Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
KYK: Afrika se ‘Marie Antoinette’

Die sogenaamde Luandaleaks wat Isabel dos Santos, Angola se voormalige presidentsdogter, by onderduimse finansiële transaksies betrek, het Afrika aan die gons, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Op pad van die lughawe af in Dar es Salaam na my hotel deel die taxibestuurder die jongste nuus met my: “Weet jy dat Isabel dos Santos nou selfs president wil word?”

“Ja, dis ongelooflik. En dit ná alles wat sy gedoen het!” stem ek in oor die vergrype van Angola se berugte voormalige presidentsdogter.

Ek ken “Ben” al van my vorige reise na Tanzanië. (Ek noem hom maar Ben, want hy het nie toestemming gegee om hier aangehaal te word nie.) Hy is met daardie siniese streep wat ’n mens by taxibestuurders van New York tot in Istanbul kry, baie uitgesproke oor die armoede in sy land en op die vasteland.

“En sy dink mense sal vir haar stem!” gaan hy voort terwyl ons die middestad tussen die straatverkopers, toek-toeks en die brommende swart viertrekvoertuie van Tanzanië se elite deurkruis.

Danksy die tydskrif Forbes, wat op ’n kil manier met die wêreld se grootste rykdomme tred hou, staan Dos Santos al lankal as Afrika se rykste vrou bekend.

’n Internasionale mediakonsortium het verlede naweek die jongste skandaal rondom haar geldsake, wat duidelik reg oor die vasteland tot hier aan die ooskus groot opslae maak, blootgelê.

’n Fluitjieblaser het meer as 700 000 dokumente aan die media uitgelek, wat sedertdien as die Luandaleaks bekend staan.

Isabel dos Santos vroeër vandeesmaand in ’n media-onderhoud in Londen. Foto: Reuters

Dos Santos en haar Kongolese man, Sindika Dokolo, ’n kunshandelaar, het volgens dié dokumente in die laaste paar dekades meer as 400 bankrekeninge in 41 lande geopen om hul onderduimse transaksies te versteek.

In Angola is Dos Santos reeds aangekla van korrupsie, waarby tot $1 miljard betrokke is.

Met die betrokkenheid van internasionale geldwassers en gesiene finansiële instellings soos KPMG en PricewaterhouseCoopers – ja, alweer hulle – het sy miljoene dollars gemaak deur transaksies waarby hulpbronne in Angola betrokke is.

Nadat haar pa, José Eduardo dos Santos, in 2017 die leisels oorgegee het aan die huidige president, João Lourenço, is sy uit al haar vername poste – ook dié as uitvoerende hoof van die oliemaatskappy Sonangol – geskop.

Dos Santos en haar man, ontken natuurlik dat enige geld van die mense van Angola gesteel is. Sy het aan ’n Portugese koerant gesê dat sy deur haar eie vernuf en harde werk self haar geld gemaak het.

Nou toe nou.

Liesl Louw-Vaudran

Ben lag uit sy maag en skud ook maar net sy kop.

Langs die pad is daar ’n informele stalletjie waar twee vroue pap aanmaak en hoender braai. Allerhande speserye en souse is in Tupperware-bakkies uitgestal. Onder die boom sit ’n klomp mans op plastiekstoele met hul voete voor hulle uitgestrek. Sommige eet van die hoender en pap op papierborde. So nou en dan kom iemand verby en dan skep die vroue vir hulle ’n bietjie uit. Die paar Tanzaniese sjielings word in hul rokke se sakke gebêre.

Ben lag weer toe ek daarop wys dat dit vroue is wat die hardste in Afrika werk.

Nog ’n vrou kom verby met ’n baba op die rug vasgebind.

Sweet tap hulle af.

Ek kyk by die venster uit en wonder wat hierdie vroue van Isabel dos Santos dink.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.