Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kultuurskatte: Timboektoe is nie Parys nie

Terwyl mense die hande diep in hul sakke steek vir die restourasie van die Notre Dame-katedraal, is daar nie genoeg geld vir die herstel van kosbare kultuurskatte in Mali nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

’n Deel van die antieke dokumente wat in die Ahmed Baba-biblioteek uitgestal is. Foto: Argief

“Ja, dis maar hoe dit is, Timboektoe is nie Notre Dame nie en Mali is nie Frankryk nie,” sê die amptenaar wat Timboektoe se eeu-oue mousoleums probeer herstel. Hulle is in 2013 deur Moslem-fanatici vernietig.

El Boukhari Ben Essayouti is in ’n telefoniese onderhoud met Radio France International vroeër vandeesweek uitgevra oor die 1 miljard wat ingesamel is vir die herstel van die Notre Dame-katedraal nadat dit gedeeltelik deur ’n brand in puin gelê is.

’n Mens kan amper sien hoe hy sy kop skud.

“Mense hier is nogal ontsteld daaroor. Hulle vra baie vrae,” sê hy.

Uit die 11 miljoen wat benodig word vir die restourasie van die mousoleums het Mali tot dusver sowat 4 miljoen ontvang.

Daar is 13 mousoleums wat heeltemal deur Islamitiese terroriste vernietig is in die besetting van Timboektoe in 2012 en 2013. Om dit te herstel beteken ’n moeilike soektog in argiewe om die oorspronklike uitleg na te spoor en om uit te vind watter boumateriaal gebruik is.

Afrika se rykes sal nie hul hande diep in hul sakke steek vir monumente in die verlate Sahara nie.

Essayouti verduidelik dat Timboektoe met die bou van die mousoleums omring was deur plantegroei en woude wat sedertdien uitgeroei is. Vandag is daar net sand.

Die religieuse fanatici het die kosbare monumente vernietig omdat hulle glo dit stem nie ooreen met hul streng vorm van Islam nie. Mense in Mali is meestal Soefi-Moslems wat ’n vryer interpretasie van Islam aanhang, eerder as die streng Sharia van die terreurgroepe.

Maar Essayouti klink nie bitter nie. Frankryk help hulle darem deur van die plaaslike argitekte op te lei.

Hy aanvaar dat die skenkers vir die Notre Dame se herstelwerk baie publisiteit kry. Skatryk individue en maatskappye soos Total gee geld vir bemarkingsredes, sê hy.

Afrika se rykes sal nie hul hande diep in hul sakke steek vir monumente in die verlate Sahara nie.

Toe oudpres. Thabo Mbeki wel jare gelede probeer het om geld in te samel om die biblioteek in Timboektoe te herstel, was dit maar net deels suksesvol.

Tragedie in Mali volg op Franse inmenging

Die Notre Dame in ligte laaie. Foto: Getty Images

Tegnies gesproke behoort die mense van Timboektoe te eis dat die Europeërs, en veral Frankryk, hulle help met die heropbou van hul dorp wat op verskeie plekke deur die fanatiese besetters vernietig is.

Die besetting van die hele noordelike deel van Mali deur gewapende groepe was die direkte gevolg van die ingryping in Libië, waar Frankryk ’n sleutelrol gespeel het om van die oudleier Moeammar Ghaddafi ontslae te raak.

Wapens en soldate wat in Ghaddafi se weermag gedien het, het oor die grens na Niger en Algerië gestroom en van daar na Mali. Hier het hulle saam met plaaslike Toeareg-groepe gewerk om die noorde van die land te beset. Hoewel ’n skietstilstand intussen onderteken is en die besetting opgehef is, gaan Mali steeds gebuk onder ernstige geweld en gereelde terreuraanvalle.

Liesl Louw-Vaudran

Gewone mense ly die meeste.

Destyds is al die historiese dorpies soos Timboektoe en Gao vir maande lank beset en onderwerp aan wrede wette. Diegene wat waag om die bewindhebbers te verontagsaam deur byvoorbeeld radio te luister of vroue sonder sluiers is summier “gedissiplineer”, soms op gruwelike maniere.

Die Ahmed Baba-biblioteek, waarvoor Mbeki hom beywer het, is deels deur ’n brand vernietig. Van die kosbare dokumente in die biblioteek is in die geheim per boot met die Nigerrivier na Bamako gesmokkel en daar bewaar.

Kortweg, ’n tragedie net so groot, selfs groter, vir die mense van Mali en die res van Afrika as die Notre Dame-brand.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  Frankryk  |  Mali  |  Notre Dame-Katedraal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.