Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kry die middelgrond-establishment weer aftrek?

Barnard Beukman

Joe Biden se nou blykbaar onstuit­bare opmars om die Amerikaanse Demokratiese Party se presidentskandidaat te word, is interessant uit die oogpunt van die gehawende toestand waarin die oorblyfsels van die politieke middelgrond wêreldwyd verkeer.

Aanvanklik het dit gelyk na die meer konserwatiewe en linkse punte van die spektrum wat gaan meeding om die Withuis – pres. Donald Trump en sen. Bernie Sanders. Tog het Demokrate wat aan die benoemingsverkiesings deelneem, in groot getalle na die meer gematigde Biden en weg van Sanders begin skuif.

Kan dit wees dat kiesers weer opnuut na die middelgrond-establishment kyk wat hulle die afgelope dekade genadeloos by stembusse gestraf het? En dat die duideliker gedefinieerde standpunt­politiek van konserwatiewer en linkser pole vir eers ’n plafon bereik het? (Sommige waarnemers meen dit is reeds in Europa die geval.)

Biden se nuwe momentum in die Amerikaanse politiek kan ook toegeskryf word aan ’n nasie en media wat verslaaf is aan die “comeback kid”-narratief. Ook in hul flieks. Die kandidaat wat so te sê vir alle praktiese doeleindes uit die wedloop was en toe teen alle verwagting in met die prys weghardloop. Die draaiboek word natuurlik, wat Biden betref, oordryf om momentum op te bou teen Trump as kandidaat van die Republikeinse Party.

Huidige peilings plaas Biden landwyd met 50% steun teenoor Trump se 41% onder geregistreerde kiesers.

Dit kan ook wees dat al die energie wat rondom Biden opgebou word, niks met politieke posisionering te doen het nie, maar gevoed word deur meningspeilings wat wys Biden het die beste kans om Trump uit die kussings te lig.

Huidige peilings plaas Biden landwyd met 50% steun teenoor Trump se 41% onder geregistreerde kiesers. So ook in die sogenaamde swaaistate – Michigan, New Hampshire, Wisconsin, Pennsilvanië, Florida, Minnesota, Nevada, Maine, Noord-Carolina en Arizona – waar die partye baie gelykop is.

Met die VSA se ingewikkelde kieskollege-stelsel, wat vir kleiner state groter gewig gee, kan ’n mens wel die verkiesing met ’n minderheidstem wen. Trump het dit die vorige keer reggekry. En onder die kerngroep wat hom ingestem het, bly hy uiters gewild. Hy spreek gerieflik 5 000 tot 10 000 mense op een saamtrek toe in streke waar Biden sukkel om 1 000 te trek.

Biden se persoonlike gewildheid ten spyt, lyk hy skielik oud en broos. Hy het ook die tipiese gebrek aan oormatige dinamika wat waarskynlik raakgesien is deur die destydse pres. Barack Obama, wat nie deur ’n adjunkpresident oorskadu wou word nie. Niks nuuts in Amerika nie.

Trump se heil gaan waarskynlik afhang van die stand van die grondvlakekonomie vir die gewone laer middelklas nader aan stemdag. Hy lyk nogal ongemaklik as hy kwessies soos die koronavirus moet pak eerder as om te kan staan en spog oor sy prestasies.

Biden moet ook besef Trump gaan nie bloot idees oor beleid uitruil wanneer die veldtog afskop nie. Hy gaan vuil speel as dit moet. Staatsdepartemente – wat hy verbied het om inligting oor homself aan die Amerikaanse kongres te verskaf vir hul onlangse staat van beskuldiging teen hom – is hard besig om alles moontlik op te diep oor die omstrede internasionale saketransaksies van Biden se seun Hunter.

Indien Biden ’n “comeback kid” vir die politieke middelgrond is, gaan hy dit duidelik en internasionaal rigtinggewend moet definieer. En dit met die klem op hoe dit die wêreld ’n beter plek gaan maak. Daar bou ’n weerstand op teen die huidige polarisasiemodelle. Maar dit is nou mense se bekende werklikheid, al is dit ongemaklik. Hulle gaan dit nie vir vaaghede verruil nie.

Daarmee is hulle al te veel gevang.

Meer oor:  Joe Biden  |  Barnard Beukman  |  Vsa Politiek  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.