Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kultuur bly hier hoop gee
Foto: ISTOCK

In byna elke huis in Iran is daar naas ’n Koran die versamelde gedigte van die Middeleeuse digter Hafez van Shiraz. Hy is die lewensgids van vele.

Digkuns in die Indo-Europese taal Persies speel ’n prominenter rol in die alledaagse lewe as by sy verre agterkleinneef, Afrikaans.

’n Voordrag van gedigte ontbreek selde by begrafnisse en Nuwejaarsfeeste.

Sa’di se gedigte klink ook by huwelike: “As jy trou soek, verduur die pyn / die geliefde se ruilhandel / is verlies en winstewyn”.

Van taxibestuurders tot sakelui lewer aktuele kommentaar met verwysing na ou gedigte. Dit voel wel anders as jy in die chaotiese verkeer van Teheran, die hoofstad, ’n bakkie sien indruk met dié reëls van ’n gedig agterop geverf: “Ek vrees God en behalwe God vrees ek diegene die meeste wat God nie vrees nie.”

Kleinood

Persiese gebiede het oor die eeue baie invallers en oorheersers beleef, onder meer die Mongole, Turke en Arabiere, wat Islam daar afgedwing het. Elke keer wanneer die Perse hul mag en hul gevoel vir hul eie geskiedenis, kultuur en taal verloor het, het die digters hul kulturele tuiste bewaak.

Tuiste in eie taal, die titel van Jaap Steyn se werk oor Afrikaans, het ook hier gegeld.

Die klassieke kultuurerfenis van Persies het vir bykans 14 eeue die elites vanaf Iran en Irak tot in Turkye, Afganistan, Indië, Pakistan en Sentraal-Asië gevorm. Marshall Hodgson noem dié erfenis die “Persianaat”. Dit omvat ook helde en waardes uit die tydperk voor Islam.

Verwysings na klassieke digters is alledaags in Iran. Hieronder val Hafez, Abul-Qâsem Ferdowsi, Maulana Rumi, Sa’di, en Omar Khay­yam – van wie se werke ook deur C.J. Langenhoven en Daniel Hugo vertaal is.

As iemand in Iran hierdie digters se werke sou aftakel soos wat in die hedendaagse Weste met historiese kultuurwerke gebeur, sou hy as ’n kulturele barbaar beskou word.

Tyd verweer vir Iraniërs nie die voorbeelde en waardes van hul werk nie. Dit word as ’n kosbare kleinood beskou. Ongeag verganklike politieke ordes en golwe van teenspoed, kan dit steeds hul menswees uitdruk en vorm.

Politiek en poësie

Toe die Amerikaners die gerespekteerde genl. Kassem Soleimani in Januarie 2020 dood, het miljoene Iraniërs daarteen op straat betoog.

Talle gedigte is in verskillende media geplaas. Pro-regering-kunstenaars het ’n simfonie getiteld Die Soldaat geskep, gebaseer op ’n nuwe gedig.

Die denker Abdolkarim Soroesj het ’n reël uit ’n gedig van Hafez gewysig om Iraniërs se verset oor die voorval te verwoord.

Gedigte is ook ’n middel waardeur kritiek teen die regering gelewer word. Iran se mense ervaar weens Amerikaanse sanksies, outokrasie en interne korrupsie die laaste jare swaarkry en soms selfs wanhoop.

In Oktober 2020 is Mohammad Reza Shajarian, ’n gewilde sanger, oorlede. Shajarian se gehore het altyd aan die einde van sy vertonings dieselfde toegif gevra. Dit was die pragtige lied “Morgh-e Sahar” (“Voël van die daeraad”). Die lirieke kom uit ’n politieke protesgedig oor vryheid in die 1920’s.

Talle mense het die lied ook buite die sterwende sanger se hospitaal gesing. Iraniërs weet hoe om indirek te kommunikeer.

Bron van hoop

Tydens Covid-19-inperkings het heelwat mense met stemboodskappe gedigte aan familie en vriende voorgelees en gestuur. Dit was ’n manier om saam te treur of bloot saam te verkeer. Een gewilde aanhaling was ’n koeplet van Rumi: “By die pyn se bron, sal die genesing kom.”

Dié nuus het my herinner aan een aand jare gelede. Ek het met kennisse by die Darband-buurt hoog in Teheran gestap. Die wye stad se wonings, waarbinne meer as 8 miljoen harte klop, het soos lignessies teen die donker hange vasgeklou.

Geoloë het reeds 30 breuklyne onder die grond bespeur. Die inwoners het gewag op ’n massiewe aardbewing in die toekoms met ’n sterkte van 7.

My kennisse het gewonder of die aardbewing dalk die plataanbome by Vali Asr-straat en hul sierlike huise sou platruk. Toe raak hulle stil. Skielik begin een die digter Sohrab Sepehri aanhaal en vertaal: “Die lewe is nie leeg nie, daar is goedhartigheid, daar is appels, daar is geloof. Ja, ’n mens moet leef, terwyl die rooi papawers blom.”

  • Dr. Matthee woon in Nederland en is ’n politieke ontleder vir bedrywe in die Midde-Ooste.
Meer oor:  Heinrich Matthee  |  Kultuur  |  Gedigte  |  Koran  |  Digkuns  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.