Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met Morné Morkel
Langeraat trek Proteahemp uit

Almal deel nou hul #MorneMoments, maar Morné Morkel se eie Goue Oue uit 2006 gee hom vandag nog bewerasies.

“Dit was my eerste bal in internasionale krieket. Sachin Tendulkar was die kolwer. Shaun Pollock het vir my die bal gegee, hy en André Nel het met my gepraat, maar ek het niks gehoor nie.

“Toe die skeidsregter sê speel, was my hele lyf lam en ek het nie geweet hoe ek daai bal gaan boul nie.

“Maar toe boul ek. En toe begin alles.”

En nou het hierdie wilgerlat-wolkekrabber sy heel laaste bal in internasionale krieket geboul, 12 jaar later, pas nadat hy die vyfde lid van die elite-300-klub in SA krieket geword het, in ? seisoen waarin hy die beste krieket van sy lewe gespeel het.

Wát 'n uittrede. Op 'n hoogtepunt.

Hy het stadiger as gewoonlik van Wanderers se veld afgestap. Op die paviljoen sien ons sy pa, Albert – self op sy dae as provinsiale krieketspeler – en sy tweejarige seuntjie, Arias. Ons onthou hoe Morné die vorige dag in die reën uitgedraf het om vir die druipnat baanopsigter 'n koppie koffie te vat.

En toe die ouens ’n erewag vir hom vorm, was ons almal eintlik óók daar om vir hierdie beskeie langeraat totsiens te sê.

Toe hy daardie laaste oggend Wanderers toe ry, het Morné homself belowe hy gaan elke oomblik geniet.

“Ek wou die meeste maak van my laaste paar ure in die Proteahemp. Dis die vinnigste wat ’n dag nog verbygevlieg het, naas my troudag!”

‘Daar’s soveel dinge waarna ek uitsien. Net léwe.’

Twee dae ná sy uittrede begin die werklikheid nou inskop. “Die ouens vlieg Indië toe, en hier klop die lewe ná krieket aan my deur. Eerlikwaar, dis scary. Maar ek berei my al maande voor hiervoor, ek’s in ’n happy place.”

Dis nog nie amptelik nie, maar die planne is om in Surrey graafskapkrieket te gaan speel.

Woensdag, op die Kaapstad-lughawe, sien jy Morné van ver af aankom. Bo-op die tastrollie sit Arias met sy Apie-tassie. Met sy sybesering kry Pa hom nie lekker gedra nie. Op twee is daai beentjies klaar rankerig, en hy lyk nés sy pa. Nee, keer Morné, “hy het my vroutjie se looks, maar ek dink die klein mannetjie het my sagte geaardheid”.

Vroutjie Roz, sien jy, is self nie vertikaal gestrem nie. Hy’s nét 'n kop langer as dié voormalige krieketjoernalis van Australië se Channel 9.

En was daar huismoles toe hy die Aussies so opgedreun het? “Nee,” lag hy, “sy ondersteun die Proteas, maar met rugby het ons bietjie van ’n tweestryd!”

Met sulke ouers is klein Arias ook lankal blootgestel aan die ABC van balgooi. “Dit was vir my vreeslik belangrik dat hy my kon sien speel voor my uittrede.

“Dís waar my liefde vir die spel begin het. My pa het ons as kinders altyd krieket toe geneem en ’n ou het daai atmosfeer ingeneem.”

Morné het op Vereeniging grootgeword en hy kan nie onthou van ’n tyd sónder krieket nie. “Ek en my ouer broers, Albie (oud-Protea) en Malan, het dosyne vensters stukkend geslaan, en ons was ’n nagmerrie vir my pa se grasperk. Hy het dit met soveel liefde probeer groei, maar ons het met die grassnyer ons eie pitches uitgesny en gate in die gras gespeel.”

Morné Morkel en sy seuntjie, Arias, op die krieketblad ná ’n dag se krieket teen Australië in 2016. Foto: Ryan Pierse/Getty images

Ja, vertel Albie toe ek hom raakbel op vakansie in Italië. “Meeste van ons bure was seuns van ons ouderdomme, en smiddae ná skool is daar wild krieket in die agterplaas gespeel. As die jongste moes Morné die meeste boul, en baie keer as dit sy beurt was om te kolf het ons gesê dis nou te donker of ’n ander verskoning uitgedink om op te hou speel.

“Morné was altyd redelik lank maar verskriklik maer; hy het eers heelwat later begin ontwikkel en sterk genoeg geraak om werklik vinnig te boul.”

Ja, lag Morné later, “hulle het my kwaai geboelie! Maar ek het geweet my dag sal kom.”

Altyd die baba in die huis, grinnik hy.

“Ek het opgesien na my broers. Hulle het hul provinsiale en SA kleure voor my gekry, en dit het nogal druk op my gesit. Maar dit was my eie druk, ek wou óók graag daai baadjies in my kas gehad het.”

Ná matriek is Morné Pretoria toe om vir die Titans te speel. Harde tye, min geld.

“Eendag sê ek vir die coach ek kan nie oefening toe kom nie want ek het nie petrolgeld nie. Toe sê hy verkoop die kar en koop ’n fiets . . .”

In daardie eerste jare was die onsekerheid of hy dit gaan maak vir hom die moeilikste. Maar die heel moeilikste tyd in sy loopbaan was, ironies, twee jaar terug.

“Ek het baie met my rug gesukkel. Om in ’n spreekkamer te sit en die dokter sê jy moet begin dink wat jy ná krieket gaan doen . . . dis koue woorde daai.

“Ek het in my kar gaan sit en huil, en vir myself gesê: Hierdie gaan my nie onderkry nie. As jou hart vir jou sê daar is nog bietjie petrol in die tenk, moet jy daai stem volg. En ja, met baie mense se hulp . . . hier is ek nou.”

Morné het Roz (“sy’s swanger met ons tweede enetjie!”) die eerste keer raakgesien op 'n mediadag voor die 2012-toetsreeks in Australië.

“Ek het nog gegrap al onderhoud wat ek wil doen is met dáái girltjie.”

Die media was by elke oefensessie, en Morné boul die bal én die girl.

“Ek probeer ogies maak, maar sy gee my doughnuts, vreeslik gefokus op haar werk. Maar ja, toe stalk ek haar bietjie op sosiale media,” grinnik hy.

Die reeks was skaars klaar, toe maak die bouler sy lopie. Bietjie gesels word baie gesels, ses maande lank elke dag geskype.

Roz was bereid om haar loopbaan prys te gee vir Morné. “Ongelooflik, want sy was baie suksesvol.”

En nou, Sondagmiddagetes, as hulle gaan kuier in Vereeniging, eet Roz boerekos by die skoonfamilie. “Pampoen ook.”

Sy’s baie skaam, sê Morné, maar sy leer nou kwaai Afrikaans. En sy braai.

Mense raak nie uitgepraat oor hoe Morné se spelpeil die laaste 18 maande verbeter het nie. Die stil stabiele soldaat tussen Dale Steyn en Vernon Philander het skielik ontpop as 'n Terminator.

Sy boetie het die beste vir laaste gelos, sê Albie.

“Hy het meer konstante lyn en lengtes geboul en ook bietjie voller, wat die kolwers forseer het om meer van sy balle te speel.”

Morné sê afrigter Ottis Gibson se klein verstellings aan die ouens se boul­aksies het 'n verskil gemaak.

“Ottis het al die ervaring wat hy in Engeland opgedoen het hierheen gebring. Ons het hard gewerk aan daai voller lengtes. Hy het gevoel my aanloop is te skuins, so ons het daaraan gewerk. Maar die groot ding is om nie té veel, té groot veranderings aan te bring nie, want dan tel 'n ou beserings op. Ná 12 jaar is my lyf nou al gewoond aan my aksie.”

Daar is ook gekyk na hoe Morné die bal vashou. “Ek het mos nou maar groot, lang vingers,” wys hy die grootste hand wat ek nog in my lewe gesien het.

“Ottis het gesê ek moet rondspeel met my greep. Ek werk toe daaraan om my vingers nader aan mekaar te hou.”

Dis vir Morné jammer om Gibson nou as afrigter te verloor, want hy kon nóg impak op sy spel gemaak het.

'n Ander rede vir sy sukses, voeg Morné by, is dat hy nie meer bang was vir mislukking nie.

“Ek het maar net vir myself gesê: Ek is nou al sleggesê, ek weet wat van die mense van my dink, dinge kan nie erger raak nie.

“Toe begin ek meer kanse vat en dinge het begin werk. En ja, nou sing die mense ’n ander deuntjie.”

In 'n loopbaan met vele oppe en affe hét Morné 'n rojale kwota kritiek gekry.

Die getjirp oor daai wêreldrekord van 14 foutballe . . . “Ek het myself aan die slaap gehuil oor daai foutballe!

“Ek het al baie op die veld gegaan om sportskrywers verkeerd te bewys. Maar dis gevaarlik, want op die ou end grou jy vir jouself ’n dieper gat want jy speel nie vir die regte redes nie.”

Nadat hy in 2009 uit die Protea-span gelaat is, het hy, een van die hardste werkers in die span, homself letterlik terug-geoefen.

“Ek moes daarmee leer lewe: Sukses is nooit gewaarborg nie, al oefen jy so hard as jy kan, al tik jy al die boksies af.

“Gaan uit, gee jou beste en as dit nie jou dag is nie, vat dit op die ken. Maar eintlik is daar min slegte dae op die veld. Dis só lekker om vir die Proteas te speel. Ons ondersteun mekaar altyd.”

Wat hulle die meeste van Morras gaan mis, sê sy spanmaats, is die lekker gees wat hy in die kleedkamer gebring het.

“Ons is almal ’n klomp broers daar. Dit was vir my belangrik om partykeer die smaails in die kleedkamer te bring, veral op ’n agtweketoer.”

Mense noem hom die gentle giant. Hy sledge nie, hy tjirp nie. Sy onnie-ma, Mariana, het haar jongste ordentlik grootgemaak.

“Jajaja,” lag hy vrolik, “As sy sien ek’s lelik op die veld, tjop sy my uit: Onthou hulle het ook 'n ma en ’n pa en ’n gewete!

“So ek byt maar liewer my bolip.”

En as dít nie meer help nie, roep Morné vir Hashim Amla nader. “Die man het ’n rustige siel, hy sê net: Morné, dis oukei.

“Baie dinge trek 'n ou se aandag af. Om my te help fokus, visualiseer ek dat ek in 'n borrel klim.”

In daardie kenmerkende rondomtalie-draaitjie voordat hy boul, visualiseer hy wat se bal hy wil boul. “Dan sê ek vir myself: raait, commit, dís wat jy gaan doen.”

Al daardie lewenslesse wat Morné op die krieketveld geleer het, koester hy, wil hy eendag met sy seun deel.

“Ek skryf elke dag iets in 'n joernaal. Ek wil dit vir hom gee as hy eendag groot is.”

Sy pa is afgetree, en hy is woes besig om vir Vereeniging se jong krieketspelers besige seisoene te reël, vertel Morné. Dis presies waar hy homself eendag sien. “Ek wil graag eendag afrig, ’n mentor wees vir die jonger outjies. Daar’s soveel dinge waarna ek uitsien. Ek wil net léwe.”

Eergister sien ons hom tussen die branders by Surfer’s Corner in Muizenberg. Hier hang hy, Dale Steyn en Faf du Plessis uit as hulle nie gholf speel of visvang nie.

Hy kom uitgedraf, gee die rooi haaivlag 'n vlugtige kyk en hol met daai kameelperd-treë terug vir ’n laaste vinnige een met 'n “jissou maar die water is lekker!”

“Oh, he’s a total honey,” sê Roxy, eienaar van die Surf Emporium, hier langs my op die strand.

Jissou ja, lewe. Alles lê mos in jou boulaksie.

Meer oor:  Morné Morkel  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.