SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Kreun en steun kan handige woorde skep
Jana Luther

’n Woord word woord as twee of meer mense aan ’n vaste reeks klanke wat hulle met hul spraakorgane voortbring dieselfde betekenis heg. “Stoel” is ’n stoel, “tsloe” nie meer nie. Deur klanke in te ryg, hulle in skynbaar eindelose kombinasies te rangskik, het ons oergrootjies, soos wafferse Scrabble- en Babanagrams-spelers, tale geskep.

Dié gekreun en gesteun kan ’n mens jou nog indink, want vir tussenwerpsels en uitroepe geld dieselfde beginsel as hierbo: “oesj” is nie “sjoe” nie en “tsj” nie “sjt” nie.

Ook vokaallose uitinge slaag dié woordtoets. Vergelyk die “mmm” van iemand wat oor iets wonder of peins; die ingesuigde “t”-, “ts”- of “tsk”-klank, wat van ontevredenheid getuig of wat herhaal kan word om spyt of jammerte te laat blyk: “t-t-t” of “tsk, tsk”. Dikwels met ’n tikkie sarkasme daarby. Siestog.

Die spelling van sulke woorde sonder klinkers kan soms lol (en ’n mens laat lag), want klinkerafwesigheid kom in Afrikaans net by uitroepe voor, soos in die stilblyopdrag “sjt!”, wat geen “u”-klank het nie, al skryf ons ook “sjuut”.

Vergelyk die “b’r” van koud kry. Baie koud? Voeg dan nog ’n “r” of twee by (drie is genoeg): “b’rrr”. “Pst!” trek iemand se aandag. As die persoon horende doof is: “Pssst!”

Dan is daar die ontevrede suig-klap-kiesklank, wat ’n mens in die plek van “ag!” of “ai!” kan gebruik: “Ag, kyk wat het ek aangevang!” Dié geluid kry selfs die knapste skrywer in Afrikaans moeilik neergepen.

As iemand, veral ’n kind, nie hoor nie, hoor ’n mens dikwels: “Huh?” Onthou dan dié spreekwoord, wat ek by prof. Gerhard van Huyssteen gehoor het: Net ’n aap “huh” as hy “ ’n”.

Maar laat jou nee jou nee wees en jou ja, ja.

Afrikaans het ook die tussenwerpsel “ ’n-’n”, as schwa-klank uitgespreek, soos die “i” in “sit”.

Ontspan. Sê hardop:

Mond toe: “H’m-’m.” Effens oop: “H’n-’n. H’ng-’ng.”

Vir elkeen van dié reduplikasievorme (die tweede deel is ’n gedeeltelike herhaling van die eerste) is daar ook ’n parallelle reduplikasievorm as wisselvorm sónder die “h”: “ ’m-’m, ’n-’n, ’ng-’ng”. Al ses beteken “nee”, met net effense nuanseverskille.

Maar laat jou nee jou nee wees en jou ja, ja.

Vir elke “nee” hierbo is daar ’n ooreenstemmende simpleks (wat uit net die eerste deeltjie bestaan), wat “ja” beteken: “H’m-’m” (nee) – “h’m” (ja); “ ’m-’m” (nee) – “ ’m” (ja), en so meer.

Die dubbelvorm beteken dus elke keer presies die teenoorgestelde as die enkelvorm.

Is jy verbaas, wil jy iets weet? Verander net jou intonasie. Laat die simpleksklank styg en vra: “H’m? H’n?”

Die meeste vrae daaroor kom van fiksieskrywers en hul redakteurs.

Mmm.

Ek hoop dié les in kreun en steun was van nut.

Jana Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.