Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kry nou end met ‘Kleurling’

Ons lewe in ’n grondwetlike demokrasie wat veronderstel is om menswaardigheid voorop te stel, vryheid van assosiasie te bevorder en nierassigheid na te streef. Dit is daarom onvanpas, ongrondwetlik en ’n uiters vernederende praktyk om mense op grond van uiterlike voorkoms en herkoms te klassifiseer.

Die benaming “Kleurling” is daarom vir my ewe aanstootlik, krenkend en selfs rassisties!

Voor 1994 is ek as “Kleurling” geklassifiseer en is ek gedwing om my lewe volgens apartheidswetgewing te lei en rig. Daar was onder meer die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet van 1950. Laasgenoemde het mense van gemengde afkoms as Kaapse Kleurling, Kaapse Maleier, Griekwa, Indiër, Chinees, ander Asiate en ander Kleurlinge geklassifiseer. Dié wet was op geen positiewe kriteria gegrond nie, maar op ’n uiters negatiewe proses wat mense van ander groepe uitgesluit het.

Ná 1994 word ek onderwerp aan wetgewing wat my weer op grond van etnisiteit klassifiseer en etiketteer. Hoe onsinnig! Ek is nie ’n sirkusdier nie, maar ’n mens net soos enige ander mens. ’n Volbloed-Suid-Afrikaner en -Afrikaan.

As ek aansoek doen vir ’n werk by die staat, moet ek op dié se aansoekvorm aandui dat ek ’n “Kleurling” is. Verskeie ander regulasies en wetgewing wat met swart ekonomiese bemagtiging (SEB) verband hou, vereis dit ook vir SEB-telkaartdoeleindes.

Ná 1994 word ek onderwerp aan wetgewing wat my weer op grond van etnisiteit klassifiseer en etiketteer. Hoe onsinnig!

En omdat ek minder punte tel, loop nie net my werkgewer die risiko om staatskontrakte te verloor as sy telkaart nie aan ’n bepaalde SEB-vlak voldoen nie, maar my loopbaanvooruitsigte word óók gekniehalter. Dit is absurd!

Dit is ook ’n benaming wat ek assosieer met ’n geskiedenis van gewelddadige onderdrukking, onderwerping aan wit meerderwaardigheid, gedwonge verskuiwings en die vernietiging van mense se stemreg en burgerregte. Om nie eens te praat van die negatiewe stereotipering waartoe dit gelei het nie.

Navorsing dui daarop dat dit die Franse, Britte en Amerikaners was wat die woord in die 17de eeu geskep het om onderskeid te tref tussen mense van swart, wit en gemengde afkoms in gebiede wat dié moondhede gekolonialiseer het.

Aan die vroeë Kaap waar vermenging van Europeërs, slawe van Indonesië, Indië en ander dele van Afrika, die inheemse bevolking en mense van ander wêrelddele plaasgevind het, het dié woord egter glad nie bestaan nie. Dit is die Engelse wat ná hul oorname van die Kaap in 1795 ’n proklamasie in 1809 uitgevaardig het wat die “Kleurling” as ’n aparte groep gevestig het.

Vroeër en onder die bewind van Simon van der Stel het mense van gemengde afkoms na hulself as “Africaanders” begin verwys.

Vroeër en onder die bewind van Simon van der Stel het mense van gemengde afkoms na hulself as “Africaanders” begin verwys. Dit wil sê mense wat op Afrikabodem gebore is, ’n nuwe geslag wat geen verbintenis met hul voorouers se land van herkoms het nie. Van der Stel was self van gemengde afkoms. In dié tyd het kommissaris Hendrik Adriaan van Rheede ook reëls gemaak oor hoe slawe behandel moes word en dat slawekinders geleer moes word om te lees en skryf.

Integrasie eerder as segregasie was aan die orde van die dag.

Vandag verwys die benaming “Afrikaners” uitsluitlik na wit Afrikaanssprekendes. Die sout in dié wond is nie die uitsluiting van dié benaming nie, maar die vernederende, rassistiese gebruik en karikaturisering wat dikwels met die benaming “Kleurling” gepaardgaan.

Ek is ’n Suid-Afrikaner, so wil ek bekend staan. En as jy my uiterlike moet beskryf, kan jy selfs praat van ’n bruin man met ’n bleskop. Maar moet my net nie ’n “Kleurling” noem en as sodanig klassifiseer nie! Dit kry nou end!

Christo van der Rheede is uitvoerende adjunkhoof van Agri SA.

Meer oor:  Politiek  |  Rassisties  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.