Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Krakie loop deur die VSA

Wat veronderstel was om bloot ’n onskuldige daad te wees, het gou in ’n redelik vernederende proses ontaard. En as jy in ag neem dat dit in die VSA – die land van die bevrydes – plaasgevind het, is dit nogal erg.

Stel jou voor: Vier vriende op die vooraand van die VSA se Onafhanklikheidsdag-vieringe voor die toonbank van ’n roomyswinkel. Vyf minute voor toemaaktyd, saam met ander wat gou voor slaaptyd aan ietsie wil knibbel. Een wit, drie swart.

In Suid-Afrika sou een van die drie swart mense natuurlik bruin wees: Kaapse laaitie, afstammeling van die Khoi-San en al wat nasie is. Die twee ander sou bloot Afro-Amerikaners wees wat by die aanhoor van Afrikaans hul oë rol en die g-g-g-klank probeer naboots.

Soos die noodlot dit wou hê, bestel die eerste vriend, ’n liberale jongeling wat homself ’n white­y noem, ’n melkskommel. Almal wou hê, maar omdat dit in verskillende geure moes wees, word die bestellings individueel geplaas. Hy kry syne. Toe die ander drie vriende hul bestellings plaas, het die man en die vrou agter die toonbank ­gesê: “Jammer, ons maak nie melkskommels nie.”

Eers het ons gedink dis ’n grap en lag-lag gespot en ­gesê: “Maar julle het pas voor ons oë vir ’n vriend ’n melkskommel gemaak.” Maar net so skielik as wat ons daar ingeloop het, het ons gou genoeg agtergekom die tweetjies dink beslis nie dis snaaks nie.

Die man het sy rug gedraai en vir ’n ander klant (’n wit seuntjie met ’n dollarnoot in die hand) ’n melkskommel gemaak. Moeiteloos, met ’n glimlag – én room besprinkel met sjokolade.

Ons het probeer protesteer, maar die winkel­eienaars was die mense agter die toonbank. Die vier vriende het hulle voorgeneem om verdere stappe te doen en ná sowat ’n halfuur ná toemaaktyd sonder melkskommels uitgeloop.

Is dit nie die land wat ander lande op die vingers tik oor menseregte en vryheid nie?

Iewers is ’n kraak in die Amerikaanse demokrasie. Dis tragies.

Skielik het dit sin gemaak waarom die leier van ’n studenteraad aan ’n vooraanstaande tradisioneel swart universiteit vroeër die dag gesê het mense is nog nie vry nie. En hy vier ook nie op 4 Julie die VSA se onafhanklikheid nie. Toe die VSA in 1776 vir die eerste keer sy vryheid gevier het, sê hy, was duisende swart mense steeds in kettings.

Vir ’n Suid-Afrikaner wat selfs in sy eie land nog nie so iets beleef het nie, is dit ontnugterend. Is dit nie dieselfde land wat ander lande gereeld op die vingers tik oor menseregte, vryheid en onafhanklikheid nie?

En skielik verstaan ’n mens wat die bekende Amerikaanse vryheidskrywer James Baldwin in sy boek Nobody Knows My Name bedoel as hy sê: “It is a complex fate to be an American.”

Die “bevryde” land se geskiedenis, sy aspirasies en oorwinnings, asook sy posisie in die wêreld, is so uniek dat “die VSA” steeds jare ná onafhanklikwording eintlik ’n heeltemal ongedefinieerde en vae begrip is.

Meer oor:  Ivor Price  |  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.