Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met Melusi Tshabalala
Haal jou mgabe af en lilizela

Sy woorde dans met mekaar.

Dis wat ons dié naweek moet doen, beduie Melusi Tshabalala met ’n breë glimlag. Dans. Juig. Juig. Lilizela (ululeer) vir Silili (Cyril, want in Zoeloe is daar nie ’n “r” nie), “want ons het ’n nuwe president, ons weet nou wel nie wat wag nie, maar ons moet die verandering koester en vier. Lilizela vir ons nuwe Nuwe Suid-Afrika.”

Hy noem homself ’n buitengewoon-gewone ou van Jozi, partytjiedier, pa van drie en ’n Romeo met ’n suikertand wat sy vrou se Valentyns-Lindt uit pure spanning verslind het terwyl hy gekyk het hoe Zuma bedank.

Maar dié 100% Zoeloe-dude kon dit die laaste paar maande regkry om met sy Facebook-blad Melusi’s Everyday Zulu Suid-Afrikaners van oor die spektrum heen byeen te bring (nee, sê hy, dis Zuma wat die land verenig het. Téén hom).

Elke dag kies Melusi ’n Zoeloe-woord en string dit saam met kleurryke kraletjies van sosiale kommentaar, politieke draakstekery of skreeusnaakse absurditeite.

Plus ’n klankgreep vir die uitspraak van die woord.

In sy diep stem. Li-li-zê-la.

“Seriously, ouens, daar’s soveel aakligheid wat ons nie kan beheer nie, kom ons verdrink dit maar liewer met positiewe vibes,” skryf hy. “Natuurlik, vat str*nt vas waar dit ook al kop uitsteek, maar kom ons vergeet nie om te lilizela nie.

“Alilililililiili sommer die klein dingetjies ook.

“Jy gee geweldig om vir persoonlike higiëne en jy bly nié in die Kaap nie. Lilizela. Jou kêrel gebruik jou toilet sonder om die sitplek nat te spat. Lilizela. Jy maak ’n koeldrankblikkie oop sonder om jou gel-naels te breek. Lilizela, gherl. Jy kon ’n wind los in die hysbak en uitklim voor iemand anders inklim. Lilizela. Ons is al deur Januarie en jy hoef nog nie ’n nier te verkoop het vir petrolgeld nie. Lilizela. Jy werk nie by H&M nie. Lilizela. Jy werk by H&M. Lilizela, ten minste het jy ’n werk. Om ’n apie genoem te word is nie vir jou ’n biggie nie. Lilizela. Dit moet lekker wees.”

Sy Woord van die Dag vir Valentyn-kansvatters?

Melusi, jy hét jou voorgeneem om oop te wees vir ander rasse, geslagte en ouderdomme, neh. So: Aanvaar hulle as vriende.

Goloza (om te weerstaan/uit te daag).

“Die crush wat jou heeltyd ignoreer, is nou skielik in Februarie gaaf met jou. Goloza. Sy soek net Valentynsgeskenke. Jy word gebruik. Goloza. Sy kan weer ná die 14de probeer . . .”

Melusi is in Soweto gebore, sy ma is ’n huiswerker in Malvern. Sy pa het hy nooit geken nie. Ná matriek was hy ingeskryf vir ingenieurswese, maar daar was nie geld nie. Hy sou dit in elk geval gehaat het, lag hy daaroor.

Hy het loswerkies gesoek, ’n werwingsagent het van hom gehou, sy was bereid om self sy eerste studiejaar te betaal. Sy vra: Wat wil jy met jou lewe aanvang? Hy onthou hoe baie hy advertensieklingels as kind geniet het . . . Sunshine. Bull Brand. Chomp.

A! Advertensiewese . . .

“Toe kry ek ’n beurs en ná ses maande by AAA (advertensieskool) gaan werk ek die vakansie by Leo Burnett. Hulle vra: ‘Wil jy werk of wil jy swot?’ ’n No-brainer vir ’n arm outjie van Soweto. Nou’s ek al 20 jaar in die advertensiebedryf.”

Én hy is 40 en ’n bietjie verby, gooi hy laggend hande in die lug hier op die leerbank in sy meenthuis langs Dainfern, Fourways.

Melusi en ’n vennoot het ’n ontwerp- en advertensieagentskap in die trendy Maboneng-distrik.

Sy frustrasie oor die stief behandeling wat inheemse tale in veral radio-advertensies kry, was ook ’n rede waarom hy dié blad begin het. Hy wou hê mense moet sien hoe koel Zoeloe is.

Advertensies word in Engels geskep, vertel hy, en dan word dit aan die klankingenieur en taaladviseur oorgelaat om die inheemse taalopnames vinnig en slordig op te neem.

“Dis asof swart verbruikers tweedeklasburgers is. Uit frustrasie skryf ek toe ’n lang relaas oor hoekom ondernemings swart advertensiemaatskappye wat omgee vir inheemse tale, moet gebruik . . . maar dit was weer net klagtes en mense is doof vir klagtes.”

Uit ’n klomp podcasts deur sakeleiers het hy veral een les geleer: Skree soveel jy wil, maar mense val vir positiwiteit.

Toe vlam die Lion-vuurhoutjie in sy kop.

“Hou op om jou te bekommer oor wat jy nie het nie en gee wat jy hét.”

Vir Melusi was dit taal – nie net om die advertensiebedryf te laat verstaan wat hulle verloor deur nie met inheemse tale te werk nie, maar ook om te wys watter skoonheid lê in ’n taal en sy kultuurgemeenskap.

“ ’n Taal vertel sy wêreld.”

Dis hoe Melusi’s Everyday Zulu begin het.

“Ek het eers so tien vriendversoeke ’n dag gekry. Tot die dag toe ek oor Mugabe skryf . . .”

Sy woord daardie dag was mgabe, nie ’n Zoeloe-woord nie, maar ’n kortbegrip vir daardie dreigende gluur van Robert Mugabe.

“So, as jy wil hê mense moet jou uitlos, sit jy vir jou ’n mgabe op.”

En net daar ontplof sy Facebookblad. “Op pad na ’n vergadering sien ek daar’s 100 vriendversoeke. Ná die vergadering was daar 700. Almal wit mense.”

Melusi raak aan die sweet: Dink hierdie whiteys hy’s pro-Rhodesië? Hy bel ’n wit pêl en die ou lag hom uit en sê nee, dude, hulle laaik net jou post.

“Dit wys my eie vooroordele oor wit mense, neh. Toe begin die boodskappe instroom, en dis Afrikaanse tannies, amper almal van hulle!”

Daar is Melusi Tshabalala toe in die pekel.

“Ek praat hard met myself: Melusi, jy hét jou voorgeneem om oop te wees vir ander rasse, geslagte en ouderdomme, neh. So: Aanvaar hulle as vriende, maar unfollow hulle dadelik, want ek soek nie hul rassistiese sh*t nie.”

Ná so 15 unfollows raak Melusi se vinger moeg. “Ek sê toe f*kit, aanvaar en unfriend maar as dit nodig is. Dis nou al drie maande en ek moes net vier mense afgooi.”

Almal het maar net hul eie probleme, leer Melusi toe, Afrikaners, Engelse, wat-wat. Almal kap maar net elke dag aan. Sukkel net soveel soos hy met kinders en dinge en sommer net basies die lewe.

Maar een whiteys-ding kan Melusi glad nie hanteer nie: Hul beheptheid met honde.

Nja.

“Wit mense gaan gagga oor hul diere! Eenkeer skryf ek hoe die apartheidspolisie (met hul wolfhonde) ons altyd in die townships geslaan het om uit te vind waar drank verkoop word.

“En ek grap die wolfhonde (hulle blaf in Afrikaans) moenie vergeet ons weet aan wie se kant hulle was tydens apartheid nie.

“Toe’s die mense meer ontsteld oor die wolfhonde as die goed wat ek oor apartheid gesê het. Dis nie die honde se skuld nie, kla hulle, en ek wonder: Het julle nie geléés wat ek geskryf het oor wat apartheid aan ons gedoen het nie? Huh? En julle worrie oor ’n hond!”

Hy’t nou geleer: Voor jy reageer, gaan staan net eers ’n bietjie in die ander ou (of tannie) se skoene.

“Ek was altyd oortuig wit mense verdra ons, maar diep binne-in haat hulle ons. Ek wou nog altyd ’n vlieg wees teen die muur van ? konserwatiewe Afrikaanse gesin se huis. Ek het veronderstel elke Afrikaanse gesin het een of twee rassiste onder hulle.

“Ek wou weet: Watse gesprekke voer wit mense met mekaar? Hoe kon ’n hele samelewing van rassiste ontstaan? Jô. Dis ’n aaklige ding, daai, ek sal mos nooit my kinders grootmaak met die idee dat ander mense laer is as ons nie.”

Een van sy Facebook-volgelinge, Schalk van Heerden, het sy boek Time to trek vir Melusi afgelewer. “ ’n Ou landsvlag is op die voorblad, vir ons is dit soos son vir ’n vampier,” grap hy.

“Maar toe begin ek lees en ek begin verstaan. Dié boek is geskryf om wit mense te oortuig om deel te word van die groter Suid-Afrika. Ek besef nou rassisme se wortels lê in vrees. Dis soos xenofobie, daardie diep angs dat mense daarop uit is om jou te kry, dat jy alles gaan verloor.”

En swart-op-wit-rassisme? “Oi, dis ’n tricky een.” Hy dink ’n oomblik. “Ek glo nie ons dink ons is beter as wit mense nie, ons dink wit mense is meerderwaardig en dat hulle klippe in ons pad rol. So, dis eerder ’n reaksie op hoe ons altyd deur wit mense hanteer is.”

Soveel mense het al vir Melusi gesê sy Facebook-blad laat hulle deel voel van die groter Suid-Afrika.

“Maar eintlik het dit mý meer gehelp. Dis ook lankal nie meer net my blad nie, dis ’n platform waar mense van alle rasse bymekaarkom en gesels. Dit gaan mal! Ek ken niemand, maar ons gesels. Ek wat altyd so op my hoede was vir wit mense.”

Vir ? ou wat baie eerder vosho en gqom op “Shut-up & Groove” as diep dink, raak Melusi deesdae, net soms um . . . diep.

“Ek en my vriend praat anderdag oor #MenAreTrash. En ek sê s’true, ons mans is totaal trash. Ek meen, elke dág werk ek daaraan om minder trash te wees, maar ek is trash, ek het in so ’n wêreld grootgeword, toksiese manlikheid is my gunstelingdrankie. En my vriend sug: Ten minste gaan ons ons kinders grootmaak om nié so te wees nie.”

En net daar ruk die Nuwe Verbeterde Melusi hom op en sê nee, ons het dalk nog 40 jaar kans om ’n beter man te wees.

“Ons kan mos nie nou sê los dit vir die kinders nie! Net so met die ras-ding. Kry jouself nóú reg. Of gaan jy net aanhou om ’n poephol te wees?”

Sy vriende wou hulle doodlag toe hulle hoor hy het ’n onderhoud met Rapport. “Hulle vra: ‘Hei, is jy nou aan die anderkant, buddy?’ ”

Hy voel vere, lag hy vrolik. “Melusi’s Everyday Zulu is ’n ontdekkingsreis. Laat ek sien waar dit eindig.”

Gister het ’n vrou hom genooi om saam met ’n groep mense in haar tuin te kom tee drink. “Sy noem dit Life in a Garden. Ek sou nooit in die verlede na so ’n klomp anties gegaan het nie. Maar ek gaan nou. Ek wil. Ek hoop net nie daar’s honde nie . . .”

Hy kry ’n vreeslike stout glimlag.

“Wie’s daai Bybel-ou wat so geruk was dat sy naam verander het? Saulus na Paulus of so? Dis ek.”

Melusi Tshabalala se #everydayDamaskus.

Meer oor:  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.