Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kuns verbleek in hoofstroom se domein

Dalk het die digter Totius tog ’n punt beet gehad toe hy destyds verklaar het dat hierdie wêreld nie ons woning is nie. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dit is dalk net ’n tussentydse tydverdryf; ’n plek waarin die meeste van ons nooit werklik tuis sal voel nie.

Die mens se waarde word toenemend in rand en sent gemeet. As jou skamele bydrae nie op ’n Excel-dokument of kantoortydstaat bereken kan word nie, is jy persona non grata – ’n amperse lastigheid wat eintlik maar tot ’n sukkelbestaan verdoem is.

Veral die land se kunstenaars trek swaar. Die skrywers wat van ’n wreedaardige wêreld probeer sin maak. Die sangers wie se dors nooit deur doef-doef geles sal word nie. Hulle wat ietsie meer betekenisvol wil skep deur hul woorde, lirieke, note, verfkwaste en gedagtes.

Hul pad is met eensaamheid besaai, want wanneer die gehoor se applous uitgedoof word, staan hulle alleen. Gemarginaliseer. Naak. Dis soos ’n beroerte van die psige waarvan niemand bewus is nie; soos ’n hoopgewer wat doodgewurg word deur ’n gemeenskap van monotonie.

Die kunstenaar is nou niks anders nie as ’n vreemdeling in ons midde. Ons hoor hulle nie.

Ons het ons rûe gedraai op hulle wie se lewenstaak dit is om deur middel van kuns te inspireer, bevraagteken en berispe. Hulle wat deur ’n amper heilige kombinasie van emosie en kleur ons horisonne verbreed en van oppervlakkigheid bevry.

Here, asseblief, laat hierdie bitter beker by ons kunstenaars verbygaan.

Kyk maar, dit is meestal dieselfde gesigte wat die openingsaande van teaterproduksies bywoon. Ons kunsgalerye is meestal verlate. Ons boekwinkels maak een vir een hul deure toe.

Toegegee, daar is allerhande nuwe geleenthede in die televisiebedryf en op van ons kunstefeeste, maar meestal sukkel die einste instellings wat die kunste probeer bevorder om kop bo water te hou. Nes die dromers van wie se skeppende werk hulle afhanklik is.

Verby is die dae dat sakeondernemings van hul wins kon afknyp om ’n kunsliewende wêreld te help skep. Daar is ook net soveel geld, en wanneer die nood op soveel ander plekke druk, is die kunste die groot verloorder.

Here, asseblief, laat hierdie bitter beker by ons kunstenaars verbygaan.

Sal ons ooit weer die punt bereik waar ons doodgewoon net mens kan wees? Nie kommoditeite of korporatiewe slawe nie? Hoe verfrissend sal dit nie wees om in ’n wêreld wakker te word waar ons waarde nie gemeet word aan hoeveel geld ons tot die ekonomie bydra nie, maar eerder watter verskil ons in die mensdom maak; waar die doeners en dromers genoeg ruimte en geld het om vreesloos te kan skep.

Mag ons verlos word van ’n samelewing wat andersheid en skeppendheid met afsku bejeën. En mag ons bevry word van die mentaliteit waar mense veiliger voel wanneer hulle nie met die ongemaklike van die lewe gekonfronteer word nie – die waarhede wat gereflekteer word in die spieëls wat deur ons artieste opgehou word.

Meer oor:  Kunstenaars  |  Skilders  |  Boeke  |  Kuns  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.