Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met Mangosuthu Buthelezi
‘Hoop het ons gedra’

Dit het begin op die Mahlabatini-vlakte tussen die heuwels van KwaZulu-Natal met die geboorte van prinses Magogo se eersteling. Twee jaar lank het sy vir hom gewag. 1926 het gekom en gegaan.

1927 het sy omgebid en gevas.

Toe word ’n seuntjie vir die Groot Paleis gebore, en die prinses het geweet hy gaan spesiaal wees.*

Nege-en-tagtig jaar later staan ek by prins Mangosuthu Buthelezi se ou­skool-lessenaar in sy parlementskantoor.

Korrespondensie in ordelike hopies, die silwer pen byderhand, ’n rooi besoekersboek, die dagblaaie só uitgelê dat elkeen se hoofopskrif wys.

Hy skryf vir ons ’n boodskap voor in sy biografie en die konsentrasie pruim sy lippe. In sy baadjie se bosak blom ’n paisley-sakdoek. Rustig skryf hy. ’n Groot bottel water voor hom. Geen rekenaar nie. Geen iPad nie. Net papiere.

Ouwêreldse heer. Laaste van ’n era in die laaste dae van ’n loopbaan.

In die parlement word hy met respek behandel. Umkhulu. As hy opstaan, luister hulle. Begin vanjaar, net voor die EFF oproerig uit die parlement geboender is, het hul jong rooi turk, Mbuyiseni Ndlozi, hom eers na ’n veiliger sitplek gehelp.

Ons is ’n bak slaai, ’n tamatie is ’n tamatie, blaarslaai is blaarslaai. Ons moet ons multikulturele erfenis koester.

“A, dr. Ndlozi! My fellow Christian believer, hy is vir my soos ’n seun.”

Ons oë val op die koerantopskrifte oor plaasmoorde.

“Elke keer wil ek ’n traan stort, want wit boere is die broodmandjie van ons land. Ek was ten gunste van die gewillige verkoper-koper-beleid, maar dit was onsuksesvol. Die Grondwet maak voorsiening vir onteiening met vergoeding. Dís die pad. Nie mnre. Zuma en Malema se praatjies van onteiening sonder vergoeding nie. Dit sal die land vernietig.”

Menere, noem hy hulle. Respek. Ordentlikheid.

Min van ons onthou ’n Suid-Afrika sonder Buthelezi. Dit lyk of hy dit self nie kan voorstel nie, want enige vraag oor sy aftrede (wat hy laasweek aangekondig het) beantwoord hy onthuts: Hy is nóg nie weg nie, hy is stééds Inkatha-leier, eers ná die konferensies sal hy daaraan dink.

Sy antwoorde is volledig. Hy wil geen misverstande laat nie. G’n wonder hy hou nog die Guinness-wêreldrekord vir die langste politieke toespraak ooit nie.

“Dit was ’n voorreg, dié geleentheid wat God my gegee het om my mense te dien van ’n jong ouderdom af tot nou.”

Buthelezi en sy vrou, prinses Irene.

Sy oë, die klem op elke woord, bedoel dit.

En die grootste teleurstelling?

“Die toestand waarin ons land nou is. Ná 1994 het dit gelyk asof ons iewers gaan kom. Maar nou verswelg korrupsie ons. Dit maak my meer depressief as enigiets anders.”

Hy ken pres. Jacob Zuma goed. Hoekom hy ontspoor het, is vir hom ’n raaisel. “Ek kan nie sien hoe Zuma die tronk gaan vryspring nie.”

So, het Buthelezi destyds, met sy breuk met die ANC, voorsien hulle sou so totaal uitrafel?

“Maar ek het nié weggebreek van die ANC nie,” sê hy ferm. Dit druk op sy hart, hier in die beseringstyd van sy politieke loopbaan wil hy dit finaal regstel.

“Kom ek vertel jou iets,” flikker sy oë op. Weet ek die stigter van die ANC, Pixley ka Isaka Seme, is sy oom?

“In my matriekjaar het ek hom help briewe skryf ná sy oogoperasie.”

Ook Albert Luthuli was vir Buthelezi ’n mentor. “Ons was besonder na aan mekaar.”

Hy het grootgeword in die ANC, hoor jy hom trots sê. “ ’n Mens kan sê ek is meer ANC as die ANC.”

Op aandrang van Luthuli en Oliver Tambo het hy hoofminister van KwaZulu geword. “Die ANC wou hê ek moet die apartheidstaat van binne af ondermyn. Ek het geslaag.”

Prins en koning. Buthelezi en Goodwill Zwelithini. Pres. Jacob ­Zuma het Buthelezi destyds gevra om hom voor te stel aan Zwelithini. Dié twee het nou ’n hegte verhouding. “Maar ek en Zuma kuier nie aan huis nie.”

Met die seën van die ANC-leiers het hy Inkatha begin as binnelandse beweging. “Ek het Inkatha aanvanklik net gesien as ’n front vir die ANC.”

Buthelezi se teenkanting van die ANC se aandrang op sanksies en die gewapende stryd was naderhand ’n onoorbrugbare kloof. “In 1979, ná byna drie dae se intense gesprekke in Londen, het ek finaal geweier om my party te gebruik vir die gewapende stryd. Dis tóé dat hulle teen my gedraai het.

“Maar vir my was dit die regte besluit. Daar was geen bloedvergieting nie.”

Vir die res van sy lewe is hy uitgekryt as ’n sell-out en apartheidsboetie.

Internasionaal was hy gerespekteer. Die foto’s hang teen sy muur. Shenge saam met Thatcher, Kohl, Carter, Reagan, Bush, Nyerere, Kaunda, Obasanjo.

Hier: “Die mees swartgesmeerde politikus in die land. Dis verskriklik om van iets beskuldig te word terwyl jy eintlik die teendeel is.”

Buthelezi het sy pyn hieroor al die jare binne gehou, vertel die IVP-LP Liezl van der Merwe. Maar toe die Is­raelse ambassadeur onlangs hul koukus besoek het, en Buthelezi vertel wat hy alles deurgemaak het, het hy bewoë geraak. “Dit was die heel eerste keer.”

Nou verstaan jy hoe dit gebeur het, sê hy vir ons oor ’n koppie rooibostee en diabeet-koekies.

“Maar belangrik, deur alles het Nelson Mandela my vriend en leier gebly.”

Buthelezi se ma, prinses Magogo. Die eerste Afrika-opera gaan oor haar lewe as musikant en Zoeloe-komponis.

Buthelezi is een van enkeles met wie Madiba op Robbeneiland gekorrespondeer het.

“Einde 1989 het Madiba vir my geskryf hy vermoed hy gaan vrygelaat word en ons twee moet saam die skandalige geweld tussen die ANC en Inkatha stuit.”

Buthelezi vertel die ANC het ná ’n besoek aan Viëtnam besluit om hul ­People’s War plaaslik te begin.

Die teiken was Inkatha en PAC- en Azapo-leiers.

“Duisende mense in KZN en Gauteng het onnodig in hierdie burgeroorlog omgekom.”

Kort ná Mandela se vrylating het hy met Buthelezi gereël om mekaar te sien sodat hulle – saam op ’n verhoog – die geweld kon probeer beëindig.

Dit het nooit gebeur nie.

Die UDF (“Mandela het gesê die UDF het hom ‘byna verwurg’ toe hy my wou sien”) en ANC-leier Harry Gwala het elke keer ’n stok voor ’n gesamentlike Mandela-Buthelezi-optrede gesteek. Hy weet tot vandag nie hoekom Gwala en die UDF so teen hom was nie. “Toe Harry Gwala vrygelaat is, het ek nog vir hom ’n tjek vir R2 000 gestuur om ’n bok te koop vir ’n reinigingsritueel.

“Hierdie bloedvergieting kon vermy gewees het as ek en Mandela nie gekeer was nie. Dié mense sal voor God moet antwoord. Nou, dít maak my hartseer.”

Op sy rol in die val van apartheid is hy trots. “Mnr. De Klerk het by die WVK erken my weiering om KwaZulu-Natal ’n onafhanklike tuisland te maak, het die NP finaal oortuig om af te sien van groot apartheid.”

Die sytafel in sy kantoor is vol familiefoto’s van prinses Irene, met wie hy al 64 jaar getroud is, en hul agt kinders, van wie vyf oorlede is.

“Drie is dood weens vigs. Dis hoekom ek dié dra,” druk hy met sy verrimpelde hand op die rooi strikkie teen sy lapel.

“Ek sal dit dra tot ek doodgaan.”

’n Wolk trek oor sy gesig. “Ja . . . dis die hartseerste van my lewe. Eergister het ek en my vrou weer trane afgevee toe ons na ou foto’s kyk.”

Tydens oudpres. Thabo Mbeki se vigs-ontkenning was Buthelezi die eerste leier wat daaroor gepraat het.

Maar sy “kinders”, glimlag hy, het deur die jare meer geword.

As Mbuyiseni Ndlozi ‘kleinboet’ is, is die IVP-LP Mario Ambrosini “ouboet”.

Sý foto het ’n ereplek teen sy muur.

“My vriend. Laasweek met die herdenking van sy dood, het ek ’n brief vir sy weduwee gestuur.”

En Liezl van der Merwe . . . “A, Liez! Sy gee my hoop vir my party.”

Sy het deur die jare die sagte kant van Buthelezi leer ken, die oupa met die werf daar by KwaPhindangene vol kleinkinders. Prinses Irene het boonop, tot ergernis van die prins, ’n skoothond gekry, lag Liezl.

“Hy sê vir my: ‘Jô, Liez, dis baie un-African om honde in die huis te hê, maar die brak groei op my! As ek eet, kom hy nader en doen truuks en nou’s ek gedwing om ’n bietjie kos vir hom oor te hou op my bord!’ ”

Hul kleindogter is die eerste swart powerpuff girl, Toya Delazy. Dié sang­talent kom van ouma Magogo, die gevierde Zoeloe-musikant/komponis.

Hou hy van sy kleinkind se musiek?

“Ja, hegh-hegh, maar dis nie my soort musiek nie.”

Sý musiek, o, hy sal my wys, staan hy fluks op en gaan haal Brahms, Andrea Bocelli en The Psalms waarna hy graag in die kar luister. “Baie strelend.”

Dan diep hy nog ’n CD uit agter die Disprin-boksie in die ou leersak wat al donkiejare met hom saamkom.

“Sibongile Khumalo! Sy sê altyd sy’s geïnspireer deur my ma. Sibongile het my ma se rol gespeel in die eerste Afrika-opera, oor haar lewe.”

Kultuur, etnisiteit, dis allerbelangrik, benadruk hy.

Grinnik. “Dit stel jou dalk teleur, maar toe my aartsbiskop gesê het we are a rainbow nation of God (hy maak Tutu perfek na) . . . néé. Ons is ’n bak slaai, ’n tamatie is ’n tamatie, blaarslaai is blaarslaai.

“Ons moet ons multikulturele erfenis koester. Dit verryk ons.”

En dan trek die prins los en sing ’n hele versie van “Hoe ry die boere”. Op sy stukke, hy geniet dit gate uit.

“Die Kaapse nooi sê dingelingeling, dingeling hoera!”

En dit skaterlag in die kantoor.

Sê, later, gesellig, eintlik wou hy al tien jaar terug bedank. Gaan rus. Maar elke keer sê hulle nee, bly, nie nou nie.

Daar kom ’n ergernis oor hom.

“In 2010 het die ANC probeer om my party te vernietig deur die NVP (Nasionale Vryheidsparty) te finansier. Hulle het die IVP geskeur, my afgemaak as ’n ou man wat droom.”

Ha.

Dís wat Shenge langer laat aanbly het, daai Zoeloe-gesegde sê jy hol nie weg as jou huis brand nie.

Hy moes eers sy party red – en toe bons die IVP in 2016 se munisipale verkiesing terug.

“Toe Zuma die NVP-leier ’n adjunk-minister maak, is ek reg bewys. Die ANC het ons probeer kelder.”

So. Nou verlaat hierdie ouwêreldse jintelman die politiek, hierdie troebel demokrasie waaraan hy sy lewe gewy het. Maar hy het hoop.

“Hoop het ons aan die gang gehou in die donker dae van apartheid. Ons het altyd geskree: freedom in our lifetime! Maar later, alleen, sak jou moed in jou skoene, want die apartheidsregime was stérk,” lag hy uitbundig.

“So, ek gló in Suid-Afrikaners. Ek glo ons kan dinge regruk. ’n Goeie vriend, sir Laurens van der Post, het altyd vir my R.L. Stevenson aangehaal: It is better to travel in hope, than to ar­rive.”

*Buthelezi: A Biography, Ben Temkin (Frank Cass-uitgewers).

  * Die gewilde RSG-aanbieder Amore Bekker vertel Sondagaand in ’n openhartige onderhoud op ’n Halfuur met Hanlie (via, DStv 147) hoekom ’n mens jou voorgevoel kan vertrou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.