Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kry ’n manier om die woede weg te leef

Te veel dinge maak my deesdae kwaad.

Die skrywer Dana Snyman.Foto: DENVOR DE WEE

Ek word selfs kwaad vir party mense se woede. Soos daardie man op Facebook wie se woede hom blind maak vir wie ek regtig is. Sê ek vir hom ek het nie meer die behoefte om Die Stem te sing of om ’n ou Suid-Afrikaanse vlag aan te hou nie, noem hy my ’n linkse, ’n liberalis, ’n libturd. In sy oë iets walgliks.

Sê ek vir hom ek is jammer oor apartheid, sê hy vir my ek het ’n slagoffermentaliteit, ek is ’n polities korrekte ANC-papegaai. Al het ek nog nooit aan die ANC behoort nie.

Sê ek vir hom sonder die regering se maatskaplike toelaes sou plattelandse dorpe nog verder agteruitgegaan het, sê hy ek is ’n sosialis, ’n neo-Marxis wat Ché Guevara verromantiseer.

Hy het altyd ’n bordjie byderhand om om jou nek te hang wanneer hy nie met jou oor iets saamstem nie. Dit maak my kwaad. Ek gaan hom unfriend. Ek het hom in elk geval nog nooit ontmoet nie. Alles wat ek van hom weet, lees ek op sy Facebook-blad.

Die meeste mense vir wie ek kwaad raak, ken ek byna glad nie.

Miskien raak ek kwaad vir hulle omdat ek bang is vir hulle. Ek is bang ek sê iets op Facebook of iewers wat swart mense of vroue of gays of ander gelowiges of ateïste of wie ook al kwets of beledig. Ek is bang ek word die teiken van mense, die sogenaamde social justice warriors, in die sosiale media se verontwaardigde reaksie en die gevolge daarvan.

Durf ek van myself as ’n teiken of ’n slagoffer praat? Ek is wit, manlik en ’n Afrikaner. ’n Bevoorregte. ’n Kolonialis.

Durf ek van myself as ’n teiken of ’n slagoffer praat? Ek is wit, manlik en ’n Afrikaner. ’n Bevoorregte. ’n Kolonialis.

Ek probeer woke wees, al is ek nie altyd seker hoe jy moet wees om woke te wees nie. Ek het grootgeword met jy moet staan in jou ry en jou hare kort sny, maar met die genade het die Bybelse liefdesgebod die lig vir my pad geword: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Maar is dit nog goed genoeg om jou lewe mee te rig?

Daar is ’n nuwe, kil woordeskat waarmee soveel mense my beskryf en veroordeel. Ek hoor van my toksiese manlikheid, van my mikro-aggressie, van my skynbaar onrehabiliteerbare witheid. Probeer ek iets van my en my mense se verlede vir sommige ander verduidelik, sê hulle ek is besig met whitesplain­ing – vir hulle gelykstaande aan ’n skulderkenning.

Miskien moet ek vrede daarmee maak dat ek vir die res van my lewe in ’n staat van beskuldiging sal wees. Somtyds maak dit my die bliksem in. Die reënboog brand. Ek sien dorpe en stede agteruitgaan, ek sien Eskom, Prasa met sy laat treine, Ace Magashule en ander gangsters, Markus Jooste – en gryp na my eie name om hulle toe te voeg: staatskapers, sjampanje-revolusionêre, trogvreters, tsotsi-kapitaliste…

Woede. Oral woede. Ook myne.

Woede maak van jou iets minder as ’n mens. Ek moet ’n manier kry om my woede weg te leef.

Dit is my gebed vir 2020.

Amen.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Menseregte  |  Woede  |  Vroueregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.