op Facebook, Instagram of op YouTube. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.


Meer oor:  Carla Lang  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.