Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kry peilings te veel publisiteit?
Johannes Froneman

Met die uitslae van verlede week se algemene verkiesing bekend en die tendense in duisende woorde en kleurvolle grafieke verduidelik, is dit seker nie te vroeg om ’n paar vrae oor die mediadekking van verkiesingsveldtogte te vra nie.

Twee aspekte staan vir my uit, eerstens die SAUK se poging om billike dekking aan alle partye te gee. Beter gestel: dekking aan al die groter partye, want dit was seker nie moontlik om aan almal op die stembrief lugtyd te gee nie.

Die vertoning van sommige van dié heel onbekende partye het getoon dat hulle nie verdien het om enige nasionale media-aandag te kry nie.

Nou moet ons onderskei tussen die taak van die SAUK as nasionale uitsaaier en alle ander media, koerante ingesluit. Die SAUK se taak is groter as dié van enige media in private besit. Maar selfs die SAUK moes homself afvra of elke enkele party lugtyd werd was.

Waar sommige van die heel klein partye uiteindelik nie meer as ’n paar duisend stemme gekry het nie, lyk hulle na niks minder as voertuie vir individue se ego’s nie. In ander gevalle is hulle hoogstens gemeenskapsgroepies. Dalk het hulle op gemeenskapsradiostasies aandag gekry of op streekgebonde radiostasies van die SAUK.

Wat die groter partye betref, is my waarneming dat almal billike geleentheid gekry het om hul saak te stel.

Wat die groter partye betref, is my waarneming dat almal billike geleentheid gekry het om hul saak te stel. Voeg daarby die betaalde advertensies, dan kan hulle nie kla nie. Ek het egter bittermin nie-betaalde advertensies gehoor. Dis nou die lugtyd wat partye veronderstel is om ingevolge die Okosa-regulasies te gekry het. Dit verg verdere ondersoek.

Kortom, as partye nie enige mediadekking gekry het nie, moet hulle maar hand in eie boesem steek. En kiesers wat voel hulle het te min inligting gekry, moet hulself afvra of hulle enige moeite gedoen het.

Tog is my aanvoeling dat partye minder geld gehad het om te bestee. Afgesien van plakkate en genoemde radio-advertensies, het sommige partye (soos die DA) staatgemaak op telefoonboodskappe – tot vele kiesers se irritasie.

’n Tweede belangrike saak wat my opgeval het, is die publisiteit wat peilings ontvang het. Dit is altyd gewilde leesstof omdat almal nuuskierig is oor of veranderinge in steun waargeneem word.

Ek vra myself steeds af wat die werklike nut van hierdie peilings is.

Ek sal nie die integriteit of professionaliteit van Ipsos of die Instituut vir Rasseverhoudinge betwis nie. Hul peilings het effe verskillende syfers getoon, wat nou as akkuraat of minder akkuraat uitgewys is.

Die verweer sal dan wees dat verskillende metodes gebruik is, dat dit nie bedoel was as voorspellings nie en dat die laer stempersentasie syfers deurmekaar gekrap het.

Ek vra myself steeds af wat die werklike nut van hierdie peilings is, behalwe nou vir politieke partye self, maar van hulle doen hul eie peilings.

Dit daar gelaat. My probleem lê by die groot publisiteit wat die media selfs tot op stemdag aan hierdie “voorspellings” gegee het. So het die koerante waarin hierdie rubriek verskyn, ’n hoofberig op bladsy twee gehad wat gelui het: “ANC sal meer as 60% kry.” Bo die opskrif het in veel kleiner letters gestaan: “Ipsos-peiling.” Belangrik was dat die hoofopskrif geen aanhalingstekens gehad het nie, wat dit sou gerelativeer het.

Die akkuraatheid al dan nie van die peiling is nie ter sake nie, wel die stelligheid waarmee dit op stemdag aangebied is.

Dit laat die vraag of die bekendmaking van peilings nie, soos in talle ander lande, ’n week of twee voor stemdag moet stop nie.

Behalwe as ons dink dat mediaberigte geen impak het nie.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.