Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kunstefeeste is die koorspen vir hoe ons is
Martie Retief Meiring

Yslike tente bol in ons dorp op. Mooi opslaangeboutjies verskyn op grasperke, vlae en wimpels blom langs die strate, en besems, kabels en lere word oral heen gekarwei . . .

Dis die afskop van die groot nasionale kunstefeeste van die jaar. Die Woordfees is vanjaar mondig, en ná die Woordfees “trek” die groot feeste tot in Oktober deur die land.

Die antieke Grieke het van feeshou geweet. Dit was jolyt, aanbidding, en seker ook maar brassery, maar op ’n manier het ’n fees die landstemperatuur gemeet. Daarvoor het skrywers soos Sophokles, Euripides, Aristophanes en ander gesorg. Ook deur luit-kompetisies, beeldende kuns, dans en sang het toeskouers en deelnemers die vordering van hul denke en leefwyse gemeet.

So sal dit ook sekerlik met ons eie kunstefeeste wees. Sedert die groot Grahamstad- (nou Makhanda-) kunstefees en die daaropvolgende bloei onder ander groot kunstefeeste, is die land se koors deeglik gemeet.

Vrese dat feeste te duur word om voort te bestaan, word besweer deur die ekonomiese inspuiting wat feeste ook bring.

Beeldende kuns, musiek, teater en dans verteenwoordig altyd die heersende klimaat van ’n omgewing. Op die verhoog kan die rassekwessie aangespreek word, kan die vrese, verlange, pronkerigheid en selfs nederigheid waargeneem word. Hoe is dit met ons as Afrikaners gesteld? Hoe floreer Kaaps, hoe skrynend word ons tragiese hede uitge-beeld, hoe verlangend na ’n ander – ou of nuwe – tyd is ons, hoe betower dans en musiek ons?

Wat laat mense soos Darryl David kleiner, hoofsaaklik literêre feeste bywoon; hoekom word films, of boeke, gevier? Omdat daar sekerlik aanvraag, dalk selfs nood is daarvoor.

Vrese dat feeste te duur word om voort te bestaan, word besweer deur die ekonomiese inspuiting wat feeste ook bring. Tydelike werk word letterlik aan duisende mense deur al die feeste gegee. Tegnici van klank tot kamera, teksskrywers, toneelspelers, beeldende kunstenaars musici en dansers kry werk. Dorpe waar feeste gehou word, baat deur gastehuise, hotels, die koop van brandstof, kos, parkering, ensovoorts.

Ten diepste bly kunstefeeste die markplein van idees, kwellinge, hoop en wanhoop.

Ten diepste bly kunstefeeste die markplein van idees, kwellinge, hoop en wanhoop. Die barometer van smake; ontvanklikheid of dan ook verwerping word getoets.

Deesdae kom ook politici na feeste. Soms word hulle genooi as sprekers, dikwels kom hulle om moontlik die nukke, giere, gedagtes en oordeel van die gewone mense te peil.

Onlosmaaklik aan ’n fees is dat dit die gewone ou, die een wat nie altyd by teaters of konserte uitkom nie, ’n smaak gee van die onmiddellikheid van glansname in die kunstebedryf. Kyk daar! Daar’s Sandra Prinsloo! Daar’s Deon Meyer! Só lyk Jolyn Phillips. Op een dag kan die gewone ou lanterfanter van kunsgalery tot musiek-ouditorium tot teater tot gewoon koffie drink en klets met onbekende mense.

En, agter elke fees is daar projekte wat in omliggende omgewings groot opheffingswerk doen.

Kunstefeeste, op die keper beskou, bied die spieël vir hoe ons eintlik is.

Meer oor:  Martie Retief Meiring  |  Musiek  |  Kunstefeeste  |  Kreatief  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.