Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
KYK: Hanlie Retief gesels met Outa se Ben Theron
Ben sê: Ons kán korrupsie stop!’

Voor vyf soggens gooi Ben Theron sy duvet van hom af, draf deur die stort en vat die pad uit Moreletapark Randburg toe.

“Sesuur, tien oor op die laatste, is ek op kantoor by Outa, en dan werk ons ons woefie af.”

Volgens Theron, sedert Junie bedryfshoof van Outa (Organisasie teen Belastingmisbruik) lê die rede vir hierdie ywer in sy verlede.

Om presies te wees: 1995.

“Ek het toe in Nelson Mandela se kantoor as projekbestuurder saam met Jay Naidoo gewerk. Madiba was ’n slawedrywer. Ek sal nooit die keer vergeet nie toe hy sommer uit die bloute gevra het waar’s die naaste skool, en toe sy kavalkade karre daarheen laat ry het vir ’n impromptu besoek aan die kinders.

“En dan bel hy vir Jay Naidoo en sê hoe kan kinders in sulke haglike omstandighede skoolgaan, waddehel gaan aan, hulle is honger en hulle het nie klere nie!

“En dan tjop hy vir Jay uit: Hoe kan ons sê ons is ’n regering vir die mense as ons kinders honger skoolgaan?

Dis 20 jaar later en jy’s geskei, jou geld is op en jou man het jou goed gebliksem. Nou, só voel dit vir my.

“En sewe dae later was die Mandela Challenge daar, sodat elke kind een maaltyd by die skool kan kry. En ons het vir drie nagte nie geslaap nie, want dis kosteverhalings en logistiek. As Madiba ’n ding wou hê, het hy dit gekry. Dadelik. Geen steen onaangeroer nie. Dis die man wat hy was.”

As Ben Theron soggens die verkeer op die Ben Schoeman slaat, voel dit vir hom weer ’n bietjie soos ’95.

“Onthou jy daai tyd? Man, die toekoms het so wonderlik gelyk. Die Bokke wen, als loop reg en die land is propvol moontlikhede. Lekker, man!

“Dis nou asof jy terugkyk op jou ­honeymoon, maar dis 20 jaar later en jy’s geskei, jou geld is op en jou man het jou goed gebliksem. Nou, só voel dit vir my.”

Maar dan stap hy Outa se kantoor binne en kry sy eerste oproep van ’n fluitjieblaser oor nóg korrupsie en dan voel Ben Theron terug in Madiba se kantoor waar almal die land se belang eerste gestel het. “En ek wil die ou nuwe Suid-Afrika omskep in ’n nuwe-nuwe Suid-Afrika waar ons almal verdomp in dieselle rígting trek!”

Hy werk in ’n organisasie wat ongelooflik energiek is, spog dié nuwe bedryfshoof rojaal oor Outa.

Vakbonddae, 1993. Die Poskantoor se werknemersvereniging, die ou Kleurling-vakbond. Ben Theron is voor, tweede van regs.

“Ons is 35 mense en ons is tight. Die humor en terggees en erns tussen ons is aansteeklik. Wat ons aan die gang hou is die awakening van Suid-Afrika, as ek dit in Ingels mag sê.

“Maar kom ek sê jou, ons het ses maande terug een keer ’n week ’n oproep gekry van mense wat sê: hier’s inligting oor korrupsie.

“Nou kry ons drie oproepe ’n dag! Ons kan nie voorbly nie.”

Ben Theron noem homself ’n “operasionele mens”. Gee hom ’n joppie, sê hy, maak nie saak hoe groot dit is nie, dit word gedaan.

Toe Outa (Opposition to Urban Tolling Alliance) hul hofsaak oor die e-tolstelsel teen Sanral verloor het met ’n kostebevel van R25 miljoen, het almal aanvaar dis dié drukgroep se einde.

Boonop moes die stigter-voorsitter Wayne Duvenage en sy span ’n deposito van R1 miljoen betaal voor hul regspan teen die uitspraak en kostebevel sou appelleer. Toe druk gewone Suid-Afrikaners hand in die sak en help Outa uit die moeilikheid.

R2,5 miljoen binne drie dae.

“In Januarie het ons wyer begin gaan en alle belastingvergrype begin aanvat – steeds Outa, maar nou die Organisa­tion Undoing Tax Abuse.

“Tot en met Junie het almal ons steeds maar gesien as die e-tol-bakleiers, maar toe het ons rêrig begin lostrek.”

Tot en met Junie het almal ons steeds maar gesien as die e-tol-bakleiers, maar toe het ons rêrig begin lostrek.

Outa dien byna weekliks ’n nuwe korrupsieklag in.

“Vier dae terug het ons vir Koko (Matshela Koko, die geskorste waarnemende Eskom-hoof) geklap.”

Hulle het bedrog- en korrupsieklagtes teen hom ingedien, met bewyse van wanbestuur en bande met die Guptas.

Die saak wat hom egter laat “whaauw!” van opgewondenheid is “die bloedneus” wat hulle die Guptas kon gee met ’n hofbevel dat die rehabilitasietrustfondse van R1,75 miljard (“en dis seker nou al met rente R2 miljard”) van die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn in die Bank of Baroda bevries moet word.

“Dis vir my fenomenaal, want die Guptas maak of hulle al hul maatskappye verkoop, soos Jimmy Manyi wat hul mediabelange ‘gekoop’ het sonder om ? sent daarvoor te betaal. Hulle het die myne verkoop aan ’n ou wat boggerôl weet van myne, hy verkoop skoene en luukshede êrens oorsee. Dan bedryf die Guptas dit steeds.

“Ons is geweldig trots daarop dat hulle nie aan daai geld kan vat tot die hof besluit wat daarmee moet gebeur nie. Hulle kan nié met ’n kassierstjekkie Dubai toe hol nie.”

Dis asof Suid-Afrikaners die laaste weke besef ons kán korrupsie se krane toedraai, sê Ben. “Trillian, McKinsey, KPMG – alles word nou oopgevlek. En mense word gatvol.”

Trillian, McKinsey, KPMG – alles word nou oopgevlek. En mense word gatvol.

Outa slaag nogal daarin om wenbare sake te kies. Eskom, die SAL, SAUK, druk op die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) en nou is die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), onderwysdepartemente en munisipaliteite in hul visier.

“Eintlik is ons proses eenvoudig. Ons identifiseer die korrupsie en werk flêt out. Ons vroetel nie hier op die rand rond nie, ons wil agter die bréin kom.”

Dis hoe hulle die Guptas se geldkrane toegedraai kon kry. “En nou baklei die Guptas hul gatte af – daar’s nie ’n ander woord daarvoor nie.”

Ironies was Ben voor “daai bier met Wayne wat toe ’n werkaanbod geword het” die bedryfsbaas van die maatskappy wat tolgeldinvorderings in Gauteng ingestel het: die Electronic Toll Collection (ETC).

“Snaaks, nè,” bars hy uit van die lag.

Hy was ’n laaitie van Bellville-Suid wat ná matriek by Telkom as tegnikus gaan werk het.

Hy was ’n laaitie van Bellville-Suid wat ná matriek by Telkom as tegnikus gaan werk het.

“Benjie” het sy ma-hulle dié middelkind tussen drie susters en een broer genoem.

Toe hy nie “saam met die whiteys” in die teekamer kon sit nie, het hy “so ’n bietjie drama veroorsaak en ek is amper op dag ses gefire”.

Eerder as om óók te gaan leer vir onderwyser – “almal in my familie, behalwe my predikantbroer, is onnies” – sluit Ben toe summier aan by ’n vakbond. Kort voor lank was hy hoofsekretaris, en toe hy sy oë uitvee, gebeur die Nuwe Suid-Afrika en hy gaan help met regstellende aksie in Madiba se kantoor.

“My hele lewe lank is ek al betrokke by omstrede goeters en staan ek op vir menseregte. In matriek,” grinnik hy, “het ek ses latjies (lyfstraf) gekry vir oproerigheid.”

Dís hoekom dit vir hom so lekker is by Outa. Gatkant-teen-die-juk-ouens wat in die Balalaika-hotel gaan bunker het teen tolgeld – sy soort mense dié.

Sy vrou, Lynette, is ’n verpleegsuster by hospitaal in Sentraal-Pretoria.

“Sy kla ek werk te hard, maar ek dink sy en ons twee seuns is nogal trots op my gestoeiery teen korrupsie.”

Terwyl hy ná sy termyn by ETC konsultasiewerk gedoen het, het hy hom persoonlik teen korrupsie begin vasloop.

“Ek het agtergekom jy kry nét staatskontrakte as jy bereid is om iemand iets in die hand te stop. En ás jy dit kry, word jy nie betaal nie, want jy moet eers iemand betaal om betaal te word . . . Daar’s voortdurend ’n ‘foutjie’ in jou faktuur wat net reggestel kan word met ’n blou noot.”

Hy grinnik óók vir dié wat sê Outa is soos ’n hondjie wat blaffend agter elke kar aanhardloop.

Wayne se biertjie in Randburg was op presies die regte tyd in sy lewe, grinnik hy.

Hy grinnik óók vir dié wat sê Outa is soos ’n hondjie wat blaffend agter elke kar aanhardloop.

“Agter die skerms is ons selfs nóg woeliger. Jy sien net omtrent 30% van wat ons doen.”

Hulle het die Black Sash en Freedom Under Law in die Sassa-hofsaak bygestaan met inligting en bewysstukke, asook die parlementêre ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek het.

Later, met die aanstelling van die SAUK se tussentydse raad, kon Outa die raad voorsien van inligting oor interne korrupsie. “Daardie korrupte SAUK-amptenare suig geld op. Binne die eerste maand het die tussentydse raad 18 kontrakte gestop. Daar’s selfs ’n ateljee heeltemal onwettig vir R50 miljoen gebou nadat die vorige een afgebrand het. Daar’s lekker gepeuter met die versekeringsgeld. ”

Outa wil met dié saak Sanral se dagvaardings vir onbetaalde e-tolgeld onwettig laat verklaar.

Sowat 80% van Outa se 21 000 lede is daar oor e-tol. “Ons hoop hulle bly nadat ons die toetssaak teen Sanral gewen het.”

Outa wil met dié saak Sanral se dagvaardings vir onbetaalde e-tolgeld onwettig laat verklaar. Hulle gaan die saak wen, sê hy vol selfvertroue.

“Daar bestaan nie iets soos ’n waterdigte saak nie, maar ons is geweldig vol vertroue dat ons dit nie kán verloor nie. Die prosesse wat gevolg is, is wetlik vol gate.”

Uit Outa se sentrale fonds gaan maandeliks 40% van hul inkomste aan bedryfskoste. “Die res word weggebêre vir regskoste.”

En die honderdrande wat mense vir die e-tol-hofsaak gegee het, versmelt nou in Outa se wyer visie en word gebruik vir ander sake.

“Onthou, die e-tolproses gaan nog steeds aan. Ons beskerm steeds ons ­lede en veg terug teen Sanral.”

Mense vra hom heeltyd hoekom Outa nie ’n belastingrewolusie begin nie.

Dis moeilikheid soek, sê Ben. “As mense eers ophou betaal, kry jy hulle baie moeilik – selfs met ’n nuwe ‘skoon’ regering – weer aan die betaal.”

Soms maak korrupsie se syfers hom naar.

Soms maak korrupsie se syfers hom naar.

“Ons regering gooi ’n duisend miljoen rand rond asof dit níks is nie. Dink jou in: As R600 miljoen vir Tril­lian betaal is vir geen werk nie, hoeveel wins het McKinsey nie gemaak uit ’n R1,6 miljard-kontrak nie . . .

“Ons het R50 miljard geblaas op lokomotiewe waarvan R5,2 miljoen gesteel is vir ’n middelman.

“Syfers, syfers, syfers . . . Ons het ’n berugte president wat niks anders in sy visier het as baie geld nie.”

En dís hoekom hierdie grysbaard donkernag sy oë oopmaak en hardloop om by die werk te kom.

Meer oor:  Ben Theron  |  Korrupsie  |  Outa  |  E-Tol  |  Sanral
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.