Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met Johan Stemmet
Smaail vir sy onderbaadjie

Kyk hoe kyk ons nou vir Johan Stemmet met ons duime in die lug, want dié immergewilde Noot vir noot-kampioen het verlede naweek ’n swierige Safta ontvang omdat hy derduisende Suid-Afrikaners al lewenslank vermaak.

En hier’s sommer ’n vyftig-randjie in jou Absa-rekeninkie ook, Johan!

Johan Stemmet en Johan van Rensburg in 1994 met hul Artes-toekenning.

Noot vir noot, Johan Stemmet en die Musiekfabriek is so Suid-Afrikaans soos melktert en konkamielies.

Dié musiekvasvraprogram is ’n wegholsukses en ná 43 seisoene oor 28 jaar is dit wraggies deel van ons almal se verlede. Kinders wat saam met hul ouers daarna gekyk het, kyk dit nou saam met húl kinders en elkeen het ’n eie Noot vir noot-storie.

“Elke week glimlag my hart as daai spotlight so op Oom val wanneer die program begin,” skryf ’n jong fên op Facebook.

Seg ’n vrou anderdag: “Ons gesin drink nou bitter koffie, want Johan het gesê: ‘Moenie roer nie, ons is nou-nou terug!’ ”

Sy “eie ou sêdingetjies” hoor hy elke liewe dag by mense, lag Johan.

“Eergister by die lughawe skree ’n oom in ’n rolstoel vir my: ‘Moenie weggaan nie, ek is nou terug!’ En dis skitterend, ek gee glad nie om as mense met my spot nie, dit wys mos hulle kyk Noot vir noot.”

Op 66 vra elke tweede ou wanneer tree ek af. Dan gee ek maar die geykte antwoord: Die dag as ek die passie verloor.

En wat Johan ook klokslag hoor, is “ ’n ou kommentaartjie” oor die bont onderbaadjies wat hulle op die program gedra het.

“Ons het daai onderbaadjies net twee seisoene gedra, maar mense praat vandag nog daaroor. Dis pret. Ons is nie met ’n drama besig nie, dis ’n spanspeletjie.”

Johan het soms sommer sy onderbaadjie weggegee vir die ou in die gehoor wat die heel meeste smaail en saamsing.

“Dis mos nou ’n lekker soeweniertjie! En jis, die mense het tekere gegaan, want almal wou daai onderbaadjie hê. Een keer stop die kamera by ’n oom en hy sit daar met so ’n suur gesig. Ná die tyd vra ek hom: ‘Oom, hoekom het jy nie gesmaail nie, die kamera was op jou?’ En hy sê: ‘Ek wil nie ’n onderbaadjie hê nie.’ ”

Die waglys om deel van die gehoor te wees, was in ’n stadium drie jaar lank.

Van die mense kom daar met toebroodjies aan.

’n Vyftig-randjie vir jou!

“Daar was ou tannie Edith, as die deure oopmaak, dan stamp sy die mense met haar elmboë uit die pad om in die middel te kom waar die kameras haar raaksien.”

Toe Johan laasweek hoor hy kry die Safta vir lewenslange bydrae, flits oom Siegie Mynhardt en tant Anna Neethling-Pohl se gesigte voor hom verby.

Ou, belangrike gesigte.

“En ek dag dis ’n hengse eer, maar kon hulle nie nog ’n paar jaar gewag het nie, ek voel dan nog 25 . . .”

Maar daar stap Johan Stemmet toe op die verhoog met ’n (stemmige) onderbaadjie om sy toekenning te ontvang en mense skree “Legend!” en “Icon!” terwyl hy amper aangedaan raak oor sy warm dankie-sê in Zoeloe, Afrikaans en Engels.

Ná die toekenning het meer as duisend mense hom op Facebook gelukgewens. Hy het elkeen persoonlik geantwoord.

Ons kuier op ’n blou windstil middag op Langebaan, waar hy en Colleen gereeld uit Gauteng kom “wegkruip” wanneer hy sy programme redigeer.

Laasnag het dié twee in hul dagbootjie (soos hy dit noem) onder ’n ampervolmaan by Kraalbaai oorgeslaap. Sommer vir die lekkerte, sê albei byna gelyk en glimlag vir mekaar.

Hy is al 38 jaar met sy skoolhoof-vrou getroud. As wiskunde-onnie span hy haar in om die telling te hou by Noot vir noot. Hul twee seuns is Carl, ook ’n TV-regisseur, en Etienne wat in die IT-bedryf werk.

“Op 66 vra elke tweede ou wanneer tree ek af. Dan gee ek maar die geykte antwoord: Die dag as ek die passie verloor. Vir my was Noot vir noot nog nooit een oomblik vervelig nie.

“Eenkeer het die SAUK-ateljee se lugversorging opgepak. Ons sit met 300 mense in die gehoor, dis kookwarm en Claire Johnston sing in haar swart leerjas en die arme vrou sweet en sy sukkel, maar ons moet klaarmaak.

“Daar was ook die keer toe ’n lig bo die gehoor ontplof en brandende stukke glas op die mense geval het. En dit brand hul hare en klere en ons moet opdok . . .

Bont onderbaadjies.
Helder klere en bont onderbaadjies het elke reeks anders laat lyk.

“En die aand toe ’n sekere tenoor, ’n redelike groot man, ‘Nessum Dorma’ gesing het. Nee, ek gáán nie sy naam noem nie . . . he-he, maar toe hy sy asem so íntrek om daai hoë noot te vang, val sy broek af. Ons kon nie verder opneem nie.”

Carike Keuzenkamp is die rede hoekom Johan op TV beland het.

Hy was destyds ? jong departementshoof van Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School, goed op pad na adjunkhoofskap.

“Eendag sit ek en boeke merk en my swart-en-wit TV-stelletjie is aan en ek vang die laaste deel van Kraaines.

“Carike sê: ‘Nou ja maats, ons is terug’ en wat ook al . . . toe slaan dit my: dááis my ding. TV. Dáár gaan ek wees.”

Nie wil nie. Gaan.

“Hulle sê mos jou paadjie word vir jou uitgelê . . .”

Dis presies wat met hom in 1979 op die 26ste verdieping van die SAUK-radiotoring gebeur het.

“Ek wag vir ’n hysbak, besluit om vinnig badkamer toe te gaan, maar toe pieng die hysbak en ek hol terug om dit maar wel te vang. Maar die deure gaan so voor my toe . . .”

Hy’s toe maar badkamer toe. Langs hom staan ’n SAUK-baas wat hom vroeër gehoor sing het. Kom werk hier, ons soek nuwe bloed, sê hy vir Johan.

Pieng, verander sy lewe . . .

“Maande later staan ek voor ’n klas en vra myself af: wil ek vir die res van my lewe werkwoorde verduidelik?”

Met langverlof en ’n R75-retoerkaartjie het hy die SAUK gaan “uittraai en . . . ek is nou nog op langverlof!”

Hy en Johan van Rensburg, sy jarelange vennoot, het dieselfde dag by die SAUK begin. Dit was so hittete of Noot vir noot was nooit op TV nie.

Dis afgekeur, maar toe misluk ’n ander program, en Johan kry die oproep: “Daai ding waarvan julle ons vertel het, kan julle dit nog doen?”

“Jis, jis, jis, natuurlik!”

Hulle huur ’n ou bioskoopsaal, slaat ’n verhoogstel blitsig op en skiet die eerste Noot vir noot.

“Die loodsprogram was naar, rêrig swak, ek staan daar in my grys pakkie met die strikdassie en dis vreeslik formeel, maar die SAUK wou dit uitsaai. Toe skiet ons op eie onkoste die program oor en maak die foute reg.”

Sê nou die ding kan vyf jaar loop, het hulle gedroom.

En toe: dalk tien jaar soos Flinkdink. En: 15 jaar, daaaaalk. By reeks 25 was die gehoor so oud soos hulle, gly-gly op die afdraande. Amper Noot vir noot se laaste noot.

“Maar skielik, met reeks 26, spring die gemiddelde ouderdom van die deelnemers af na 22, 25. ’n Nuwe generasie.

“Die geheim is eintlik eenvoudig. As die mense van jou hou, gaan hulle loop met jou.”

Van die stoep waarop ons sit, kyk ons af op ’n klein hawe vol seiljagte en motorbote. Een kom verby en die enjin dikkedikkedikke olierig die watergang af.

Luister na daai lekker dreuning, sê Johan. Hy hou van enige ding wat dreun. ’n Boot se enjin, sy girokopter, ’n kar . . . hy moet net dreun.

Laasjaar het hy en Ferdi Venter, sy blinde navigator wat in ’n eindronde van Noot vir noot was, die Pionierskool vir Blindes se 13de tydren in ’n Audi A8 gewen. “A, wat ’n heerlike oomblik!”

Dikkedikkedikke kom die volgende boot verby. “Hoor die ritme . . . Daar is musiek in alles. As die wind begin waai, hoor jy die toue tieng-tieng-tieng teen die aluminium-maste. Party mense sê dit raas. Dit raas nie. Dis musiek.”

Eendag, as die engel Gabriël hom kom haal, sal hy vra om vir oulaas klassieke kitaar te hoor. Julian Bream, Segovia, John Williams. “Allermooiste.”

Selwers speel hy eintlik maar net pop, glimlag hy.

“Ek druk die akkoorde en slaan die snare, maar dáái ouens kan speel.”

G’n upstêrsgeit aan dié man nie, hy is plat-op-die-aarde soos Kleinzee se mense waar hy sy do-re-me’s 60 jaar terug geleer het.

Hy kan nie dink aan ’n tyd sonder musiek en sing op dié diamantdorpie waar hy grootgeword het nie.

Soos die ou Laurie-orrel wat hy op partytjies en kerkdienste gespeel het.

“Saterdagmiddae dra ek en ou Beyers die ding met groot moeite saal toe vir die sportdanse, dan speel ons tot middernag en dra hom dan terug kerk toe vir Sondagoggend se diens.”

In Stellenbosch kon hy met sy eenmansorkes vir sy studie betaal. Nege jaar lank was hy ’n instelling by die Devon Valley-hotel.

“Ek was al onderwyser in Rondebosch, dan skiet ek Vrydae ná skool Devon Valley toe, pak die orrel, kitaar en amp op die Cortina-bakkie, ry oor Sir Lowry’s-pas Houwhoek toe, speel daar tot middernag, gaan pak weer als af by Devon Valley, en dan’s ek vieruur die oggend terug in Rondebosch. En agtuur blaas ek vir die o.13-rugbyspannetjie in die reën.”

Musiek is nooit moeite nie, dis net lékker, sê hy salig.

Later, terwyl Edrea die foto neem, staan mense oorkant en hulle waai.

Ken jy hulle? vra Johan vir haar, en ons bars uit van die lag vir hierdie man met seker een van die herkenbaarste gesigte in die land.

Dis vir jou, Johan, kyk hoe kyk hulle vir jóú!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.